HOE OM ‘N KARAKTERSTUDIE TE DOEN

Hoe om 'n karakterstudie te doen

Het jy al met jou Bybel in die hand gesit, reg om Bybelstudie te doen, en dan nie geweet wat of waar jy moet studeer nie? Ons was al almal in daardie bootjie, so moenie sleg voel nie! Maar vandag het ek vir jou raad. As jy weer wonder wat of waar jy moet studeer, probeer ‘n karakterstudie.

Dis ‘n metode wat jou langer gaan besig hou as ander metodes soos die Swaard-metode, die BAAT-metode of die WORD-studiemetode. Maar jy hoef nie alles in een dag te doen nie. Vat jou tyd. Hou soveel dae met die studie aan as wat jy voor lus is.

WAT IS ‘N KARAKTERSTUDIE?

‘n Karakterstudie is ‘n Bybelstudie-metode waar jy ‘n spesifieke karakter in die Bybel kies en dan ‘n studie doen oor daardie karakter.

Daar is baie dinge wat ‘n mens by die verskillende karakters in die Bybel kan leer. Sommige het dinge gedoen wat ‘n mens amper bewonder. Hierdie persone is ‘n voorbeeld van dinge wat ons in ons eie lewens ook kan toepas.

Dan is daar ander wat dinge gedoen het wat heeltemal teen God se wil en opdragte was. Van hierdie karakters leer ons wat ‘n mens nié moet doen nie en wat die gevolge is wanneer jy aan God ongehoorsaam is.

En dan is daar natuurlik karakters soos Dawid, wat meeste van die tyd die regte ding gedoen het, maar tog ook ‘n bietjie van die pad afgedwaal het. By hierdie karakters kan ons ook leer wat ‘n mens moet en nie moet doen nie. Ons leer ook by hulle dat ‘n mens nooit moet dink jy sal nie in versoeking kom en aan versoeking toegee nie.

HOEKOM ‘N KARAKTERSTUDIE DOEN?

Dit maak nie saak watter studiemetode ‘n mens gebruik nie, alle metodes gaan jou help om iets te leer.

Dit is dan ook nie anders met ‘n karakterstudie nie.

In die eerste plek is hierdie mense vir ons ‘n voorbeeld. In 1 Korinthiêrs 10 lees ons dat God nie met die Israeliete in die woestyn tevrede was nie. Dan staan daar in vers 6: “Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie.” Ons kan dus, soos ek hierbo gesê het, by die mense in die Bybel leer wat ons moet en nie doen nie.

Dis ook ‘n goeie idee om ‘n karakterstudie te doen omdat dit ‘n mens dinge oor karakters in die Bybel leer wat jy nie voorheen geweet het nie.

Ons lees byvoorbeeld in Genesis dat God vir Abraham opdrag gegee het om vir Isak te offer. Uit die gedeelte in Genesis sien ‘n mens Abraham se onmiddellike gehoorsaamheid, maar jy weet nie regtig wat in sy hart aangegaan het nie. As jy dan in Hebreërs 11 gaan lees wat daar oor Abraham geskryf word, sien jy presies hoekom hy dadelik gehoorsaam was. Hy het geglo God kon Isak uit die dood opwek.

Sien jy hoe dit jou meer oor Abraham leer? Jy leer dat hy geglo het God kan die skynbaar onmoontlike doen en daarom is hy onmiddellik gehoorsaam.

HOE OM ‘N KARAKTERSTUDIE TE DOEN.

Net soos die ander studiemetodes wat ons al voorheen oor gesels het, het ‘n karakterstudie ook ‘n raamwerk wat jy kan volg.

Skryf hierdie raamwerk in jou notaboek neer, dan het jy dit byderhand wanneer jy ‘n karakterstudie wil doen.

  1. Kies ‘n karakter.
  2. Maak ‘n opsomming van sy verhaal.
  3. Waarvoor is hierdie karakter bekend?
  4. Sterk en swak punte.
  5. Oorwinnings en mislukkings.
  6. Heenwysing na Jesus.
  7. Lesse om te leer.

KIES ‘N KARAKTER.

Die eerste stap is om ‘n karakter te kies wat jy wil studeer. Dit kan iemand uit die Ou of Nuwe Testament wees.

Onthou dat daar sommige karakters is oor wie daar baie in die Bybel geskryf is. Ander het weer net kort stukkies wat jou iets van hulle vertel.

Hou ook in gedagte dat daar oor van die karakters in die Ou Testament ook in die Nuwe Testament geskryf word. As jy een van hulle kies, moet jy ook dit wat in die Nuwe Testament oor hulle geskryf is, studeer. ‘n Konkordansie kan jou help om al die verskillende plekke waar daar oor ‘n sekere karakter geskryf is, op te spoor.

MAAK ‘N OPSOMMING VAN SY VERHAAL.

Die volgende stap is om die karakter se verhaal te lees, sodat jy presies weet wat daar staan. Lees al die gedeeltes wat oor daardie karakter gaan ‘n paar keer deur.

Dis ‘n goeie idee om nou al aantekeninge te maak van dinge wat jy raaksien.

Na jy die karakter se verhaal ‘n paar keer gelees het, maak ‘n opsomming van sy verhaal. Skryf neer wat jou opgeval het. Wat was die hoogtepunte of laagtepunte in sy lewe?

Onthou dat hierdie ‘n opsomming is, so moenie dit te lank maak nie.

WAARVOOR IS DIE KARAKTER BEKEND?

In die vorige stap het ons gefokus op ‘n oorsig van die karakter se lewe. In hierdie stap gaan ons ‘n bietjie dieper delf.

Dink aan wat jy oor die karakter gelees het en al voorheen geleer het.

Voltooi dan hierdie sin: As ek hoor van ____________ (karakter se naam) weet ek hy het ____________ (wat hy gedoen het) of hy was ____________ (hoe sy persoonlikheid was).

Hou dit kort en eenvoudig sodat jy maklik kan onthou wat jy geskryf het.

STERK EN SWAK PUNTE.

Buiten Jesus is daar nie regtig enige karakters in die Bybel wat nie beide sterk en swak punte, of karaktertrekke, het nie.

Dink maar aan Petrus. Hy was ‘n lojale man. Hy agterna gegaan toe Jesus na die hoëpriester se huis gevat is om voor die Joodse Raad te verskyn.

Maar hy was ook ‘n bang man, want toe dinge warm raak, verloën hy vir Jesus en gee voor hy ken Hom glad nie.

Lees weer die gedeeltes oor die karakter wat jy gekies het en skryf sy sterk en swak punte neer.

OORWINNINGS EN MISLUKKINGS.

Die volgende stap is om te kyk na die oorwinnings en mislukkings wat die karakter in sy lewe gehad het. Dis nie dieselfde as sy sterk en swak punte nie.

Waar ons in die vorige stap na karaktertrekke gekyk het, kyk ons hier na wat die karakter gedoen of nie gedoen het nie.

Skryf neer wat jy oor jou karakter raaksien.

HEENWYSINGS NA JESUS.

Alles in die Bybel wys op een of ander manier na Jesus. Ja, ook die karakters in die Bybel.

Sommige is ‘n tipe of skadubeeld van Jesus. Ander is ‘n heenwysing na God se verlossingsplan vir die mens. Daar is diegene wat God se karakter vir ons wys deur hulle eie optrede of deur hoe God met hulle werk. En dan is daar natuurlik ook van die karakters wat fisies in Jesus se geslagsregister is.

Om jou te help bepaal hoe ‘n karakter heenwys na Jesus, kan jy die volgende vrae vra:

Is die karakter ‘n tipe of skadubeeld van Jesus? Hoe is hy ‘n tipe of skadubeeld? (Net Ou Testamentiese karakters kan ‘n tipe of skadubeeld van Jesus wees. Jy sal weet jou karakter is ‘n tipe van Jesus wanneer jy in sy persoon of werk ‘n skadubeeld, of afspieëling, van Jesus se persoon of werk kan raaksien.)

Is daar iets wat die karakter gedoen het wat heenwys na Jesus en wat Hy vir ons kom doen het? Wat is dit en hoe wys dit heen na Jesus?

Leer ek iets oor God se karakter uit die verhaal van die karakter wat ek studeer?

Is die karakter iewers in Jesus se geslagsregister?

LESSE OM TE LEER.

Dit maak nie saak watter karakter in die Bybel jy studeer nie, jy sal altyd iets by hom of haar kan leer.

Lees weer deur jou antwoorde op die raamwerk-vrae. Watter lesse sien jy raak in dit wat jy daar neergeskryf het?

Hier is weer ‘n paar vrae om jou te help:

Wat het die karakter in sy verhouding met God gedoen, wat ek ook kan doen?

Wat het die karakter gedoen wat ek ook moet doen of nie doen nie? Het die karakter iets nie gedoen nie wat ek wel moet doen?

Hoe het die karakter in sy geloof gegroei?

Wat kan ek leer uit die foute wat die karakter gemaak het?

Nadat jy die vrae geantwoord het, onthou ook om neer te skryf hoe jy dit wat jy geleer het, in jou lewe kan toepas. Onthou, as ons nie doen wat ons uit die Bybel leer nie, gaan daar nie verandering in ons lewens wees nie.

‘N KARAKTERSTUDIE OOR JOSEF.

In volgende week se artikel gaan ek vir jou wys hoe ‘n mens die karakterstudie gebruik om ‘n Bybelstudie te doen.

Ons het in die laaste paar artikels gesels oor interessante feite oor Genesis en ons het ook ‘n hoofstukstudie oor Genesis 22 gedoen.

En nou gaan ons sommer by Genesis bly en ‘n karakterstudie oor Josef doen. So moenie volgende week se artikel misloop nie. Dit sal jou help sodat jy presies weet hoe om die karakterstudie te gebruik wanneer jy meer oor ‘n karakter in die Bybel wil weet.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *