
Elke Woensdag deel ek wenke vir Bybelstudie in Bybel En Gebed se Facebook-groep. As jy nog nie deel is van die groep nie, kan jy HIER aansluit.
Die wenke vir Bybelstudie bestaan gewoonlik net uit een of twee sinne, sodat dit maklik is om te onthou. Vandag gaan ons egter in meer detail na tien van hierdie wenke kyk.
Elke wenk gaan jou help om meer uit jou Bybelstudietyd te kry. Om jou te help onthou wat die wenke is wanneer jy Bybelstudie doen, het ek ‘n gratis Wenke Vir Bybelstudie-hulpmiddel saamgestel, wat jy HIER kan aflaai.
WENK 1:
Wanneer jy Bybelstudie doen, fokus op jou verhouding met God en om Hom beter te leer ken in plaas van die stappe wat jy volg. Die stappe is net ‘n hulpmiddel. God is die fokus.
Hierdie wenk is waar nie net van Bybelstudie nie, maar ook van alle ander geestelike dissiplines. Ons moet altyd ons verhouding met God ons hoogste prioriteit in enige geestelik dissipline maak. Sonder hiérdie fokus, is ons eintlik maar besig om te doen wat die Fariseers en Skrifgeleerdes gedoen het.
Hulle was so gefokus op die Wet, dat hulle God heeltemal misgeloop het. Ons fokus dalk nie op die Wet en die onderhouding daarvan, soos hulle gemaak het nie. Maar as ons God nie beter leer ken deur ‘n geestelike dissipline wat ons beoefen nie, en dit laat ons nie groei in ons verhouding met Hom nie, dan is ons besig om ons tyd te mors.
WENK 2:
Moenie jou verhouding met die Here met iemand anders s’n vergelyk nie. Dit mag jou dalk net verhinder om tyd met God te spandeer.
Elkeen van ons is op ‘n ander plek in ons verhouding met God. Party is al jare lank gelowiges. Hulle het al baie gegroei en het nie meer behoefte aan geestelike melk nie, maar aan vaste kos (Hebreërs 5:13-14).
Ander het maar onlangs by God uitgekom en is nog babas in die geloof. God moet nog ‘n pad met hulle stap en hulle voed met geestelike melk. Hy moet hulle baie dinge leer en hulle help groei tot geestelike volwassenheid.
Kan jy sien waarom dit nie ‘n goeie idee is om jou verhouding met God te vergelyk met iemand anders s’n nie? As jy sien jy is nog nie waar iemand anders is nie, kan jy moed verloor en nie meer tyd met God spandeer. En dit is juis in die tyd wat ons met Hom spandeer, waar ons gevoed en geleer word en waar ons geestelik groei.
WENK 3:
Daar is baie boeke wat oor die Bybel geskryf is, maar daar is net een Bybel. Wanneer jy Bybelstudie doen, bestudeer die Bybel, nie wat ander daaroor geskryf het nie.
Die meeste boeke op my boekrak is boeke oor die Bybel en hoe ‘n gelowige moet leef. Ek lees hulle graag en het al baie uit hulle geleer. En ek is elke dag dankbaar vir mense wat meer weet as ek, en wat die Here gebruik het om my te leer wat ek vandag weet.
Maar nie een van hierdie boeke is gelykstaande aan die Woord van God nie. Dit is wanneer ek stil word by die Here, met Sy Woord in my hand, wat ek die meeste leer. Hy voed my gees en gee my net wat ek nodig het vir die dag – wysheid, vreugde, vrede, nuwe insig, ensovoorts.
Dit is hoegenaamd nie verkeerd om boeke te lees wat handel oor die Bybel nie. Maar maak ‘n punt daarvan om op ‘n gereelde basis die Bybel te bestudeer. Laat die Heilige Gees toe om jou te leer wat jy moet weet!
WENK 4:
Voor jy met jou Bybelstudie begin, word stil by God en bely enige sonde waarvan jy bewus is. Dit herstel jou verhouding met God.
Onthou jy die storie van Adam en Eva? Na hulle ongehoorsaam was aan God, het hulle vir Hom weggekruip. Hoekom? Want hulle was skaam (Genesis 3:1-10).
Sonde het vandag steeds hierdie uitwerking op die mens. Wanneer ons weet ons het iets gedoen wat ons nie moes nie, kry ons skaam, en ons wil nie regtig in God se Teenwoordigheid verskyn nie.
Maar dit is juis wanneer ons in Sy Teenwoordigheid verskyn, en bely wat ons gedoen het, wat ons verhouding herstel word.
Kom dus met vrymoedigheid na Sy genadetroon. Onthou, Hy weet in elk geval wat jy gedoen het. Erken dat jy ongehoorsaam was en ontvang die vergifnis wat reeds joune is in Jesus Christus (1 Johannes 1:9).
WENK 5:
Konteks is baie belangrik in Bybelstudie. As jy ‘n vers nie verstaan nie, lees die konteks. Die paragraaf, hoofstuk en boek sal jou baie leidrade omtrent die betekenis gee.
Iemand het eendag in Engels oor konteks gesê: “If you take the text out of context, then you just end up with a con!”
Konteks is belangrik omdat dit verhoed dat ‘n mens dink ‘n vers sê iets wat dit glad nie sê nie.
Dit help jou ook om ‘n vers beter te verstaan.
Daar is oral in ‘n paragraaf, hoofstuk en boek sleutelwoorde of frases, en allerhande ander leidrade, wat jou gaan help om die teks te verstaan. Dit is nou mits jy altyd hou by die konteks!
WENK 6:
Wanneer jy besluit om ‘n hoofstukstudie in die Bybel te doen, maak seker dat jy eers ‘n agtergrondstudie van die betrokke boek doen. ‘n Studiebybel het gewoonlik notas voor elke hoofstuk wat jou hiermee kan help.
‘n Agtergrondstudie help jou verstaan vir wie die boek geskryf is en waarom.
Galasiërs is byvoorbeeld aan die gemeentes in ‘n gebied met die naam Galasië geskryf. Daar was ‘n groep mense, genaamd die Judaïseerders. Hulle was Christene wat vroeër Jode was. Hulle het geleer dat geloof in Jesus, asook die onderhouding van die Joodse wette en gebruike, noodsaaklik was vir redding. Paulus skryf dus die brief aan die Galasiërs om hulle daaraan te herinner dat daar net een ware evangelie is en hoe Christelike vryheid in die praktyk lyk.
As jy die agtergrond van Galasiërs in gedagte hou, gaan jy die boek soveel beter verstaan. Dit is natuurlik waar van elke boek in die Bybel.

WENK 7:
Vergelyk Skrif met Skrif terwyl jy studeer. Een gedeelte werp lig op ‘n ander. Dit verreik jou Bybelstudie-ervaring en antwoord jou vrae.
Daar is sommer heelwat kommentare oor die Bybel geskryf, maar die beste kommentaar is wat die Bybel oor homself sê. ‘n Vers in Levitikus kan lig werp op iets wat in die Evangelies geskryf staan. Of ‘n vers wat in Daniël geskryf is, kan jou meer leer oor iets wat in Openbaring geskryf is.
Wanneer jy ‘n vers raakloop wat jy nie verstaan nie, doen dan wat Harry Moorehouse gedoen het. Hy het sulke verse na God toe geneem in gebed en Hom gevra om dit aan hom te verduidelik. Dan het hy in sy Bybel rondgesoek na ander gedeeltes wat lig kon werp op daardie moeilike vers. Hy het gesê dat hy nooit ‘n moeilike vers gekry het, wat hy nie later verstaan het, omdat hy die Bybel gebruik het om die Bybel te verduidelik nie.
WENK 8:
‘n Belangrike deel van jou studieproses is om wat jy leer in jou eie woorde weer te gee. As jy die waarhede van die Skrif wil bemeester, skryf hulle neer in jou eie woorde.
‘n Mens orden jou gedagtes wanneer jy iets in jou eie woorde weergee. Dit help jou om te sien waar jy iets omtrent ‘n vers moontlik nog nie so mooi verstaan nie. Dit help ook om wat jy wél verstaan, verder in te skerp.
WENK 9:
Deel wat jy leer met ander. Dit skerp die les by jou ook in.
Jesus het gesê ons moet dissipels maak van alle nasies en dat ons hulle moet leer om te onderhou wat Hy beveel het. Dit beteken dat ons ongelowiges van Hom vertel, sodat hulle ook in Hom kan glo. Dit beteken ook dat ons dié dinge wat Hy ons leer in ons persoonlike tyd met Hom, met ander moet deel.
Wat die Here jou geleer het, kan ‘n ander persoon se lewe ook verander. Moet dus nie skroom om vir ander te vertel wat jy leer nie.
WENK 10:
Pas dit wat jy leer toe in jou lewe. Die Heilige Gees gebruik die Woord om ons lewens te verander. Hy het egter ons samewerking nodig!
In Jakobus 1:22 staan daar: “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.”
Om te weet wat die Woord sê, maar dit nie in jou lewe toe te pas nie, is om jouself te mislei. Daar gaan nooit enige verandering wees as jy nie begin doen wat jy leer nie.
Die Heilige Gees leer ons wat ons moet weet. Maar dan het Hy ons samewerking nodig. Dit is óns wat die besluit neem om gehoorsaam te wees. En dit is die Heilige Gees wat ons in staat stel om daardie gehoorsaamheid uit te leef.
Alleenlik wanneer ons saam met die Heilige Gees werk, en toepas wat ons geleer het, kan daar verandering in ons lewens plaasvind.
Ek vertrou dat hierdie tien wenke vir Bybelstudie jou met tyd in die Woord gaan help en dat dit vir jou tot groot seën gaan wees. Onthou om die gratis hulpmiddel HIER af te laai, sodat jy kan onthou wat elkeen van die wenke was.