
Daar is sommer baie dinge wat ‘n mens oor ‘n boek van die Bybel kan leer, wat jou gaan help om die boek en die boodskap daarin, beter te verstaan.
Jy kan ‘n agtergrond-studie doen. Dit gaan jou help om die geskiedkundige agtergrond, politieke agtergrond en kulturele agtergrond van die boek te verstaan.
Dan is daar ook dinge soos waar die boek afspeel, die tydperiode, die doel van die boek, ensovoorts wat jou kan help.
In hierdie artikel gaan ons kyk na 1 en 2 Samuel, en van dinge wat jy daaroor moet weet.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Die boek is vernoem na een van die hoofkarakters in die boeke, naamlik die profeet Samuel.
In Hebreeus is sy naam Sh’muel. Dit beteken: Sh’ma – om te hoor en El – God. Die naam Samuel beteken dus ‘om God te hoor‘.
In die Hebreeuse Bybel was 1 en 2 Samuel net een boek. In die Griekse vertaling (die Septuagint) is dit in twee boeke gedeel. Ons kry die naam vir die twee boeke uit die Latynse vertaling van die Bybel, die Vulgata.
WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.
Dele van die twee boeke speel af in die grondgebied van Israel terwyl ander in die grondgebied van Juda afspeel.
Dit dek ‘n tydperk van ongeveer 100 jaar van Samuel se geboorte tot net voor Dawid se dood.
WIE HET 1 EN 2 SAMUEL GESKRYF?
Daar word algemeen aanvaar dat Samuel die skrywer van dié twee boeke was. Maar daar is ook dele wat deur iemand anders geskryf is, omdat dit vertel van Samuel se dood en van gebeure daarna.
Sommige geleerdes dink hierdie dele is deur die profete Natan of Gad geskryf. Dit kon egter ook deur ander onbekende persone geskryf gewees het.
WAT SE TIPE BOEKE IS 1 EN 2 SAMUEL?
Hierdie twee boeke is geskiedenisboeke. Dit is ook oorgangsboeke tussen Rigters en Konings.
Dit beskryf die oorgang tussen die tydperk toe God die Koning was en Israel deur die Rigters gelei is en die tydperk toe Israel deur die konings regeer is.
DIE DOEL VAN DIE BOEKE.
Hierdie twee boeke het ‘n tweeledige doel – ‘n fisiese en ‘n geestelike een.
Die fisiese doel van die boeke is om te verduidelik hoe dit gebeur het dat daar konings in Israel begin heers het. Dit wys spesifiek op die koningskap van Dawid en sy nageslag.
Die geestelike doel is om ons te wys dat gehoorsaamheid aan God altyd seën in ‘n mens se lewe bring. En dit herinner ons daaraan dat jou persoonlike gehoorsaamheid ‘n invloed op die Liggaam van Christus het.
HOOFTREKKE VAN 1 EN 2 SAMUEL.
Dié twee boeke kan as volg ingedeel word:
Die lewe van Samuel – 1 Samuel 1-7.
Saul as die eerste koning van Israel – 1 Samuel 8-15.
Die opkoms van ‘n nuwe koning, naamlik Dawid – 1 Samuel 16-31.
Dawid bou aan ‘n koninkryk – 2 Samuel 1-10.
Dawid se sonde en die gevolg – 2 Samuel 11-24.
BELANGRIKE KARAKTERS IN 1 EN 2 SAMUEL.
Daar is nege belangrike karakters in hierdie twee boeke wat jy van moet weet.
Hanna – Sy was samuel se ma, wat aanvanklik kinderloos was. Maar, na sy tot God gebid het, gee Hy vir haar ‘n seun.
Eli – Hy was die hoëpriester van Israel. Sy seuns was priesters, maar het van God afvallig geraak.
Samuel – Hy is die oorgangsfiguur tussen die tyd van die Rigters en dié van die konings.
Saul – Hy was Israel se eerste koning. Hy het goed begin, maar ongelukkig tragies geëindig.
Dawid – Hy was ‘n skaapwagter wat later gesalf is tot Israel se tweede koning.
Natan – Hy was ‘n profeet wat Dawid ‘n oordeel oor homself laat uitspreek het.
Jonatan – Hy was Saul se seun en Dawid se vriend. Hulle vriendskap was vir hom baie belangrik, al het sy pa nie van Dawid gehou nie en die vriendskap afgekeur.
Batseba – Sy was Urija, een van Dawid se soldate, se vrou. Dawid pleeg met haar owerspel en vermoor haar man om dit toe te smeer. Later word sy die ma van Salomo.
Absalom – Hy was Dawid se seun. Sy eie ambisie laat hom in opstand kom teen sy pa. Dit beteken ook later sy ondergang.

GOD SE NAME.
In 1 Samuel 1:3 lees ons vir die eerste keer die naam YHVH Sebaót.
Dit beteken ‘HERE, Heerser oor alle magte‘.
GELOOFSLESSE UIT DIE BOEK.
Ons kan verseker ‘n hele paar geloofslesse uit 1 en 2 Samuel leer, maar die belangrikste een is dit:
God se plan sal altyd tot uitvoering gebring word, ongeag hoe mense teenoor Hom reageer en optree.
Maar – en dis ‘n groot maar! – jou reaksie teenoor God bepaal jou eie sukses of mislukking. Dit bepaal of jy die doel wat God vir jou in die lewe het gaan bereik of nie.
Samuel was byvoorbeeld gekies om God se profeet te wees. Hy was gehoorsaam aan God, het Sy plan vorentoe gevat en was ‘n instrument van seën in Sy hand.
Saul het egter ‘n ander paadjie gestap. Hy het meer as een geleentheid gehad om God te verheerlik, maar het gekies om ongehoorsaam te wees. Hy kies sy eie wil bo God s’n en sterf onder die oordeel van God. Sy lewe was dus nie so suksesvol nie.
Dawid se geleenthede was sy roeping. Hoewel hy baie probleme gehad het, het hy altyd positief teenoor God gereageer. Sy lewe was ‘n lewe van vooruitgang en seën – vir homself en vir die volk. Sy lewe was dus ‘n groot sukses.
JESUS IN 1 EN 2 SAMUEL.
Jesus is gebore uit die geslag van Dawid.
In die twee boeke sien ons Hom dan as die wortel of loot uit die geslag van Dawid (Jesaja 11:1-2 en Openbaring 22:16).
SLEUTELVERSE IN 1 EN 2 SAMUEL.
Die sleutelvers in 1 Samuel kry ons in hoofstuk 8. In verse 7 en 9 staan: “Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees… Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer.”
In 2 Samuel staan die sleutelvers in hoofstuk 5. In vers 12 staan: “Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel gevestig het en dat die Here sy koningskap aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.”
VORIGE ARTIKELS.
Ek het skakels na al die vorige artikels oor die boeke van die Bybel op een blad gesit om dit makliker te maak om die artikels te kry.
As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.
