
Ons is steeds besig om deur die Evangelie van Markus te werk. Hierdie week fokus ons op Markus 15, wat handel oor Jesus se kruisiging.
Maar voor ons daarby kom wil ek jou net gou herinner aan ‘n paar dinge wat ons reeds uit die boek geleer het.
WAT ONS REEDS GELEER HET.
In Markus 1:1 het ons baie duidelik gesien dat hierdie hele evangelie gaan oor Jesus, die Seun van God.
Ons het gesien hoe Jesus verduidelik dat die Koninkryk van God naby gekom het, en hoe Hy die mense meer oor die Koninkryk geleer het.
Verder het ons gesien dat alle mag aan Hom behoort het. Tog het Hy mense jammer gekry en medelye met hulle gehad. Hy het hulle gesond gemaak, bose geeste uitgedryf en hulle gevoed met fisiese en geestelike voedsel.
In Markus 3 het ons ook gesien dat Jesus 12 dissipels gekies het – Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek.
In Markus 10 het ons geleer dat Jesus nie gekom het om gedien te word nie. Hy het gekom om te dien en Sy lewe te gee as losprys sodat sondaars gered kan word.
Ons het ook gelees hoe die godsdienstige leiers heeltyd probeer het om Jesus vas te trek met hulle vrae. Hy het hulle egter elke keer ‘n wyse antwoord gegee en hulle planne gefnuik.
Laastens het ons in Markus 14 gelees hoe Judas aangebied het om Jesus te verraai. Hy groet Hom met ‘n soen en Jesus word gevange geneem.
VORIGE ARTIKELS OOR DIE MARKUS-EVANGELIE
JESUS VOOR PILATUS.
Markus 15 begin met die toneel waar die volle Joodse Raad ‘n vergadering hou.
Na die vergadering boei hulle vir Jesus en lei Hom na Pilatus. Hy was die Romeinse goewerneur en kon die besluit neem om Jesus te laat kruisig.
Daarvoor het hy egter bewyse nodig gehad van wat Jesus verkeerd gedoen het.
Die eerste ding wat Pilatus vir Jesus vra is, “Is Jy die Koning van die Jode?”
Hierop antwoord Jesus bevestigend.
Daarna beskuldig die Joodse leiers Hom van allerhande dinge, maar Hy verweer Homself nie. Dit verbaas Pilatus.
STILBLY IS SOMS DIE WYSE DING.
Jesus stel hier vir ons ‘n voorbeeld.
Mense gaan ons soms van dinge beskuldig wat ons nie gedoen het nie.
Soms is dit nodig om op te staan vir onsself en te bewys dat ons niks verkeerd gedoen het nie.
Ander kere is die wyse ding egter om stil te bly.

JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD.
In Markus 15:6 lees ons dat Pilatus die gewoonte gehad het om elke paasfees die gevangene van hulle keuse vir die mense los te laat.
Dit is dan ook presies wat hy nou doen.
Hy vra die mense wie hulle kies om losgelaat te word.
Die Joodse leiers stook die skare op om te vra vir Barabbas. Hy was in die tronk omdat hy tydens ‘n opstand moord gepleeg het.
Wanneer Pilatus vra wat hy met Jesus moet doen, skreeu hulle, “Kruisig Hom!”
Pilatus wil graag die mense hulle sin gee, daarom gee hy in. Hy laat vir Barabbas los, laat vir Jesus gesel en lewer Hom oor om gekruisig te word.
‘N LES VAN PILATUS.
Pilatus het geweet die Joodse leiers was jaloers op Jesus. In van die ander evangelies sien ons hy het ook geweet Jesus het niks verkeerd gedoen nie.
Maar vir hom was dit belangrik om in die mense se goeie boekies te bly.
Hy kies dus om hulle tevrede te stel, eerder as om die regte ding te doen en vir Jesus te laat gaan.
Ons is baie keer self in sulke situasies.
Dinge gebeur en dan moet ons kies – wil ons mense tevrede stel of vir God?
En soms kies ons ook om liewer te doen wat mense van ons verwag.
Ons moet uit Pilatus se fout leer. Ons moet kies om aan God gehoorsaam te wees eerder as om mense tevrede te stel.
JESUS WORD GESPOT.
Asof dit nie genoeg was dat Jesus gegesel word nie, neem die soldate Hom nou na die binnehof.
In Markus 15:16-20 lees ons dat hulle vir Hom ‘n pers mantel aangetrek het.
Hulle het ook ‘n doringkroon gevleg en op Sy kop gesit.
Hulle het Hom met ‘n stok oor die kop geslaan, gemaak of hulle voor Hom buig en Hom gespoeg en gespot.
Na al hierdie dinge het hulle Hom weggelei om Hom te kruisig.
JESUS WORD GEKRUISIG.
Volgende lees ons dan ook van die kruisiging.
Ons lees dat daar twee rowers weerskante van Jesus gekruisig is. Hulle, en die mense wat daar verby geloop het, het steeds met Jesus gespot.
Ook die godsdienstige leiers spot met Hom.
Hulle daag Hom uit om Homself te red en van die kruis af te kom.
As Hy dít kan doen, sê hulle, sal hulle in Hom glo.

JESUS KIES GEHOORSAAMHEID.
Jesus het op ‘n daaglikse basis tussen hierdie mense, wat Hom nou so spot, beweeg.
Hy het wondertekens voor hulle gedoen, maar tog het hulle nie geglo nie.
Hoewel Hy by magte was om van die kruis af te kom, kies Hy om daar te bly.
Hy kies om gehoorsaam te wees aan die Vader en Sy lewe vir ons af te lê.
JESUS STERWE EN WORD BEGRAWE.
Markus 15 eindig met Jesus wat sterwe en begrawe word.
In vers 39 lees ons dat, toe Hy Sy laaste asem uitblaas, een van die soldate gesê het, “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
Dan lees ons van Josef van Arimatea, ‘n volgeling van Jesus, wat Pilatus gaan vra vir Sy liggaam.
Hy draai Jesus se liggaam in linne toe en lê Hom neer in ‘n graf wat uit rots gekap is.
Hy rol ook ‘n groot klip voor die ingang.
JESUS, ONS VERLOSSER.
Filippense 2:6-7 sê dat Jesus, wat in die gestalte van God was, Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
Hy het nooit sonde gedoen nie, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel. Deur ons eenheid met Hom, word ons nou vrygespreek (2 Korinthiërs 5:21).
Deur Hom word ons met God versoen, daarom skeur die voorhangsel in die tempel middeldeur. Nou is daar nie meer skeiding tussen God en ons nie, maar kan ons deur geloof in Jesus weer een word met Hom (1 Korinthiërs 6:17).
Jesus het vir almal gesterf en elkeen wat in Hom glo, word ‘n kind van God.
Kom ons loof Hom vandag vir Sy liefde vir ons. Kom ons dank Hom dat Hy bereid was om in ons plek te sterf, sodat ons die ewige lewe kan hê!