WANNEER DIT MOEILIK IS OM TE BID

Daar is verskeie dinge wat veroorsaak dat dit moeilik is om te bid. Mag hierdie oordenking jou bemoedig en jou help om in elk geval by God stil te word, selfs al is dit moeilik om te bid.

Wanneer dit moeilik is om te bid

Het jy al dae beleef waar dit nie maklik was om te bid nie?

‘n Mens sukkel met gebed wanneer jy hartseer is of siek voel.

Jy sukkel wanneer daar dinge is wat jy nie verstaan nie of wanneer jy weet jy het iets aangevang wat jy wéét jy nie moes doen nie.

Woorde kom swaar wanneer ‘n mens moedeloos is, die duiwel kommer soos ‘n wortel voor jou neus hou, of wanneer jy die dag sommer net nie lus voel vir die lewe nie.

Op sulke dae wil ‘n mens net by die Here gaan sit en jou hart uithuil.

Of jy wil, soos Dawid, vir die Here vertel presies hoe jy voel en jou hart uitpraat.

En soms wil jy net stil wees, niks sê nie, want jy het nie woorde nie, en voel hoe God se liefde jou toevou soos ‘n warm kombers. Jy wil voel jy is veilig by Hom, Hy verstaan, en Hy gee om.

NADER STEEDS TOT GOD.

As een van genoemde jóú vandag beskryf, weet dan dat die Here met ope arms vir jou wag.

Deur Jesus Christus het jy ‘n verhouding met God, en in ‘n verhouding praat ‘n mens jou hart uit en verduidelik jy hoe jy voel.

In ‘n verhouding huil ‘n mens soms terwyl jy ander kere uitbundig saam lag.

‘n Verhouding vra nie heeltyd vir woorde nie, selfs al is kommunikasie baie belangrik, maar ook dat ‘n mens net stil by mekaar kan wees.

‘n Goeie verhouding is die één plek waar ‘n mens veilig voel, waar jy weet die ander persoon verstaan en gee om vir jou.

As dít is hoe ‘n verhouding met ‘n gewone mens werk, hoeveel te meer nie ons verhouding met God nie?

So, as jy vandag, om watter rede ookal, sukkel om woorde te vind vir gebed, word net stil by die Here en laat Hom toe om jou lief te hê.

Ervaar Sy teenwoordigheid en hoe Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, van jou besit neem.

Huil as jy wil huil. Stort jou hart voor Hom uit as jy daarna voel.

Maar maak seker dat, selfs al voel jy dalk nie daarna om te bid nie, jy tyd by Hom spandeer.

GOD WIL MET JOU PRAAT.

Jý het dalk nie woorde om vir Hóm te sê nie, maar Hy het soveel wat Hy met jou wil deel.

God wil jou vertel van Sy liefde, hoe Hy jou wil seën, versorg en beskerm.

Hy wil Sy wysheid met jou deel en vir jou antwoorde gee sodat jy weet hoe om jou probleme te hanteer.

Verder wil Hy jou daaraan herinner dat jy kosbaar is vir Hom en dat jy waarde het, selfs al sien ander, of jyself, dit nie raak nie.

Hy wil jou weer bewus maak daarvan dat Hy ‘n plan en doel vir jou lewe het, en dat daar nog baie dinge is wat jy en Hy saam gaan doen.

Dus, soek vir jou ‘n plekkie waar jy alleen kan wees, waar niemand jou gaan pla nie, en word stil by Hom.

Hy wag vir jou!

LEES OOK: 15 VERSE WAT HOOP GEE

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *