
Op Bybel En Gebed se FB-groep vra ek vir elke nuwe lid waarmee hulle sukkel wanneer hulle Bybelstudie doen. Die antwoord wat ek die meeste kry, is dat mense nie altyd verstaan wat in die Bybel staan nie. Jy sien, dit maak nie saak of ‘n mens ‘n eenvoudige Bybelstudie-metode of ‘n meer ingewikkelde een gebruik nie, almal van ons kry op een of ander stadium iets in die Bybel wat ons nie verstaan nie. Baie keer is dit omdat ons nie die kultuur van die dag verstaan nie. Vandag wil ek met jou ‘n paar interessanthede uit die Bybel deel.
Meeste van dié interessanthede is dinge wat dan ook met die kultuur van die dag te doen het.
Ek vertrou dat dit wat jy gaan lees jou gaan aanmoedig om dieper te delf en self nog meer interessanthede in die Bybel te ontdek!
DIE SKEPPING.
In Genesis 1 lees ons hoe God die hemel en die aarde geskape het. As ‘n mens mooi lees, dan ontdek jy ‘n interessante feit.
God skep eers die ryk, dan die heerser van daardie ryk.
Op dag 1 skep God lig. Dit is die ryk. Hy skep op dag 4 die heersers van die ryk, naamlik die son, maan en sterre.
Die tweede dag skep God die lug en die oseane. Op dag 5 skep Hy die heersers van die ryk – die voëls en die visse.
Op dag 3 skep God die droë land. En op dag 6 skep Hy die diere en die mens, wat oor die ryk heers.
Sien jy hoe God met absolute orde Sy skeppingsplan uitvoer?
ABRAHAM SE ERFGENAAM.
In Genesis 15 lees ons dat God met Abram praat in ‘n visioen. Hy sê vir hom: ““Moenie bang wees nie, Abram! Ek is ‘n skild vir jou. Jou loon is baie groot.”
Abram kom egter met ‘n teenvraag: “Here, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.”
Dan maak God ‘n belofte maak aan Abram. Hy gaan hom seën met ‘n seun van sy eie, maar ook met ‘n nageslag wat meer is as wat ‘n mens kan tel.
As ‘n mens bogenoemde lees, dan wonder jy dalk waarom Eliëser nou juis die bevoorregte een was om Abram se erfgenaam te wees?
In die antieke Nabye Ooste, was die erfgename van ‘n man se besittings in hierdie volgorde:
- sy seun by sy eerste vrou;
- ‘n seun by ‘n ander vrou;
- sy seun by ‘n slavin;
- die dienskneg wat die hoogste posisie in sy huis gehad het.
Omdat Abram en Sarai nie kinders gehad het nie, en Abram ook nie op daardie stadium kinders by ‘n ander vrou gehad het nie, sou Eliëser, wat sy dienskneg was, sy erfgenaam gewees het.
EFRON SE VRYGEWIGHEID.
In Genesis 23 lees ons van Sara se dood. Abraham wou by ‘n man met die naam Efron die grot van Magpela, wat aan die rand van sy grond gelê het, koop om haar daar te begrawe.
Efron het egter daarop aangedring om nie net die grot nie, maar die hele stuk grond vir Abraham te gee. Abraham het op die ou end die hele stuk grond by Efron gekoop.
Op die oogaf lyk dit asof Efron baie vrygewig was om nie net die grot nie, maar ook die grond vir Abraham te gee.
Maar was hy regtig vrygewig?
Efron was ‘n Hetiet. Hulle wet het bepaal dat ‘n eienaar van eiendom militêre diens moes doen. Abraham wou net die grot koop, maar Efron dring aan dat hy die hele stuk grond vat. Deur van die stuk grond ontslae te raak verseker Efron dat hy nie meer militêre diens hoef te doen nie.
DIE NAME VAN HEBREEUSE KINDERS.
Oral in die Ou Testament kry ons geslagsregisters met die name van die verskillende geslagte. Hierdie name val vreemd op die oor, omdat dit nie name is waaraan ons gewoond is nie.
Meeste van die tyd weet ons nie eens wat die name beteken nie. Maar soms word daar tog vir ons gesê wat ‘n naam beteken.
Om ‘n Hebreeuse baba sy naam te gee was ‘n belangrike gebeurtenis. Ouers het baie keer ‘n naam gekies om hulle drome en ideale vir hulle kind te verwoord. Ander kere is ‘n naam gekies wat die kind se persoonlikheid uitgebeeld het. Kinders het dan ook begin om die verwagtinge wat deur hulle name op hulle geplaas is, uit te leef.
Dink nou maar aan Jakob. Sy naam en die woord vir ‘hakskeen’ in Hebreeus klink baie dieselfde. Figuurlik gesproke beteken sy naam ‘bedrieër’. En was hy nie aan die begin van sy lewe ‘n regte bedrieër nie (Genesis 27)?
WAAROM GOD DIE ISRAELIETE IN EGIPTE LAAT WOON HET.
In die laaste hoofstukke van Genesis lees ons van Josef en hoe hy die onderkoning van Egipte geword het. Hy laat trek dan ook sy hele familie na Egipte om by hom te wees. Dan lees ons in die eerste hoofstukke van Eksodus hoe hierdie familie gegroei het en ‘n hele nasie geword het. Ons lees ook hoe die Egiptenare hulle onderdruk het.
Dit klink na ‘n baie onregverdige situasie, want ons lees dat dit God is wat hulle Egipte toe laat gaan het, en nou word hulle vir slawe-arbeid gebruik!
Maar God het hulle Egipte toe gestuur met ‘n baie spesifieke doel.
In Egipte kon die Jode ‘n afgesonderde volk wees, wat heeltemal apart was van die mense rondom hulle.
Jy sien, Jakob en sy seuns was herders van kleinvee. Vir die Egiptenare was dit ‘n afstootlike werk. En juis daarom sou daar nie ondertrouery plaasvind nie. Vir vierhonderd jaar sou die Jode kon vermeerder sonder dat daar ander volke se bloed met hulle s’n meng.

NIE DIE DIREKTE ROETE NIE.
In Eksodus 13 en 14 lees ons hoe Moses die Israeliete uit Egipte lei.
Ons lees dat God voor hulle uitgaan. Hy lei hulle bedags deur ‘n wolkkolom en snags deur ‘n vuurkolom.
Maar God lei hulle nie met ‘n direkte roete na Kanaan, die land wat Hy aan hulle beloof het nie. Nee, Hy lei hulle met ‘n ompad. Hoekom? Hier is twee redes:
- Om hulle te beskerm teen die nasies wat verseker teen hulle sou oorlog maak.
- Om hulle na God se berg te lei (Eksodus 3:12).
Die Israeliete moes eers leer om die pad saam met God te stap voor hulle kon leer om vir Hom te veg.
‘N VERBODE RESEP.
Die wette wat God in Eksodus vir die Israeliete gegee het, is soms vir ons vreemd. Een van hierdie vreemde wette kry ons in Eksodus 23:19b. Daar staan: “Jy mag nie ‘n boklam in sy ma se melk kook nie.”
Vir baie jare kon selfs geleerdes nie verstaan waarom God hierdie wet vir die Israeliete gegee het nie. Maar toe word daar argeologiese ontdekkings gemaak wat meer lig daarop werp.
In daardie tyd was dit ‘n gereelde gebruik in Kanaan. Dit was deel van ‘n heidense towerspel wat te doen gehad het met vrugbaarheidsrituele.
PERDE EN STRYDWAENS.
In Deuteronomium 17 lees ons nog ‘n vreemde wet. Hierdie keer is dit ‘n wet wat spesifiek vir die koning bedoel was. In Deuteronomium 17:16 staan daar: “Hy [die koning] mag net nie baie perde aanskaf nie en hy mag ook nie die volk na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie.”
Hoekom wou die Here nie hê dat die koning baie perde moes hê nie?
In die antieke tyd was strydwaens en perde ‘n weermag se beste wapens. ‘n Weermag wat ‘n berede brigade of ‘n klomp stydwaens tot hulle beskikking gehad het, is beskou as byna onoorwinbaar.
Maar Israel was anders. God wou nie hê dat die koning baie perde aanskaf en ook ‘n berede brigade hê nie. Hy wou nie dat hulle op perde en strydwaens vertrou, soos ons lees in Psalm 20:8 nie.
Nee, God wou hê dat Israel ten volle op Hom vertrou. Wanneer hulle gaan oorlog maak het, moes hulle nie verseker gewees het van oorwinning omdat hulle baie perde en strydwaens gehad het nie. Hulle moes op God vertrou het om vir hulle die oorwinning te gee.
En Hy het! Keer op keer lees ons hoe Hy hulle gehelp het. Soms het Hy selfs namens hulle geveg en vir hulle gesê om net te kyk wat gebeur (Eksodus 14:14).

NOG INTERESSANTHEDE IN DIE BYBEL.
Het jy vandag iets geleer uit hierdie interessanthede uit die Bybel? Sien jy hoe ‘n mens die Bybel beter kan verstaan as jy, byvoorbeeld, weet hoe die kultuur van die dag gewerk het?
Dit wat ek hierbo met jou gedeel het, is nie al interessante dinge wat ons in die Bybel raakloop nie. Ons gaan vorentoe weer kyk na nog interessanthede uit die Bybel om ons te help om God se Woord beter te verstaan.
Ek wil jou egter aanmoedig om self ondersoek in te stel wanneer jy iets in die Bybel nie verstaan nie. Gebruik ‘n Bybelhandleiding om jou daarmee te help. ‘n Studiebybel kan ook van groot waarde wees. En moenie vergeet om die Heilige Gees te vertrou om jou ook te help nie. Sonder Sý hulp gaan ons in elk geval niks van die Bybel verstaan nie!
