
Het jy al gewonder hoe ‘n mens self Bybelstudie doen, sonder ‘n boek, gids of vrae wat iemand anders saamgestel het? Miskien wil jy meer van God se Woord ontdek, maar jy weet nie presies hoe om dit aan te pak nie. Die goeie nuus is: jy hóéf nie ‘n Bybelkenner te wees om self Bybelstudie te doen nie.
Met net ‘n paar eenvoudige stappe kan jy leer hoe om op jou eie deur ‘n Bybelgedeelte of onderwerp te werk sodat jy die Bybel, en veral die Outeur van die Bybel, beter kan leer ken. Kom ons gesels oor die stappe.
STAP 1 : KIES ‘N ONDERWERP OF BOEK.
Wat is daar in die Bybel waaroor jy meer wil leer? Gebruik dit as tema of onderwerp vir jou Bybelstudie. Of dalk is daar ‘n spesifieke Bybelboek wat jou nog altyd gefasineer het. Maak dan die studie van daardie boek jou volgende Bybelstudie.
Dit maak nie regtig saak oor watter onderwerp of boek jy Bybelstudie doen nie, solank dit iets is waarin jy regtig belangstel. As jy nie regtig daarin belangstel nie, gaan jy vinnig opgee wanneer jy voel dis oninteressant.
STAP 2: SOEK VERSE.
As jy ‘n boek van die Bybel bestudeer, gaan jy hierdie stap uitlaat. Maar as jy ‘n onderwerp studeer, dan gaan jy ‘n konkordansie, jou Bybel se kruisverwysings of ‘n eenvoudige Google-soektog gebruik om Bybelverse oor jou onderwerp te kry.
Onthou altyd om die verse in konteks te lees, verkieslik die hele paragraaf of hoofstuk waarin die verse voorkom.
STAP 3: GEBRUIK VERSKILLENDE VERTALINGS.
Dis ‘n goeie idee om die gedeelte wat jy studeer in ten minste twee verskillende Bybelvertalings te lees. Dit help ‘n mens baie keer om die betekenis van die gedeelte beter te verstaan.
Jy kan byvoorbeeld een van die Afrikaanse vertalings en ook ‘n Engelse vertaling of dalk selfs twee gebruik. Sommige van die Engelse vertalings is woord-vir-woord vertalings. Dis vertalings soos die King James, die New King James en die English Standard Version. Die New American Standard Bible is ook ‘n woord-vir-woord vertaling.
Dan kry jy ook Engelse vertalings wat gedagte-vir-gedagte vertalings is. Hier kan jy kyk na die New International Version en die New Living Translation. Hierdie vertalings lees baie keer makliker as die woord-vir-woord vertalings, so kyk daarna as jy ‘n Engelse vertaling soek wat maklik gaan lees.
STAP 4: VRA VRAE.
Die beste manier om uit te vind wat ‘n Bybelgedeelte sê, is om vrae daaroor te vra.
Vra eenvoudige vrae soos:
Wie het dit geskryf?
Wat gebeur in hierdie gedeelte?
Wat leer ek oor God?
Leer ek iets oor hoe ek moet leef?
Onthou om jou vrae en ook die antwoorde op jou vrae in ‘n joernaal of notaboek neer te skryf.
STAP 5: PAS TOE WAT JY LEER.
Dis goed om te weet wat in die Bybel staan, maar dit help jou nie veel as dit wat jy leer nie jou lewe verander nie. Dis waarom dit belangrik is om elke keer wat jy Bybelstudie doen, die Here te vra: “Hoe wil U hê moet ek hierdie waarhede uitleef?”
Skryf neer wat Hy vir jou wys en vir jou sê. Vra Hom ook om jou te help om dit uit te leef. Sonder Sy hulp gaan jy nie ver kom nie.
STAP 6: GEBRUIK HULPMIDDELE (MAAR EERS LATER).
Nadat jy self gekyk het wat in die gedeelte staan, kan jy Bybelkommentare of artikels gebruik om die teks verder te bestudeer en meer te leer.
Maar moenie daar begin nie. Begin altyd deur self na die teks te kyk en die Here toe te laat om vir jou te leer wat Hy weet jy daaruit moet leer.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS.

As al die dinge waaroor ons hierbo gesels het, steeds vir jou te moeilik klink en jy sou graag eerder ‘n Bybelstudiegids wou gebruik, dan is die Die Gelykenisse Van Jesus, ‘n Bybelstudie wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is, dalk net die ding vir jou.
In dié studie kyk ons na van die gelykenisse wat Jesus vertel het. Ons doen ook Bybelstudie oor van die sleutelonderwerpe waaroor elke gelykenis gaan, sodat ons nog ‘n bietjie dieper in die Bybel kan delf.
SLOTGEDAGTES.
Bybelstudie gaan nie oor die regte tegniek of hoe goed jy dit doen nie — dit gaan oor ‘n verhouding met die Here. Wanneer jy leer om self Bybelstudie te doen, word dit ‘n gesprek tussen jou en die Here. Hy wil met jou praat, en Sy Woord is die plek waar jy leer hoe Sy stem klink.
Moenie bekommerd wees as jy nie alles dadelik verstaan nie. Hou maar net aan om jou Bybel te studeer, want hoe meer jy oefen om dit self te doen, hoe meer vertroue sal jy hê. En hoe meer sal jy begin sien hoe die Woord jou hart en lewe verander.
Onthou: Vat dit stadig, bid, vra vrae, en verwag dat die Here jou sal leer. Want dis presies wat Hy beloof het om te doen.