
Ek moet vandag erken dat ek nie altyd so getrou my Bybel gelees of studeer het nie. Ek was skaam om op ‘n Sondag my Bybel in die kerk oop te maak, want ek het nie geweet waar die verskillende Bybelboeke was nie. As ek nie in die indeks gekyk het nie, het ek nie geweet waar ek die boek moes soek waaruit die dominee lees nie.
En as ek Bybel gelees het, het ek nie veel daarvan verstaan nie. Ek het dit maar net so nou en dan gedoen omdat ek geweet het ek moes.
MY LEWE VERANDER.
Toe sterf my boetie in ‘n motorfietsongeluk. En alles verander.
Ek het besef ons tyd op aarde is min. Hoeveel tyd het ek nog oor? Ek het ook besef dat ek my tyd op aarde goed moes gebruik. En die belangrikste ding wat ek met my tyd kon doen, was om God beter te leer ken deur tyd in Sy Woord en in gebed.
Dis toe wat ek weer begin het om elke dag Bybel te lees. Ek het boeke gelees wat oor onderwerpe in die Bybel gaan en my kon help verstaan wat ek lees. Ek het ook begin luister na mense, wat meer oor God en Sy Woord geweet het as ek, wat my kon leer.
Dit het my lewe verander.
Vandag ken ek God soveel beter as voorheen. Ek leer Hom elke dag nog beter ken. Ek ken die Bybel beter as voorheen en verstaan baie beter wat ek lees.
Die Heilige Gees herinner my gereeld, wanneer ek met ‘n teksvers besig is, aan ‘n ander vers of verse wat daarmee verband hou. Op dié manier help Hy my om ‘n waarheid, konsep of opdrag in die Bybel beter te verstaan.
En dit alles gebeur omdat ek begin het om elke dag tyd met God in die Bybel te spandeer.
HOEKOM LEES ONS NIE DIE BYBEL NIE?
Daar is verskeie redes waarom mense nie die Bybel lees nie. Baie lees nie omdat hulle nie verstaan wat hulle lees nie.
Daar is diegene wat nie lees nie omdat hulle voel hulle kry niks uit die Woord nie. Dis vir hulle droog en oninteressant.
Ander hou sommer op lees wanneer hulle die wette in die Ou Testament moet lees. Of wat van die lyste name in die geslagsregisters? Wie wil dit nou lees?
Dan is daar ander wat nie lees nie omdat hulle verwag om elke keer ‘n lekker gevoel te kry wanneer hulle lees. En as dit nie gebeur nie, dan hou hulle op.
En daar is ook diegene wat moed opgee omdat hulle gedagtes die hele tyd dwaal en hulle sukkel om te fokus.
DIE PRYS WAT ONS BETAAL WANNEER ONS NIE BYBEL LEES NIE.
Daar is verskeie redes waarom ons nie Bybel lees nie, of ophou om te lees. Die wat ek hierbo genoem het, is maar net ‘n paar daarvan.
Dit maak egter nie saak wat die rede is nie, as jy nie lees nie, gaan jy op een of ander stadium die prys betaal.
Wanneer jy nie tyd in die Woord spandeer nie, is daar ‘n gat in jou siel wat deur iets gevul moet word.
Onthou jy die gelykenis van die terugkeer van die onrein gees (Mattheus 12:43-45)?
‘n Onrein gees het uit ‘n mens gegaan en deur waterlose streke geswerf. Toe hy nie ‘n rusplek kry nie, het hy besluit om terug te gaan na die huis wat hy verlaat het. Daar gekom kry hy die huis mooi en aan die kant. Hy gaan haal toe sewe ander geeste, slegter as hyself, en hulle neem hulle intrek in die mens.
Sien jy dat ‘n mens jou ‘huis’ met iets moet volmaak sodat daar nie plek is vir die verkeerde en bose nie?
Ek probeer nie sê dat ‘n bose gees sy intrek in jou gaan neem as jy nie Bybel lees nie. Ek sê net dat ‘n gat gewoonlik gevul moet word. As dit nie met God se Woord gevul word nie, word dit met die wêreld en die dinge van die wêreld gevul.
TYD IN GOD SE WOORD.
Ons het nou gesien dat dit baie belangrik is om elke dag tyd in die Woord te spandeer.
Maar hoe doen ‘n mens dit as jy nie lus voel om Bybel te lees nie?
Wat moet jy doen wanneer dit voel asof jy niks uit die Woord kry nie?
Hier is ‘n paar idees.
VRA GOD OM JOU ‘N HART VIR SY WOORD TE GEE.
Die eerste stap is om God te vra om jou ‘n hart, ‘n honger vir Sy Woord te gee.
Net omdat jy nie lus voel om te lees, of dink jy kry iets daaruit nie, beteken nie dis nie die moeite werd nie.
Jesus het Self gesê die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord uit God se mond. Die Woord is kos vir jou gees. Dis die manier waarop jy jou gedagtes vernuwe. Dis ook die manier waarop jy verander word sodat jy meer soos Jesus is.
Begin dus deur God te vra om jou hart te verander. Vra Hom om jou te help om Sy Woord te wil lees en studeer. Vra Hom om jou ‘n honger na Sy woord te gee wat net tyd daarin kan stil.
VERANDER JOU VERWAGTINGE.
Die mens hou daarvan om dinge te doen wat op daardie oomblik lekker is. Dis lekkerder om TV te kyk as huis skoon te maak. Dis lekkerder om koek as groente te eet.
En as iets nie lekker klink of in die oomblik lekker is nie, dan wil ons dit nie doen nie.
Baie van ons verwag dan ook dat elke oomblik in God se woord ‘lekker’ moet wees. Ons wil ‘n warm gevoel kry wanneer ons die Bybel lees. Ons wil ‘n emosionele hoogtepunt hê elke keer wat ons die Bybel lees.
Maar net omdat dit nie altyd lekker is, of ons ‘n hoogtepunt het nie, beteken dit nie die Woord is onaktief en oneffektief nie.
Die tweede stap is om jou verwagting oor jou tyd in die Woord te verander.
Moenie verwag dat dit elke keer die lekkerste deel van jou dag gaan wees nie. Moet ook nie verwag dat jy elke keer ‘n emosionele hoogtepunt gaan ervaar nie.
Verwag wél dat jy elke keer vir God gaan ontmoet.
Wanneer jy met daardie verwagting na die Woord toe kom, gaan dit jou tyd in die Woord verander.
Jy gaan God beter leer ken. Jy gaan Sy karakter en Sy manier van doel leer ken. En jy gaan leer hoe Sy stem klink, sodat jy kan hoor wanneer Hy deur Sy Gees met jou praat.
Verwag dat God met jou gaan praat, dat Hy Homself aan jou gaan bekend maak.

SIT ELKE DAG TYD OPSY.
Dit is nou eenmaal so dat die dinge waarvoor jy beplan, die dinge is wat gedoen word.
As jy nie elke dag iewers in jou dag tyd met God beplan nie, gaan dit nie gebeur nie.
Besluit sommer nou, voor die begin van die nuwe jaar, watter tyd van die dag vir jou die beste gaan wees.
Skryf dit in jou dagboek neer. Beskou dit as ‘n afspraak wat nie gebreek of verander kan word nie.
En hou dan elke dag daarby.
BEPLAN WAT JY GAAN DOEN.
Baie mense gee moed op met Bybellees en Bybelstudie omdat hulle nie weet waar om te begin en wat om te doen nie.
Daar is soveel Bybelstudies op die mark. Koop vir jou een, of ‘n paar, en werk in jou studietyd daardeur. Dan hoef jy nie te wonder waar om te begin en wat om te doen nie.
Daar is ook allerhande Bybelleesplanne op die Internet beskikbaar. Soek ‘n plan wat jou interesseer en laai dit af. Gebruik dit dan in jou stiltetyd. Op dié manier sal jy altyd weet waar jy moet lees.
WORD DEEL VAN ‘N GROEP.
Nog ‘n idee is om deel te word van ‘n Bybelstudie-groep.
Meeste gemeentes het Bybelstudie-groepe wat weekliks bymekaar kom. Vind uit of jou gemeente so ‘n groep het en word deel daarvan.
As jou gemeente nie so ‘n groep het nie, vind uit van groepe by ander gemeentes. Of word deel van ‘n Bybelstudie-groep wat aanlyn Bybelstudie doen.
Ons gaan volgende jaar hier by Bybel En Gebed bietjie meer fokus op artikels waarin ons ‘n stuk uit die Bybel studeer. Jy kan dus sommer weekliks hier ‘n draai kom maak om meer oor die Bybel te leer.
‘N LEWENSLANGE PROSES.
Het jy ooit die film “Shrek” gesien? In die film sê Shrek op ‘n stadium vir Donkey: “Ogres are like onions… Onions have layers. Ogres have layers. Onions have layers. You get it? We both have layers.”
Die Bybel is dieselfde. Dit het ‘layers’.
Jy kan vandag ‘n gedeelte lees, en God wys jou een ding daarin. ‘n Week later lees jy dieselfde gedeelte, en kry iets heeltemal anders daaruit.
Juis daarom is Bybellees en Bybelstudie ‘n lewenslange proses.
Maak dus tyd daarvoor om elke dag jou Bybel te lees of te studeer. Dis die daaglikse dissipline wat jou gaan help om te groei en vrug te dra.
Onthou, tyd saam met God in Sy Woord is nooit gemorsde tyd nie.
Selfs al is dit nie nou vir jou baie lekker om Bybel te lees nie, beteken dit nie dat dit nooit vir jou gaan lekker wees nie.
Hoe meer tyd jy in die Woord spandeer, hoe meer gaan dit wortel skiet in jou lewe.
En jy gaan God beter leer ken en Hom en Sy Woord meer en meer geniet!
Goeiemore, kan jy die Bybelleesrooster, wat wêreldwyd gebruik word, asb vir my stuur. Dankie byvoorbaat.
Maryna
marynaseptember@gmail.com
kan jy asb vir my die bybelrooster vit lees ok stuur
dankie
Hi, kan jy die Bybelleesrooster, wat wêreldwyd gebruik word, asb vir my stuur. Dankie byvoorbaat.
Lynette
Lynette, ek het dit vir jou in ‘n e-pos gestuur.