God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Glo dit, en Hy sal jou help om dit ook uit te leef.

Ons het verlede week gesels oor 2 Timotheus 1:7:
“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”
As jy nie verlede week se artikel gelees het nie, en jy het nie tyd om dit nou te doen voor jy hier lees nie, net gou die volgende om jou op hoogte te bring.
Ons het gesels daaroor dat God ons baie liefhet. Omdat Sy liefde vir ons wyd en ver en hoog en diep strek, het ons nie nodig om vir enige iets bang te wees nie.
God het vir ons die Heilige Gees gegee, wat ons in staat stel en ons ook die vrymoedigheid gee om oor Jesus te getuig. Ons is nie langer vreesagtige, lafhartige mense wat te bang is om ons monde oop te maak nie. Nee, God kan ons kragtig gebruik omdat Hy nie vir ons ‘n gees van vreesagtigheid en lafhartigheid gegee het nie.
Dit is wat Hy nie vir ons gegee het nie. Wat Hy wel gegee het, is ‘n gees gevul met krag, liefde en selfbeheersing. Van die Engelse Vertalings praat van ‘n ‘sound mind’ in plaas van selfbeheersing.
Vandag gaan ons kyk na hierdie geskenke wat God ons gegee het.
HY VUL ONS MET SY KRAG.
In Romeine 8:11a lees ons: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon…”
En in Efesiërs 1:18-20 bid Paulus vir die gelowiges in Efese: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet… hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan Sy regterhand laat sit het…”
As jy hierdie twee verse bymekaar sit, sien jy die Heilige Gees is die krag van God, wat Jesus uit die dood opgewek het. God het Hom vir ons gegee om ons te bekragtig sodat ons die lewensdoel wat Hy vir elkeen van ons, kan uitleef. Hy werk ook in elke kind van God om ons gewillig en bekwaam te maak om Sy wil uit te voer (Filippense 2:13).
As gevolg van Sy krag in ons, kan ons met vrymoedigheid in die wêreld ingaan en ander van Jesus vertel. Ons kan Hom vertrou om ons die regte woorde te gee wanneer ons Jesus verkondig.
Dit is Sy krag wat deur ons werk wat siekes genees en dooies laat opstaan.
Hy gee vir elkeen van ons seker gawes en stel ons, deur Sy krag, in staat om daardie gawes te gebruik tot Sy eer.
Sonder die Heilige Gees, is ons eintlik maar kragteloos. Gelukkig is ons nooit sonder Hom nie. Hy woon in God se kinders, en Sy krag is altyd besig om in ons en deur ons te werk om ons te help en ons te gebruik.

HY VUL ONS MET SY LIEFDE.
In 1 Johannes 4:16 skryf Johannes dat God liefde is (1 Johannes 4:16). Dit is nie iets wat Hy doen nie, dit is wie Hy is. En Hy gee vir ons die Heilige Gees om ons harte te vul met Sy liefde.
Sy liefde is nou deel van elke gelowige se wedergebore gees. Ons kan kies om ons deur die Gees te laat beheers en om, met Sy hulp, gehoorsaam te wees aan die Woord. Ons kan diegene rondom ons liefhê omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19), en omdat die Gees Sy liefde in ons harte uitgestort het (Romeine 5:5).
SELFBEHEERSING.
Selfbeheersing, net soos liefde, is deel van die vrug van die Gees.
As jy ‘n kind van God is, dan het jy reeds selfbeheersing in jou wedergebore gees.
Dit beteken jy is in staat om jou woorde en dade te beheer.
Jy het die vermoë om te beheer hoe jy teenoor ander optree en hoe jy omstandighede hanteer, sodat jy dit op ‘n manier doen wat God verheerlik en eer.

HY HELP ONS MET ONS GEDAGTES.
Ek het hierbo genoem dat van die Engelse vertalings nie praat van selfbeheersing nie, maar van ‘n ‘sound mind’.
In 1 Korinthiërs 2:16 staan dat ons verstaan wat Christus dink. (Die Bybel vir Almal vertaling)
Die Heilige Gees gee ons begrip en openbaring. Hy gee ook vir ons God se wysheid wanneer ons daarvoor vra.
Hy stel ons in staat om ons gedagtes te rig op die dinge daarbo; om ons gedagtes te rig op alles wat waar, edel, reg, rein en mooi is (Kolossense3:2; Filippense 4:8).
Wanneer ons gedagtes gevul is met hierdie tipe dinge, dan verdwyn alle vrees en bekommernis.
God het vir ons die Gees gegee wat ons vul met krag en liefde en selfbeheersing. Hy werk hierdie dinge in ons en deur ons.
Ons het dus nie ‘n gees van vreesagtigheid en lafhartigheid nie, want God het ons Sý Gees gegee om ons gees te vul en ons in staat te stel om dapper en vrymoedig te wees.
Hy vul ons met Sy liefde en krag, en, as ons Hom toelaat, beheers Hy ons woorde en dade. Hy help ons om geestelike dinge te verstaan en om ons gedagtes te rig op alles wat mooi en goed is.
GLO DIT!
God het jou nie ‘n gees van vreesagtigheid en lafhartigheid gegee nie. Hy het Homself, in die vorm van die Heilige Gees, vir jou gegee. En jy kry deel aan wie Hy is en wat Hy gee deur geloof.
Jy het, reg op hierdie oomblik, Sy krag en liefde in jou gees.
Glo dit.
Glo dat jy selfbeheersing kan toepas, dat jy Hom kan toelaat om jou te beheers.
En glo ook dat Hy jou help om te verstaan wat Hy dink en dat Hy jou help om jou gedagtes op Hom te rig.
Glo dit, en Hy sal jou help om dit elke dag van jou lewe uit te leef.
Rentia bid vir Jesus om saam met my die pad gaan stap en wees lig vir Jesus
en moenie bang wees nie kyk die here staan voor jou en se jy is my kind