
Op Bybel En Gebed se Facebook-groep vra ek die vraag: Waarmee sukkel jy die meeste wanneer dit by Bybelstudie kom? Elke nou en dan kry ek die antwoord: Ek sukkel om te fokus/konsentreer. In hierdie artikel gaan ons gesels oor 9 dinge wat jy kan doen om jou te help om te fokus wanneer jy Bybelstudie doen.
VRA GOD OM JOU TE HELP.
Hierdie is seker voor die hand liggend, maar ons vergeet soms daarvan.
Wanneer jy gaan sit om Bybelstudie te doen, begin met gebed. Dit hoef nie ‘n lang gebed te wees nie. Loof God vir een van Sy karaktertrekke en sê vir Hom dankie vir iets wat Hy onlangs vir jou gedoen het.
Vra Hom dan om jou te help om te fokus en te konsentreer. Gee alles wat jou pla in Sy hande oor.
Dit sal jou help om van die begin af op Hóm te fokus.
KIES ‘N GESKIKTE OMGEWING.
Die plek waar jy Bybelstudie doen, kan ‘n groot invloed hê op jou fokus en konsentrasie.
Ek het ‘n gunsteling koffiewinkel waar ek gereeld gaan koffie drink. Daar speel altyd musiek en daar is heeltyd die onderlangse geluide van mense wat gesels en koffie wat gemaak word.
Sien jy dat dit nie ‘n goeie idee is om so ‘n plek te kies vir Bybelstudie nie?
Kies dus vir jou ‘n plek waar dit stil en rustig is. As geluide van buite jou pla, kan jy altyd oorfone opsit en na musiek luister. Maak net seker dis nie musiek wat woorde het nie, want dit gaan ook jou aandag aftrek.
Maak seker jy het ‘n gemaklike stoel. Jy wil darem nie heeltyd rondskuif omdat die stoel ongemaklik is nie!
Party mense is gemaklik daarmee om met ‘n Bybel en notaboek op hulle skoot te sit. Ander verkies om ‘n tafel te hê waar hulle alles kan neersit wat hulle gaan nodig kry. Doen wat ookal vir jou die beste is.
Nog ‘n goeie idee is om altyd op dieselfde plek Bybelstudie te doen. As jy daar gaan sit, gaan jou brein ‘weet’ dis nou tyd vir Bybelstudie en jy gaan dadelik meer gefokus wees.
KIES ‘N GOEIE TYD.
Elkeen van ons het ‘n tyd van die dag waar ons optimaal kan fokus. Dís die tyd van die dag wanneer jou brein op sy beste werk.
As jy kan, skeduleer jou studietyd gedurende daardie tyd. Jy wil darem wakker genoeg wees en inneem wat jy leer!
As dit moontlik is, doen jou studies elke keer op dieselfde dag en dieselfde tyd. Net soos met die wenk hierbo, gaan dit jou brein ‘leer’ dat dit die tyd vir Bybelstudie is.
Maar moenie bekommerd wees as dit nie so kan werk nie. Onthou, dis net ‘n idee wat jou kan help om te fokus wanneer jy Bybelstudie doen. Dis nie ‘n reël nie!
VERWYDIG GOED WAT JOU AANDAG KAN AFTREK.
Soms is al die dinge wat ons aandag aftrek die grootste rede waarom ons nie kan fokus nie.
Jou selfoon, die Internet, die radio of TV wat aan is – alles is dinge wat jou aandag aftrek en jou fokus steel. Raak dus sover moontlik van hierdie aandagaftrekers ontslae.
Skakel die radio of TV af.
Sit jou selfoon op ‘silent’. Of, nog beter, los dit in ‘n ander vertrek. Op dié manier sal jy nie in die versoeking beland om gou op jou foon te kyk as jy ‘n geluid van sy kant hoor nie.
Doen jou studies uit ‘n fisiese Bybel in plaas van om die Bybel app op jou foon of rekenaar te gebruik. Dit sal jou weereens uit die versoeking hou om vinnig op Facebook of Instagram te gaan.
Dalk is daar ander dinge waarmee jy sukkel wat jou aandag aftrek. Wat dit ookal is, probeer om dit te verwyder uit die vertrek waar jy Bybelstudie doen.

HOU PAPIER EN PEN BYDERHAND.
As jy al van my vorige artikels oor Bybelstudie en Bybelstudie-metodes gelees het, sal jy weet ek skryf altyd dat jy ‘n notaboek en pen moet hê om neer te skryf wat jy leer.
Maar hierdie wenk is vir iets heel anders!
As jy fokus verloor omdat jy dink aan dinge wat jy nog moet doen, hou dan ‘n ekstra vel papier byderhand waarop jy sulke dinge kan neerskryf.
Elke keer wat daar ‘n “Ek moet onthou om te…”-gedagte in jou kop kom, skryf dit neer. Op dié manier gaan jy nie daarvan vergeet nie. Jy sal dan weer kan fokus op die Bybelstudie waarmee jy besig is.
IETS OM TE DRINK.
Dit is bewys dat ligte dehidrasie kan lei tot verswakte konsentrasie.
‘n Afname in konsentrasie en fokus is dus ‘n vroeë waarskuwingsteken dat dit tyd is om iets te drink.
Daarom is dit altyd ‘n goeie idee om iets te drinke byderhand te hê wanneer jy Bybelstudie doen. As jou glas water klaar op die tafel by jou staan, hoef jy nie op te staan en jou studietyd onderbreek wanneer jy agterkom jou konsentrasie loop laag nie.
RUSTYD IS BELANGRIK.
Nie almal doen vir ‘n uur of twee aaneen Bybelstudie nie. Maar as jy beplan om so ‘n lang studietyd te skeduleer, moenie vergeet om tussen-in te rus nie.
Stel die alarm op jou selfoon om te lui sodat jy weet dis tyd vir ‘n ruskans. Staan op en stap ‘n bietjie rond. As jy kan, doen vir ‘n rukkie iets wat nie baie konsentrasie en breinkrag verg nie.
Dit gee jou brein weer energie en help jou om van nuuts af te fokus.
MAAK AANTEKENINGE.
Ek het jou gewaarsku, en hier is dit nou! Die volgende wenk om jou te help om te fokus wanneer jy Bybelstudie doen, is om aantekeninge te maak. Jy kan dit in ‘n notaboek maak of sommer direk in jou Bybel.
Omkring woorde wat vir jou uitstaan. Gebruik verskillende kleurpotlode of ‘highlighters’ om spesifieke woorde te merk. Skryf vrae neer wat jy oor die teks het. En moenie vergeet om neer te skryf wat jy leer nie.
Hierdie dinge help jou om aktief betrokke te wees by jou studies. Dit sal jou help om dinge raak te sien wat jy dalk andersins sou miskyk. En dit sal jou help om meer gefokus wees op wat jy doen sodat jou gedagtes nie dwaal.

LEES EN BID HARDOP.
Hierdie wenk is dalk meer geskik vir wanneer jy jou Bybel lees, eerder as studeer. Maar as jy sukkel om te fokus wanneer jy Bybelstudie doen, kan jy dit altyd ook probeer.
Lees die gedeelte wat jy gaan studeer ‘n paar keer hardop deur.
Wanneer jy iets neerskryf, sê hardop vir jouself wat jy neerskryf.
As jy ‘n vraag oor die gedeelte het, bid sommer dadelik hardop en vra die Here daardie vraag.
Party mense leer beter wanneer hulle iets hoor in plaas van dit net lees. As jý een van daardie mense is, dan gaan hierdie wenk jou nie net help om te fokus nie; dit gaan jou ook help om beter te onthou wat jy geleer het.
WAT GAAN JY DOEN?
Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat jy kan doen om jou te help om te fokus wanneer jy Bybelstudie doen.
Kies vir jou een en probeer dit volgende keer. Of kies ‘n paar. Kyk wat werk en wat werk nie.
Dalk is daar net een ding wat jy hoef te doen – soos om jou selfoon op ‘silent’ te sit. Miskien is daar ‘n paar dinge wat jy moet doen.
Maar probeer hierdie wenke en vind uit wat gaan jou help om te fokus wanneer jy Bybelstudie doen.

goeie dag Kan u my Meer laat weet inverband bybel study wat ek nodig het
asb
Chris Miller
0712301031
Chris, hier is ‘n paar artikels wat jou kan help:
Bybelstudie-hulp vir beginners – https://www.bybel-en-gebed.co.za/bybelstudie-hulp-vir-beginners/
Bybelstudiewenke vir beginners – https://www.bybel-en-gebed.co.za/bybelstudiewenke-vir-beginners/
10 Wenke om ‘n Bybelstudie roetine te begin – https://www.bybel-en-gebed.co.za/10-wenke-om-n-bybelstudie-roetine-te-begin/
Risa Sal net graag Wil hoor.- ek het die 1983 Bybel is daar Ander Bybel wat meer verduidelik asb
Henna, ek stuur vir jou ‘n e-pos sodat ons kan gesels.
Baie dankie dis so al asof jy noem waarmee ek baie sukkel baie dankie
Bly dit help jou!