
Hier by Bybel En Gebed gesels ons meeste van die tyd oor Bybelstudie en hoe ‘n mens dit moet doen. Maar Bybelstudie is net een van die stukke van die legkaart.
Hoekom? Want daar is soveel meer dinge wat jy en God saam in jou Bybel kan doen sodat Hy jou kan leer wat jy daaroor moet weet.
Een van dié dinge is om elke dag stiltetyd te hê waar jy tyd met God spandeer. Dis nie ‘n studiesessie nie, maar meer ‘n Bybellees en gebed-sessie. En tog is dit belangrik om ook wanneer jy net jou Bybel lees, die beginsels wat ons in Bybelstudie gebruik, toe te pas.
Vandag gaan ons gesels oor ‘n Bybellees-metode wat jy in jou stiltetyd kan gebruik. As jy van die vorige Bybelstudie-metodes probeer het, sal jy sien dié metode sluit baie van die beginsels wat ons in Bybelstudie gebruik, in. En die bonus omtrent die metode? Dit sal jou help om te bly fokus sodat jou gedagtes nie dwaal wanneer jy besig is nie.
STAP 1: KIES ‘N SKRIFGEDEELTE.
Die eerste stap van die Bybellees-metode is om ‘n gedeelte te kies wat jy wil lees.
Wil jy Bybelstudie doen oor ‘n sekere onderwerp? Kies dan ‘n gedeelte wat handel oor die onderwerp. As jy dit lees en hierdie metode toepas, sal jy klaar ‘n klomp dinge omtrent die onderwerp leer.
Of dalk lees jy die Bybel van voor tot agter deur en die deel wat jy kies is net die volgende hoofstuk wat jy moet lees.
Miskien het jy ‘n leesplan wat jy gebruik. Leesplanne maak dit maklik omdat jy nie hoef te wonder waar jy volgende moet lees nie. Jy volg bloot net die leesplan. En ‘n leesplan handel gewoonlik ook oor ‘n spesifieke onderwerp. As jy nie ‘n leesplan het nie en jy wil graag een gebruik, kan jy sommer die gratis Bybelstudie-planne wat op Bybel En Gebed beskikbaar is, daarvoor gebruik.
STAP 2: VRA DIE HULP VAN DIE HEILIGE GEES.
Net soos ons altyd die hulp van die Heilige Gees vra wanneer ons Bybelstudie doen, vra ons ook Sy hulp wanneer ons stiltetyd hou en besig is om ons Bybel te lees.
Sonder die hulp van die Heilige Gees gaan ons nie die Woord verstaan nie. Hy is daar om ons die waarheid te leer en ons te herinner aan alles wat ons reeds geleer het(Johannes 14:16-17; 26). Dit is Hy wat die Woord vir ons oopbreek en ons insig gee en dinge aan ons openbaar. En dis Hy wat vir ons die wysheid gee om te weet hoe ons dit wat ons geleer het, in ons lewens moet toepas (Kolossense 1:9).
So na jy besluit het waar om in jou Bybel te lees, begin deur gebed en vra die Heilige Gees om jou te leer en jou te help verstaan.
STAP 3: LEES DIE GEDEELTE.
Die volgende stap is om die gedeelte wat jy gekies het, stadig deur te lees.
Lees dit sommer so drie of vier keer. As jy alleen is en jy gaan niemand pla nie, lees dit hardop. Die slim mense sê as ‘n mens ‘n ding sien en dit hoor, dan neem jy dit beter in. So probeer om dit hardop te lees.
Jy kan selfs, as jy tyd het, die verse woord vir woord in jou joernaal of notaboek neerskryf. Dit gaan jou help om nog stadiger deur die gedeelte te lees en beter in te neem wat daar staan.
STAP 4: WAARNEEM.
Noudat jy die gedeelte ‘n paar keer deurgelees het, is dit tyd om dit van naderby te bekyk sodat jy mooi weet wat daar staan.
Om jou hiermee te help, kan jy ‘n paar vrae vra:
Waaroor gaan die gedeelte? Wat is die onderwerp?
Wie het dit geskryf? Vir wie is dit geskryf?
Is daar woorde wat herhaal word?
Watter woorde of frases staan vir jou uit?
Soms gaan jy die verse voor en na die gedeelte wat jy gekies het, ook moet lees om van die vrae te antwoord.
Skryf alles wat jy oor die gedeelte raaksien in jou joernaal of notaboek neer.
Vertrou die Heilige Gees gevra om jou te help om te sien wat jy moet sien en om dit te verstaan.

STAP 5: TOEPASSING.
In stap 4 het ons gekyk wat God in die gedeelte sê. In stap 4 gaan ons dit persoonlik maak.
Nou vra jy die volgende vrae: Wat sê God vir mý? Hoe kan ek wat ek gelees het, in mý lewe toepas?
Is daar iets in jou lewe wat jy moet verander?
Is daar iets wat jy moet doen?
Of is daar iets wat jy moet glo?
Onthou, jou lewe gaan net verander as jy toepas wat die Here jou leer. Sonder toepassing kry jy net ‘n klomp ekstra kennis wat jou nie eintlik veel help nie. Daarom leer God ons dat ons nie net hoorders van Sy Woord moet wees nie, maar ook doeners (Jakobus 1:22-25).
Ook hier help die Heilige Gees jou. Vertrou Hom om jou wysheid te gee, sodat jy weet hoe jy die Woord moet toepas.
STAP 6: BID.
Die laaste stap van die Bybellees-metode is om weereens te bid. Kan jy die gedeelte wat jy gelees het, in ‘n gebed verander? As jy kan, doen dit en bid dit terug tot God. Jy kan selfs jou gebed in jou joernaal of notaboek neerskryf sodat jy dit later weer kan bid as jy wil.
As jy nie die gedeelte in ‘n gebed kan verander nie, bid dan oor wat jy geleer het. Vra die Here om jou te help om dit in jou lewe toe te pas. As jy iets moet verander of glo, vra Hom om jou daarmee te help.
En as daar dalk iets in die gedeelte was wat jy nie verstaan nie, vra dan die Here om dit vir jou duidelik te maak. Moenie bekommerd wees as jy Hy dit nie dadelik doen nie. Daar is dalk iets anders wat jy eers moet verstaan voor jy gaan verstaan wat jy nou nie verstaan nie. Vertrou dus net die Here dat Hy jou op die regte tyd sal help verstaan.
Met hierdie metode kan jy so lank tyd in die Bybel spandeer as wat jy wil. Gebruik dit as jy baie tyd het om jou Bybel te lees, maar ook as jy min tyd het. Jy sal vinnig leer hoe om die verskillende stappe dalk so ‘n bietjie aan te pas as jy nie baie tyd het nie.
