WEERSTAAN DIE DUIWEL, HY STEEL DIE WOORD

Weerstaan die duiwel wanneer hy die Woord wil steel

Het jy geweet die duiwel wil die Woord, wat jy met jou Bybelstudie en Bybellees in jou hart gesaai het, by jou steel? Vandag gaan ons gesels oor hoe hy dit doen en ook hoe jy hom moet weerstaan.

DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER.

In Mattheus 13:1-9 lees ons die gelykenis van die saaier.

Ons hoor hoe die saaier saad saai op verskillende tipes grond.

Die eerste drie tipes lewer geen oes nie, maar die vierde tipe lewer ‘n goeie oes.

Na Jesus die gelykenis vertel het, verduidelik Hy die betekenis daarvan (vs.19-23).

Nou leer ons dat die saaier die Woord saai, maar die duiwel wil dit steel.

Hy stel nie belang in jou geld, kinders of gesondheid nie.

Al wat vir hom van belang is, is die Woord.

As hy dít kan steel, is die res van jou lewe vir hom kinderspeletjies.

DIE WAARDE VAN DIE WOORD.

Daar is sommer baie redes waarom die Woord belangrik en waardevol is. Hier is vier van hulle:

Die Woord is gees (Johannes 6:63) en waarheid (Johannes 17:17). As ons die Woord ken, sal die duiwel ons nie met sy leuens kan mislei nie.

Die Woord is geestelike voedsel. In Mattheus 4:4 lees ons hierdie woorde van Jesus: “Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.”

Dit is die Woord wat geloof in ons harte wek. Ons sien dit in Romeine 10:17: “Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.”

En laastens, die Woord is die swaard van die Gees. In Efesiërs 6:17 staan daar: “Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God.”

Sien jy waarom die duiwel die Woord wil steel? Daarom is dit baie belangrik dat ons leer hoe om hom te weerstaan wanneer hy dit wil doen.

MANIERE HOE DIE DUIWEL DIE WOORD STEEL.

In die gelykenis van die saaier leer Jesus vir ons presies hoe die duiwel die Woord steel. En as een manier nie werk nie, gaan hy ‘n ander een probeer.

IEMAND WAT NIE VERSTAAN NIE.

Die duiwel steel die Woord wanneer ons dit nie verstaan of moeite doen om dit te probeer verstaan nie.

Weerstaan die duiwel: Die eerste manier om hom hiér te weerstaan, is om die Heilige Gees te vra om jou te help verstaan. Hy is die Gees van die waarheid, wat gestuur is om jou te leer. Hy sal jou help verstaan as jy Hom vra.

Spandeer dan tyd met die stuk wat jy nie verstaan nie en studeer dit. Gebruik ‘n Bybelstudie-metode waarmee jy vertroud is en wat vir jou werk.

Vertrou dan die Heilige Gees om jou te help met jou studies dat Hy jou sal help verstaan.

PROBLEME.

Jesus noem hierdie manier waarop die duiwel die Woord steel nie pertinent nie, maar dit is ‘n taktiek wat hy graag gebruik.

Hoe werk die taktiek? Hy bring omstandighede teen jou wat dít wat die Woord sê, weerspreek.

Hy steel dan die Woord deur jou sover te kry om jou fokus te skuif van die Woord na die omstandighede wat jy kan sien, hoor en voel.

Weerstaan die duiwel: Hou jou oë gerig op die Woord. Lees dit, studeer dit en spreek dit hardop oor jou lewe.

Fokus op God en Sy Woord in plaas van om op die probleem te fokus. Op dié manier sal jy Hom en die Woord groter maak in jou oë as die probleem.

VERDRUKKING OF VERVOLGING.

Nog ‘n taktiek van die duiwel is verdrukking en vervolging.

Hy gaan die Woord probeer steel deur seker te maak jy word vervolg of verdruk vir die Woord wat jy glo.

En hy is baie slinks, want hy gaan nie noodwendig onbekendes gebruik nie.

Nee, hy gaan die mense naaste aan jou – jou eie familie en vriende – teen jou gebruik.

Mense verstaan nie altyd wanneer ‘n gelowige God vir iets vra en dan op die beloftes van Sy Woord staan om dit te ontvang nie.

Jou familie en vriende mag dalk nie verstaan nie, veral as hulle ongelowiges is.

En, omdat hulle nie verstaan nie, kan hulle jou probeer beïnvloed deur vir jou te vertel dit is dwaas om te glo God gaan Sy beloftes nakom. Hulle kan selfs dreig om nooit weer met jou te praat as jy nie ophou om die Woord te glo nie.

Weerstaan die duiwel: Jesus het ons egter gewaarsku ons gaan vervolg word as ons vir Hom wil leef (Markus 10:29-30; 2 Timotheus 3:12).

Vervolging is iets wat gaan kom, maar ons moet bid vir ons vervolgers en hulle seën.

Ons moet ook aanhou om die Woord te glo selfs al word ons daarvoor vervolg. Dan sal die duiwel nie die Woord kan steel nie.

BEKOMMERNIS VAN HIERDIE WêRELD.

Die duiwel se volgende taktiek is om die bekommernisse van die wêreld baie groter te laat lyk as wat dit regtig is.

Daardeur wil hy jou weereens sover kry om dit wat jy uit die Woord geleer het, te laat gaan.

Moenie daarvoor val nie.

Weerstaan die duiwel: Onderwerp jouself in nederigheid aan die kragtige hand van God. Dit beteken jy word stil voor die Here en jy erken jy kan nie vir jouself sorg en na jouself omsien nie.

Moenie langer probeer om die bekommernis self te dra nie. Werp dit op God.

Jy kan Hom vertrou om vir jou te sorg, want Hy gee om vir jou. Op presies die regte tyd sal Hy jou oprig en jou moedig, sterk en standvastig maak (1 Petrus 5:6-7.

Hou jy maar net jou oë gefokus op die Here en Sy Woord en moenie dit laat gaan nie!

DIE VERLEIDING VAN RYKDOM.

Die laaste taktiek van die duiwel waarvan ons lees in die gelykenis van die saaier, is die verleiding van rykdom.

God is nie daarteen gekant dat mense ryk is nie. Jy hoef maar net die Bybel te lees om te sien hoeveel mense Hy met rykdom geseën het. Daar is Abraham, Dawid, Salomo, Jakob en Job, om maar ‘n paar te noem.

Maar rykdom kan ‘n probleem raak wanneer geld ons fokus raak en ons dit probeer bymekaar maak sonder om God te vertrou om dit vir ons te voorsien.

Die Here belowe oral in die Bybel dat Hy vir ons sal sorg en ons in oorvloed sal seën.

Die duiwel gaan egter probeer om jou aandag af te trek van die Woord. Hy wil hê jy moet ongeduldig raak sodat jy God se beloftes van sorg en seën eenkant toe skuif. Hy wil hê jy moet jou sukses en seën in jou eie hande neem en jou eie planne maak hoe jy dit in die hande gaan kry.

Weerstaan die duiwel: God belowe om vir ons te sorg en ons te seën. Jy moet egter daardie beloftes glo voordat hulle ‘n werklikheid in jou lewe gaan word.

Soms gaan dit tyd neem voor ‘n belofte vervul word. Ons weet almal dit neem tyd vir saad om te groei. Jy plant dit nie vandag en môre het jy al ‘n oes nie. Dit neem tyd vir die saad om te ontkiem en te groei. As jy egter geduldig is, sal jy die saad sien opkom en dit sal ‘n oes lewer.

Net so moet jy aanhou glo dat God se beloftes waar is en dat Hy dit sal nakom, selfs al neem dit tyd.

BLY GEFOKUS OP DIE WOORD.

God het die saad van die Woord vir ons gegee. Ons saai dit in ons harte deur dit te lees, te studeer, na preke te luister, ensovoorts.

Daarom moet ons seker maak die grond van ons harte is goeie en vrugbare grond, wat ‘n groot oes kan lewer.

Ons moet die duiwel weerstaan wanneer hy probeer om ons aandag af te trek sodat ons nie meer die Woord glo nie.

Hy kan die Woord steel wanneer ons ophou om daarop te fokus.

As ons op ons probleme en bekommernisse fokus, kan hy die Woord steel.

Dinge soos verdrukking en mense wat ons vervolg kan ook veroorsaak dat ons fokus verloor, sodat hy die Woord kan steel.

En laastens kan die begeerte na rykdom vir ons ‘n struikelblok raak en ook dán kan hy die Woord kom steel.

Moet dus nie fokus verloor nie.

Hou jou oë, hart en gedagtes gefokus op God en die beloftes van Sy Woord.

Hou aan om Hom te vertrou en te glo dat Hy Sy beloftes sal nakom, selfs wanneer alles in jou lewe lyk of dit nie gaan gebeur nie.

Moenie toelaat dat die duiwel die Woord op enige manier by jou steel nie.

Gebruik jou skild van geloof om sy vurige pyle te blus (Efesiërs 6:16).

Gebruik die Swaard van die Gees om die waarheid in die situasie in te spreek.

En hou aan om die Woord te glo tot jy die oes sien wat die Here jou belowe het!

LEES OOK: SES EIENSKAPPE VAN ‘N GOEIE GROND HART

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *