
In Bybel En Gebed se FB-groep het iemand nou die dag gevra hoe sy te werk moet gaan om ‘n Bybel joernaal te hou. Dalk is dit iets wat jy ook nog altyd wou doen, maar omdat jy nie weet hoe jy dit moet doen nie, het jy dit maar gelos.
Vandag gaan ek jou help om jou eie Bybel joernaal te begin. Ek gaan ook vir jou ‘n paar idees gee van wat jy in jou joernaal kan skryf. Volgende week gaan ons kyk na nóg ‘n klompie idees van dinge waaroor jy in jou joernaal kan skryf.
WAT IS ‘N BYBEL JOERNAAL?
‘n Bybel joernaal is ‘n joernaal waar jy al jou Bybelstudie notas, stiltetydnotas, ensovoorts hou. Dit is ook ‘n dagboek waar jy neerskryf wat in jou daaglikse lewe gebeur. Deur die twee met mekaar te kombineer, kan jy begin om dinge wat jy in die Bybel leer, in jou daaglikse lewe toe te pas.
HOEKOM MOET EK ‘N BYBEL JOERNAAL HOU?
‘n Bybel joernaal help jou om dieper met God te gaan. Maar dis nie al voordeel wat ‘n Bybel Joernaal inhou nie! Hier is nog ‘n paar:
DIT HELP JOU FOKUS.
Baie mense kla hulle sukkel om te fokus wanneer hulle besig is met die Bybel. ‘n Bybel joernaal kan jou daarmee help. Deur aantekeninge te maak oor die gedeelte waarmee jy in die Bybel besig is, hou jy jou aandag by dit waarmee jy besig is. Dit help jou ook om nie net die gedeelte te lees en aan te gaan met jou dag nie, maar om regtig stil te word by God sodat Hy daardeur met jou kan praat.
GOEIE MANIER OM BOEK TE HOU VAN JOU GEESTELIKE REIS.
‘n Bybel joernaal is ‘n goeie manier om boek te hou van dinge soos jou gebedsversoeke, gebede wat beantwoord is, of vrae wat jy het. Wanneer jy later deur jou joernaal lees, sal jy sien hoe jy gegroei het. Dit sal jou ook herinner aan God se getrouheid om jou gebede te antwoord en jou te help wanneer jy hulp nodig het. Jy kan selfs, as dit beter vir jou werk, twee joernale hê – een vir die Bybel en wat jy daaruit leer en ‘n ander een vir jou gebedsversoeke en -antwoorde.
‘N BYBEL JOERNAAL VERBIND DIE WOORD MET JOU DAAGLIKSE LEWE.
Ek het hierbo genoem dat ‘n Bybel joernaal ‘n kruising is tussen ‘n joernaal waar jy jou studienotas, ensovoorts hou en ‘n dagboek van jou daaglikse lewe. Wanneer jy daaglikse gebeur neerskryf langs die notas oor die Woord, help dit jou om die twee met mekaar te vergelyk en te begin besluite neem op grond van wat jy leer. Jy sal dus begin om dit wat jy leer in jou lewe toe te pas.
MEER FOKUS IN JOU GEBEDE.
Gebed is ‘n spieëlbeeld van die dinge wat ons wil hê en die mense wat ons wil wees. Maar om gebede te bid wat in lyn is met God se wil, moet jy in die eerste plek weet wat Sy wil is. Dít is waar ‘n Bybel joernaal ook handig kan wees. Wanneer jy die gebeure in jou lewe vergelyk met die Woord, en sien waar jy kortkom, kan jy bid vir dié dinge wat regtig saakmaak. Jy kan ook sommer klaar dankie sê vir wat God gaan doen wanneer jy daaroor begin bid.

HOE OM JOU BYBEL JOERNAAL TE BEGIN.
As jy nog nooit ‘n Bybel Joernaal gehou het nie, kan dit klink asof dit nogal ‘n moeilike taak is. Maar dis glad nie waar nie! Dis eintlik sommer baie maklik.
WAT JY NODIG HET.
Elke mens gaan ander dinge in sy of haar joernaal gebruik.
Een persoon gaan tevrede wees met ‘n gewone notaboek en pen. ‘n Ander een gaan ‘n lêer maak met verskillende afdelings en dit mooi versier. Hoe jou joernaal lyk is jou eie keuse. Solank jy net ‘n pen en papier het, het jy al ver gevorder!
5 JOERNAAL IDEES OM MEE TE BEGIN.
Hier is ‘n paar idees om jou te help om in jou joernaal te begin skryf.
WAAR MOET JY VERANDER?
Almal van ons het iets in ons lewens wat moet verander. Waar is daar verandering in jou lewe nodig? Dalk moet jy iemand vergewe wat jou jare gelede seergemaak het. Of dalk moet jy werk aan jou huwelik of gebedslewe.
Skryf die dinge neer waar jy verandering nodig het. Soek dan skrifgedeeltes wat hierdie dinge aanspreek. Dit sal jou aanmoedig om saam met God daaraan te werk en Hom toe te laat om jou te verander in die mens wat Hy wil hê jy moet wees.
BOU AAN JOU VERHOUDINGS.
Gebruik jou Bybel joernaal om jou verhoudinge met die mense rondom jou te verbeter. Watter verhoudinge is vir jou die belangrikste? Hoe sou jy aan hulle wou bou en verbeter?
Soek nou skrifgedeeltes wat praat van verhoudings en hoe om daaraan te bou. Maak aantekeninge oor wat jy leer. Maak ook aantekeninge oor hoe jy dít wat jy leer van nou af in jou verhoudinge kan toepas.

VRA VERGIFNIS.
Dit is ‘n hartseer, maar ware feit, dat baie mense met wrokke in hulle harte rondloop. Hulle weier om mense wat hulle seergemaak het of teen hulle oortree het, te vergewe.
As jý daarmee sukkel, gebruik jou Bybel joernaal om met God daaroor te praat. Vra Hom om jou te help om te vergewe – skryf daardie gebede neer. Soek ook skrifgedeeltes wat handel oor vergifnis en skryf neer wat jy daaruit leer. Onthou ook om God te vra om jou te wys hoe jy wat jy leer, kan toepas.
NEEM BETER BESLUITE.
Om ‘n besluit te neem is nooit maklik nie. Selfs die kleinste besluite kan soms verreikende gevolge hê, so dis belangrik om te sorg dat ‘n mens die beste besluite neem.
Jou Bybel joernaal kan jou selfs hiermee help! Skryf die verskillende opsies rakende ‘n besluit neer. Bid dan daaroor en spandeer tyd in die Woord. Vra die Here vir leiding en om jou vrede te gee sodat jy die regte besluit kan neem.
WAAR KAN JY VERBETER?
Ons almal het sterk en swak punte. As jy aan jou swak punte wil werk, kan jou Bybel joernaal jou weereens help.
Skryf neer wat jou swak punte is en soek skrifgedeeltes wat daarop van toepassing is. Skryf neer wat jy leer en hoe jy dit in jou lewe kan toepas.
Of dalk wil jy aan jou sterk punte werk sodat jy nóg sterker word in daardie area. Doen dan dieselfde as met die swak punte. Skryf jou sterk punte neer, soek skrifgedeeltes daaroor en skryf neer wat jy leer. Skryf ook neer hoe jy jou sterk punte op ‘n manier kan gebruik waar jy God eer en ander help.
MAAK JOU JOERNAAL JOU EIE.
Ek hoop hierdie idees het jou geïnspireer om jou eie Bybel joernaal te begin. Onthou, ons is almal verskillend en nie een van ons gaan presies dieselfde Bybel joernaal hê nie. Die idees wat ek hier gegee het, is net om jou te help om te begin. Probeer dit, en as van die idees nie vir jou werk nie, soek ander en probeer hulle.
Maak jou Bybel joernaal jou eie. Skryf op die papier van jou keuse met die pen van jou keuse. Versier jou joernaal of hou dit eenvoudig. En skryf oor dié dinge wat in jou lewe en geestelike reis vir jou belangrik is.
Baie seën vir jou en geniet die uitdaging om jou eie Bybel joernaal te begin!
