
Ons het in vorige artikels gekyk na van die eerste boeke in die Bybel, en wat jy alles daaroor moet weet wanneer jy ‘n Bybelstudie oor die boek wil doen. Die inligting sal jou help om die boek so ‘n bietjie beter te verstaan. Vandag gaan ons kyk na Rut, die agtste boek van die Bybel.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Rut is die eerste boek in die Bybel wat na ‘n vrou vernoem is. Die naam beteken ‘vriend of metgesel’.
Dis interessant dat dit die agtste boek in die Bybel is, omdat die syfer 8 staan vir ‘n nuwe begin. ‘n Nuwe begin is beslis iets waarvan ons meer as een keer in Rut lees.
Dis ook interessant dat dié boek gedurende Shavuot (Pinkster) in Joodse sinagoges gelees word.
WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.
Die boek speel af op twee plekke, naamlik Moab en Betlehem.
Omdat daar van net een generasie gepraat word, dek dit ‘n tydperiode van ongeveer 20 tot 30 jaar.
WIE HET RUT GESKRYF?
Daar word aangeneem dat Samuel die skrywer van Rut was, hoewel niemand regtig seker is nie.
WAT SE TIPE BOEK IS RUT?
In die Hebreeuse Bybel was Rut aanvanklik aan die einde van Rigters en het dan ook deel gevorm daarvan. Maar later is die twee boeke geskei en het Rut deel gevorm van die digterlike boeke.
In ons Bybel is Rut deel van die historiese boeke.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Daar is vier redes waarom hierdie boek belangrik is.
- FISIES: Die boek wys ons dat Dawid die wettige koning van Israel was, selfs al was sy oumagrootjie ‘n Moabiet. Boas, sy oupagrootjie, was immers ‘n Israeliet uit die stam van Juda. (Boas – vader van Obed, vader van Isai, vader van Dawid). Saul was uit die stam van Benjamin.
Ons sien ook dat God genade en barmhartigheid betoon teenoor Naomi. Haar bitterheid verander in groot vreugde wanneer Obed gebore word.
- GEESTELIK: Hierdie boek wys ons God se plan met Israel, ‘n volk wat Hy vir Homself gekies het. Dit wys ons ook hoe Jesus (die Bruidegom) ‘n nie-Joodse bruid kry.
- VERLOSSING VERDUIDELIK: Die volgende belangrike konsep wat die boek ons wys is die idee van ‘n losser. ‘n Losser moes verarmde familielede wat skuldslawe geword het loskoop en weer hulle grond vir hulle teruggee. Sien jy vir Jesus in hierdie prentjie? Hy het ons sondeskuld betaal en ons deel gemaak van die familie van God.
- GOD AGTER DIE SKERMS: In hierdie verhaal sien ons ook hoe God agter die skerms werk. Ons is nie altyd bewus dat Hy daar is en dat Hy werk nie, maar op een of ander stadium gaan ons beslis kan sien dat Sy vingerafdrukke oral in elkeen van ons se lewensverhaal teenwoordig is.
HOOFTREKKE VAN RUT.
Die verhaal in die boek het vier episodes.
Eerstens lees ons hoe Naomi en haar man, Elimelek, met hulle twee seuns in Moab gaan bly het. Daar gaan Elimelek en die twee seuns dood. Na die droogte gaan Naomi en haar skoondogter terug Betlehem toe.
In die tweede episode sien ons hoe Rut op Boas se land graan bymekaar maak. Hulle ontmoet mekaar en Rut gaan vertel alles wat met haar gebeur het, vir Naomi.
In die derde episode lees ons dat Boas familie is en daarom na Naomi en Rut moet omsien. Naomi stuur vir Rut om Boas te vra om met haar te trou. Hy belowe dan ook om op die wettige manier iets omtrent die saak te doen.
In die vierde episode lees ons dat ‘n nader familielid afstand doen van sy reg om met Rut te trou. Boas trou met haar en daar word vir hulle ‘n seun gebore.
Die laaste gedeelte van hoofstuk 4 bestaan uit ‘n geslagsregister waar ons lees dat Boas die oupagrootjie van koning Dawid was.
GOD SE NAME.
Ons kry drie name van God in Rut.
Die eerste naam is HERE, wat sommer ‘n hele klomp keer gebruik word. Hierdie naam word altyd in ons Bybels in hoofletters geskryf en is vir die Jode die heiligste naam wat ‘n mens vir God kan gebruik.
Die tweede naam van God wat ons in Rut aantref is Almagtige. Die derde naam is ‘die God van Israel’.

GELOOFSLESSE UIT DIE BOEK.
Ons kan drie geloofsless uit die boek van Rut leer.
- God gebruik mense wat Hom vertrou om ander te seën.
- God seën diegene wat op Hom vertrou en wat hulleself aan Hom toewy.
- Dis nie jou omstandighede wat jou maak of breek nie, dis of jy geloof het of nie.
JESUS IN RUT.
Boas is ‘n pragtige beeld van Jesus, ons Losser.
Terwyl Jesus op aarde was is Hy net soos ons versoek, maar Hy het nooit gesondig nie. Toe het Hy die prys met Sy sondelose lewe betaal. Hy stort Sy bloed en word ons Offerlam.
Deur geloof in Hom is ons nou met God versoen. Ons is gered van sonde en die ewige dood. Ons is nou kinders van God en het die ewige lewe.
GEBRUIKE EN GEWOONTES IN ISRAEL.
In Rut lees ons van twee van die gebruike van Ou Israel.
Die eerste is die swaershuwelik. Dit was die gebruik dat, wanneer ‘n man sterf, sy vrou verplig was om met een van haar swaers te trou. Enige kind wat uit so ‘n huwelik gebore is, het die naam van die eerste man gedra. Hulle het ook alles geërf wat aan hom behoort het. Op dié manier het daar ‘n nageslag vir die eerste man gekom.
Die tweede gebruik was dat die familie die weduwee moes help. Hulle moes vir haar geld leen of haar man se eiendom by haar koop as sy dit nie verder self kon behartig nie.
In die verhaal van Rut sien ons hoe hierdie twee gebruike bymekaar uitkom wanneer Noami Rut na Boas toe stuur sodat sy hom kan vra om altwee hierdie verpligtinge teenoor haar na te kom.
UNIEKE FEITE.
Die betekenis van die name van die karakters en plekke in Rut is baie interessant.
Betlehem beteken byvoorbeeld ‘die huis van brood’. Dit herinner ons aan die land Israel, wat ‘n land van melk en heuning was.
Boas beteken ‘in hom is krag’. Hy is ‘n beeld van ons Here Jesus.
Daar is ook ‘n karakter in die verhaal wat nie ‘n naam het nie. Dis werker vir wie Boas vra wie Rut is en wat hulle twee basies aan mekaar voorstel. Hierdie werker is ‘n beeld van die Heilige Gees wat die Bruid van Christus aan Hom ‘voorstel’.
Soek gerus die res van die name op en kyk wat hulle beteken. Kan jy uit die name aflei wie of wat elkeen van die karakters verteenwoordig?

SLEUTELVERS IN RUT.
Ons kry die sleutelvers vir die boek in hoofstuk 2:12. Daar staan: “Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die Here, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.”
RUT IN JOU LEWE.
- Nadat Elimelek en sy seuns oorlede is, beskuldig Naomi God daarvan dat Hy teen haar gedraai en haar lewe bitter gemaak het. God antwoord nie dadelik of met besondere gebeure op haar klag nie. Maar ons sien dat Hy gewone dinge gebruik om vir haar ‘n groter toekoms te gee as wat sy ooit verwag het. Hieruit leer ons dat God ons hoor en ons op die regte tyd en die regte manier antwoord.
- God gebruik altyd mense in Sy werk. Hy gebruik diegene wat vir ander omgee en gewoonweg hulle plig doen om Sy wil in ander se lewens te bereik.
- Die ‘helde’ in die Bybelverhale is mense wat bereid is om ander te help selfs al is dit nie tot hulle eie voordeel nie. Hulle maak baie keer groot opofferings om ander by te staan, te help en hulle las te dra. En hulle eie lewe word vervul wanneer hulle ander se lewens vol maak deur die hulp wat hulle gee. Ek en jy kan ook ‘helde’ wees wanneer ons bereid is om saam met God te werk, op te offer, en ander te help.
- Naomi, Rut en Boas bring elkeen hulle kant om die probleem wat Noami en Rut het, op te los. Hieruit leer ons dat God vir ons sorg, maar Hy verwag ook dat ons ons deel doen.
VORIGE ARTIKELS.
Ek het skakels na al die vorige artikels oor die boeke van die Bybel op een blad gesit om dit makliker te maak om die artikels te kry.
As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.

Baie dankie vir die insig gewende en interresante opsomming van Rut. Dit is wonderlik dat jy hierdie met mede-gelowiges deel. Ek wil graag hierdie gebruik as agtergrond inligting vir ‘n Kreatiewe Bybelstudie oggend vir die dames in ons kerk, sal dit in orde wees?
Die Here seën jou in jou bediening.