
Die Bybel het baie te sê oor jou identiteit in Christus. Dit praat ook oor die dinge wat God in Christus vir jou gegee het. En dan leer dit ons ook van al die dinge wat ons kan doen, omdat ons kinders van God is.
Joel Osteen se gemeente begin elke diens met hierdie geloofsverklaring: “This is my Bible. I am what it says I am. I have what it says I have. And I can do what it says I can do.”
Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na wat die Bybel sê oor jou identiteit in Christus. Ons gaan kyk wie ons is, wat ons besit en wat ons kan doen omdat ons aan Jesus behoort.
JOU IDENTITEIT IN CHRISTUS.
Jy is….
- ‘n Kind van God (Johannes 1:12).
- Voor God geregverdig (2 Korinthiërs 5:21).
- Die tempel van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 6:19).
- Deur God gesalf (1 Johannes 2:27).
- ‘n Erfgenaam van God (Romeine 8:17).
- Geseën met elke geestelike seëning in die hemel (Efesiërs 1:3).
- Een gees met die Here (1 Korinthiërs 6:17).
- Vry van veroordeling (Romeine 8:1).
- Uit God gebore en die Bose kan niks aan jou doen nie (1 Johannes 5:18).
- God se maaksel, in Christus geskep vir goeie werke (Efesiërs 2:10).
- Sit saam met Jesus in die hemel (Efesiërs 2:6).
- Geseën met alles wat nodig is vir ‘n godvresende lewe (2 Petrus 1:3).
- Dood vir die sonde, maar lewend vir God (Romeine 6:11).
WAT JOUNE IS AS KIND VAN GOD.
Jy besit….
- Die Heilige Gees (Johannes 14:16-17).
- Die denkwyse van Christus (1 Korinthiërs 2:16).
- Deur salwing van die Heilige Gees en jy ken die waarheid (1 Johannes 2:20).
- Guns by God en mense (Lukas 2:52).
- ‘n Gees van krag, liefde en selfbeheersing (2 Timotheus 1:7).
- Deel aan die heiliges se erfdeel in die lig (Kolossense 1:12).
- Toegang tot die troon van genade (Hebreërs 4:16).
- Verbondenheid aan die Vader, die Seun, en ander gelowiges (1 Johannes 1:3).
- Bevryding en vergifnis van sonde (Kolossense 1:13-14).
- Vrede by God (Romeine 5:1).
- Genesing (1 Petrus 2:24).
- Kosbare en grootse beloftes, sodat jy deel kan kry aan die goddelike natuur (2 Petrus 1:4).
WAT GOD JOU IN STAAT STEL OM TE DOEN.
Jy kan….
- Enige iets hanteer, omdat Jesus jou die krag gee (Filippense 4:13).
- Siekes genees, dooies opwek en demone uitdryf (Mattheus 10:8).
- Met vrymoedigheid die troon van genade nader (Hebreërs 4:16).
- Ontferming en genade ontvang om op die regte tyd gehelp te word (Hebreërs 4:16).
- Dieselfde werke doen as wat Jesus gedoen het, en nog groter dinge, omdat Hy by die Vader is (Johannes 14:12).
Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat die Bybel noem oor jou identiteit in Christus, en al die wonderlike dinge wat joune is omdat jy aan Hom behoort.
Ek glo dat dit vir jou ‘n kykie gegee het op die wonderlike werk wat God in jou lewe gedoen het, toe jy weer gebore is.
Ek stel voor dat jy ‘n mini-Bybelstudie doen oor elkeen van die verse, sodat dit in jou hart kan insink.
Onthou, jy is wie God sê jy is.
Jy besit alles wat Hy sê aan jou behoort.
En jy kan doen wat Hy jou in staat stel om te doen.
Glo dit en leef van nou af in jou identiteit in Christus!
MOONTLIKE VRAE VIR ‘N MINI-BYBELSTUDIE.
- Wat leer die vers my oor God?
- Wat leer die vers my oor myself?
- Is daar iets wat ek moet glo, wat ek nie voorheen geglo het nie?
- Is daar ‘n aksiestap wat ek, na aanleiding van die vers, in my lewe moet neem?
- Waar in die Bybel word daar nog gepraat oor dit wat ek hier leer?
