HEMELVAART – ‘N MINI-BYBELSTUDIE

Hemelvaart - 'n mini-Bybelstudie

Net twee van die Evangelie-skrywers het geskryf oor Jesus se hemelvaart. Dit was Markus en Lukas. Lukas het ook ‘n stukkie daaroor in Handelinge geskryf.

Ons gaan vandag dié drie gedeeltes gebruik om te kyk wat ons alles oor hierdie belangrike gebeurtenis kan leer. Ons gaan ook kyk hoe ons dit wat ons leer, in ons lewens kan toepas.

DIE REGTERHAND VAN DIE VADER.

Markus beskryf die hele gebeurtenis in een vers.

In Markus 16:19 lees ons: “Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit.”

Hieruit leer ons twee belangrike feite:

  1. Jesus is in die hemel opgeneem.
  2. Hy sit aan die regterhand van God.

Die feit dat Jesus sit, is belangrik. Dit beteken Sy werk hier op aarde is afgehandel.

TOEPASSING.

In Efesiërs 2:6 lees ons: “Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel…”

Dit is nie net Jesus wat aan die Vader se regterhand sit nie. Ons as gelowiges sit daar saam met Hom.

Ons moet altyd in gedagte hou dat Sy werk as Verlosser afgehandel is. En, omdat ons in Hom glo, werk ons ook nie vir ons verlossing nie. Ons het dit uit genade deur geloof gekry. Daarom sit ons saam met Hom aan die Vader se regterhand.

BETANIë OF DIE OLYFBERG?

Lukas skryf ‘n bietjie meer in sy evangelie.

In Lukas 24:50-51 staan daar: “Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem.”

In hierdie gedeelte gee Lukas vir ons die inligting dat die gebeurtenis by Betanië plaasgevind het.

Maar as ‘n mens die gedeelte wat hy in Handeling hieroor geskryf het gaan lees, dan lyk dit asof hy homself weerspreek.

In Handeling 1:12 staan daar: “Daarna [na Jesus opgevaar het na die hemel] het hulle [die dissipels] van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, ‘n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem.”

Sien jy dit lyk asof die twee gedeeltes mekaar weerspreek?

Dis egter nie ‘n weerspreking nie, want Betanië is geleë op die oostelike helling van die Olyfberg.

HY KOM WEER.

Die derde gedeelte wat handel oor Jesus se hemelvaart, kry ons in Handelinge 3.

In verse 9-11 staan daar: “Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: ‘Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het.'”

Uit hierdie gedeelte leer ons twee belangrike dinge.

OOGGETUIES.

Die dissipels het gesien toe Jesus opgevaar het na die hemel.

Hulle was dus ooggetuies van die belangrikste gebeurtenisse in Jesus se lewe. Hulle het gesien toe Hy gekruisig is en het geweet Hy was regtig dood. Toe het hulle gesien dat Hy deur God opgewek is uit die dood en kon getuig dat Hy regtig lewe. En nou sien hulle hoe Hy opvaar na die hemel.

Johannes skryf dan ook in 1 Johannes 1:1: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het, en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle.”

TOEPASSING.

Ons was nie fisiese ooggetuies van wat Jesus vir ons kom doen het nie. Maar ons is steeds getuies vir Hom.

Ons moet vir ander vertel wat Hy in ons lewens kom doen het toe Hy ons gered het. Ons moet ook vir hulle vertel wat Hy elke dag steeds vir ons doen. En ons moet vir ander vertel wat Jesus alles vir ons beteken.

Op dié manier getuig ons oor Hom en verkondig ons Hom aan andere.

HY GAAN WEER KOM.

Jesus het meer as een keer vir die dissipels gesê dat Hy moes sterf en op die derde dag opstaan. Hy het ook vir hulle gesê dat Hy gaan om plek voor te berei vir alle gelowiges en dat Hy gaan terugkom om hulle te kom haal.

Hier herinner die twee manne in wit klere hulle, en ons, daaraan dat Jesus weer gaan terugkom.

Hy is in die hemel opgeneem terwyl die dissipels gekyk het. En Hy gaan op dieselfde manier terugkom, maar met een verskil. Hierdie keer gaan nie net ‘n paar mense dit sien nie, almal wat leef gaan dit sien en weet Jesus is hier!

In Openbaring 1:7 lees ons dan ook: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!”

TOEPASSING.

Jesus gaan weer terugkom. Daar is geen twyfel daaroor nie.

Ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, so ons weet nie hoeveel tyd daar nog is vir mense om tot geloof te kom nie.

Ons werk is om te bid vir diegene wat nog nie glo nie. Verder moet ons teenoor hulle getuig en hulle vertel van Jesus. Dis deel van ons doel op aarde.

Ons moet elke dag daarmee besig wees, want die oes is ryp op die lande en die tyd raak min!

WAT ONS GELEER HET.

Uit die drie gedeeltes wat die Evangelie-skrywers oor Jesus se hemelvaart geskryf het, leer ons:

Die gebeurtenis het by Betanië, ‘n dorpie op die oostelike helling van die Olyfberg, plaasgevind.

Die dissipels het dit gesien en kon agterna daaroor, en oor al die ander dinge rondom Jesus, getuig.

Jesus is in die hemel opgeneem en sit nou aan die regterhand van die Vader omdat Sy werk hier op aarde afgehandel is.

Hy gaan weer eendag terugkom, net soos Hy weggegaan het. Maar dan gaan elke oog Hom sien.

Ek hoop dat hierdie kort Bybelstudie oor Jesus se hemelvaart vir jou van waarde was.

Deel hierdie blad

9 comments

  1. Hierdie is baie insiggewind. Let net daarop dat die verwysing in Handelinge 3:12 in my Bybel opgeteken is in Handelinge 1:12. Ek volg gewoonlik die skrif gedeeltes in my eie Bybel, 1983 weergawe, en kon dit nie in Handelinge 3:12 vind nie. Hierdie is nie kritiek nie net ‘n regstelling. Gaan voort met die goeie werk.

    1. Baie dankie, ek doen die nodige om dit reg te stel. Bly die Bybelstudies beteken iets vir jou!

  2. Baie dankie vir die bybelstudie. Ek geniet dit so baie ne ek leer ook baie daaruit

    Baie dankie vir die tyd en studie wat jy hier in sit om dit vir ons moontlik te maak om dit te gebruik en daaruit te leer en lees

    1. Petrus, Jakobus en Johannes was naaste aan Jesus en het as Sy ‘binnekring’ gedien. Hulle was van die eerste dissipels wat Hy geroep het en was dus die langste saam met Hom. Verder het hulle ook baie ander dinge beleef, wat die ander dissipels nie beleef het nie. Dit was hulle wat gesien het hoe Jesus die dogtertjie vann Jairus opwek. Hulle was ook by Hom toe Hy in die Tuin van Getsemane gaan bid het.

      Ons weet nie regtig waarom Jesus juis hierdie drie gekies het om Sy binnekring te wees nie, maar een rede kan wees omdat Hy hulle wou voorberei vir die leiersposisies wat hulle eendag sou moes inneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *