
Ons het in die vorige artikel gesels oor die vers-vir-vers Bybelstudie-metode. Dis ‘n metode wat jy kan gebruik wanneer jy ‘n gedeelte in die Bybel letterlik vers-vir-vers wil studeer.
‘n Mens doen dit deur, eerstens, die vers in jou eie woorde oor te skryf.
Dan vra jy vrae oor die teks, gee antwoorde op die vrae en skryf dinge wat jy in die teks waarneem, neer.
Volgende soek jy ‘n paar kruisverwysings vir woorde of frases in die vers.
Dan skryf jy nog waarnemings, woorde of name wat jy nageslaan het en wat dit beteken en enige ander gedagte wat by jou opkom oor die vers wat jy studeer, neer.
En laastens skryf jy neer hoe jy, wat jy geleer het, in jou eie lewe kan toepas.
1 TIMOTEUS 1:1-2 BYBELSTUDIE.
Noudat jy ‘n oorsig het van hoe die vers-vir-vers metode werk, gaan ons kyk na die eerste twee verse van 1 Timoteus 1, sodat jy presies kan sien hoe om so ‘n Bybelstudie te doen.
VERS WAT EK STUDEER.
1 Timoteus 1:1: Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus, in opdrag van God, ons Verlosser, en van Christus Jesus, ons hoop…
VERS IN MY EIE WOORDE.
Paulus, wat gestuur is as Christus se verteenwoordiger, soos God, die Een wat ons red, opdrag gegee het, en Christus Jesus, ons hoop…
VRAE, ANTWOORDE, WAARNEMINGS.
V. Wat beteken die woord ‘apostel’?
A. Die Griekse woord ‘apostolos’ kom van die werkwoord ‘apostello’, wat ‘gestuur’ beteken. Apostel beteken dus gestuurde.
W. God die Vader, in plaas van Jesus Christus, word die Verlosser genoem.
KRUISVERWYSINGS.
Apostel: 1 Korinthiërs 1:1; 2 Korinthiërs 1:1; Galasiërs 1:1.
God my Verlosser: Lukas 1:47; Titus 1:3.
Christus ons hoop: Kolossense 1:27.
INSIG.
- Paulus is ‘n Latynse naam wat klein of nederig beteken.
- Timoteus beteken hy wat God eer.
- Timoteus het vir Paulus geken, so hy het nie nodig gehad om te noem hy is ‘n apostel nie. Dalk was andere veronderstel om ook die brief te lees.
HOE KAN EK DIT TOEPAS.
Ek is Jesus Christus se ambassadeur hier op aarde, wat Sy boodskap moet uitdra. Hoe meer ek bewus is van hierdie missie, hoe effektiewer gaan my getuienis wees.
1 TIMOTEUS 1:2.
VERS WAT EK STUDEER.
1 Timoteus 1:2: …aan Timoteus, my ware kind in die geloof: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here.
VERS IN MY EIE WOORDE.
Aan Timoteus, my ware seun in die Christelike geloof. Mag die genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus altyd joune wees.
VRAE, ANTWOORDE, WAARNEMINGS.
V. Het die naam Timoteus ‘n spesiale betekenis?
A. Dit beteken hy wat God eer.
KRUISVERWYSINGS.
My kind: 2 Timoteus 1:2.
Christus Jesus: 1 Timoteus 1:15; Kolossense 1:4; Filippense 1:1.
INSIG.
- Mashiach is die Hebreeuse woord vir Messias. Die Griekse woord is Christo. In Afrikaans gebruik ons beide Messias en Christus. Dit beteken die gesalfde van God.
- Die naam Jesus is afkomstig van die naam Josua en beteken Verlosser.
HOE KAN EK DIT TOEPAS.
Timoteus beteken hy wat God eer. Ek wil my lewe só leef dat ek ook altyd vir God eer.
GEDEELTES WAT JY KAN STUDEER.
Noudat jy gesien het hoe ‘n mens ‘n vers-vir-vers Bybelstudie doen, is dit tyd om self te probeer.
Ons het die eerste twee verse van 1 Timoteus 1 studeer. Nou is dit jou beurt om die res van die hoofstuk te studeer.
Onthou, dis nie nodig om al die verse op een slag te studeer nie. Doen soveel soos jy kan en gaan dan later aan met die res.
Jy kan ook van die ander korter briewe, soos 1 Johannes, Filippense en Kolossense, gebruik vir jou studies.
Baie seën vir jou studies en laat weet my in die kommentaar of jy van hierdie metode hou.

Goeie dag, ek het rukkie gelede begin om Bybelstudies te doen.
Eks op soek na vers by vers Bybelstudie gids in Hebreers.
Kan julle my help om die regte hulpmiddel af te laai daarvoor ?
groete, Karen
Karen, ek stuur vir jou ‘n e-pos daaroor.
ja ek hou baie van die bybel studie sessie ek wil nog baie meer leer om verstandig te raak in die woord
Goeie more,groete in JESUS NAAM.Ja ek hou van die studiemetodes dit is baie leersaam en as n ouderling in die bediening is dit baie belangrik om die volk die regte boodskap oor te dra met verduidelikings,dit is ook nie altyd moontlik om naslaan werk te doen sonder die nodige hulpmiddels nie en as n pensionaris is dit ook nie maklik om kop bo water te hou nie,maar GOD is GOD HY voorsien dag vir dag.U moet n geseende daggie he.GODBLESS.