GELOOF, HOOP EN LIEFDE – ‘N BYBELSTUDIE

Geloof, hoop en liefde

In Salzburg, Oostenryk, is ‘n katedraal wat drie brons voordeure het. Bokant die deur aan die regterkant is die woord GELOOF geskryf. Bokant die deur aan die linkerkant is die woord HOOP geskryf. En bokant die deur in die middel, die grootste een van die drie, is die woord LIEFDE geskryf. Geloof, hoop en liefde. Drie dinge wat, volgens 1 Korinthiërs 13:13 altyd gaan bly bestaan.

Vandag gaan ons kyk na ‘n paar redes waarom geloof, hoop en liefde baie belangrik is in ons lewens.

Ons leef in ‘n tyd waar die duiwel sy uiterste bes probeer om gelowiges se geloof, hoop en liefde te steel. En juis daarom moet ons weet waarom dit nodig is dat ons elke dag aan hierdie drie dinge vashou.

GELOOF AS SKILD.

In Efesiërs 6 lees ons van die wapenrusting van God.

In vers 16 staan daar: “Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.”

God het, as deel van die wapenrusting, vir ons geloof as skild gegee.

Sonder geloof is ons weerloos en word die brandpyle wat die duiwel tydens sy aanvalle op ons afvuur, nie gekeer nie.

Ons moet dus altyd sorg dat ons sterk is in geloof, sodat ons die skild van geloof voor ons kan hou.

Hoe versterk ‘n mens jou geloof?

Deur tyd in die Woord te spandeer.

Romeine 10:17 leer ons: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.”

In die Woord vind ons die waarheid. Daardie waarheid wek geloof in ons harte wanneer ons dit hoor.

Hoe meer tyd jy in die Woord spandeer, hoe sterker gaan jou geloof word.

En jy sal met groot vrymoedigheid jou skild van geloof voor jou kan hou. Jy sal weet die duiwel het nie ‘n kans nie, want in Christus het jy reeds die oorwinning behaal.

DINK DIEPER OOR GELOOF.

Gebruik jou geestelike joernaal, of sommer enige notaboekie, om die volgende te doen:

SKRYF: Efesiërs 6:16: “Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.”

ONTDEK: Wat leer jy oor geloof en oorwinning in 1 Johannes 5:1-5?

HOOP AS ANKER.

In Hebreërs 6:13-20 lees ons van die belofte wat God aan Abraham en sy nageslag gemaak het.

Ons sien dat ons seker kan wees van God se belofte.

Hy het dit met ‘n eed gewaarborg, en daarom kan ons vashou aan die hoop op wat vir ons weggelê is (vs. 18).

Hierdie hoop is ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker.

Niks kan die anker van hoop loswoel of laat losgly nie.

Dit is agter die voorhangsel vas en kan nie beweeg word nie.

Die duiwel gaan, soos gewoonlik, sy bes probeer om ons sover te probeer kry om op te gee op hoop. Maar ons moet vasstaan.

As ons dit nié doen nie, gaan ons soos bootjies wees wat sonder ‘n anker op die see ronddobber.

So ‘n bootjie word maklik van koers gedryf. Dit kan ook op die rotse beland of omslaan in ‘n storm.

Om te verhoed dat dit gebeur, moet ons dus altyd vasstaan in die hoop wat ons het op wat Jesus vir ons gedoen het en wat ons s’n is as erfgename van God.

Net soos geloof word hoop ook versterk deur die waarheid van die Woord.

Dit is in die Woord waar ons leer wie Jesus is en wat Hy vir ons gedoen het.

In die Woord leer ons ook van al die dinge wat nou ons s’n is omdat ons kinders van God is.

DINK DIEPER OOR HOOP.

Gebruik weer jou joernaal of notaboek om die volgende te doen:

SKRYF: Hebreërs 6:19: “Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.”

ONTDEK: Kyk ‘n bietjie na Hebreërs 11:1. Vergelyk dit met Hebreërs 6:13-20. Wat leer jy daaruit?

LEES OOK: 15 VERSE WAT HOOP GEE

LIEFDE WAT VREES UITDRYF.

‘n Mens hoef deesdae nie lank met mense te praat voor jy agterkom dat meeste in vrees lewe nie.

Mense is bang vir die virus. Hulle is bang hulle verloor ‘n geliefde. Sommige is bang hulle gaan hulle werk verloor. Ander is weer bang dat hulle dit nie finansieel gaan maak nie.

En dit is maar net ‘n paar dinge wat mense vrees en wat hulle in die nag laat wakker lê.

Maar 1 Johannes 4:18 leer ons dat die volmaakte liefde van God vrees verdryf.

Wanneer ons vas oortuig is daarvan dat God ons liefhet, begin vrees verdwyn.

As ons glo dat Hy ons nie in die steek sal laat nie, maar in Sy groot liefde vir ons sal sorg, raak vrees al hoe minder.

Wanneer ons weet wat Hy belowe, en glo Hy sal Sy beloftes nakom, word die houvas wat vrees op ons het, gebreek.

Ons het gesien dat beide geloof en hoop opgebou word deur tyd in die Woord te spandeer.

Dit is dan ook nie anders met liefde nie.

Uit die Woord leer ons dat God liefde is (1 Johannes 4:16). Die Woord help ons om te begin verstaan hoe groot Sy liefde vir ons is. Ons leer ook daaruit wat Hy gedoen het, en steeds doen, omdat Hy ons liefhet.

Die Heilige Gees gebruik dan ook die Woord om ons te oortuig van God se liefde sodat ons daaraan kan vashou wanneer storms dreig.

DINK DIEPER OOR LIEFDE.

Gebruik jou joernaal of notaboek om die volgende te doen:

SKRYF: 1 Johannes 4:18: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”

ONTDEK: Lees Johannes 3:16-18. Lees ook Romeine 5:1-5. Wat leer jy uit hierdie twee gedeeltes?

GELOOF, HOOP EN LIEFDE.

God se Woord is vol beloftes, maar daar is nie ‘n belofte wat sê dat Sy kinders nooit probleme sal ondervind nie.

Inteendeel, Jesus het juis die teenoorgestelde gesê.

In Johannes 16:33b staan daar: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Ons gaan met tye probleme ondervind.

Soms gaan ons self ons probleme veroorsaak. Ander kere gaan dit ander mense of omstandighede wees wat probleme veroorsaak.

Die storms gaan kom, maar ons hoef nie daarvoor bang te wees nie.

God het vir ons drie dinge gegee om ons te help wanneer die storms kom – geloof, hoop en liefde.

Hy het ook vir ons Sy Woord gegee om ons te versterk en op te bou in die drie dinge.

Spandeer dus elke dag tyd saam met God in Sy Woord.

En gebruik dan jou skild van geloof, anker van hoop, en liefde wat vrees verdryf om jou te help om staande te bly wanneer die storms kom.

Onthou, in alle dinge is jy meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat vir jou liefhet!

DINK DIEPER.

Gebruik vir oulaas jou joernaal of notaboek om die volgende te doen:

SKRYF: Romeine 8:37: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”

ONTDEK: Lees Romeine 8:31-39. Wat leer jy oor God? Wat leer jy oor Sy liefde?

OORDINK: Na aanleiding van wat jy alles geleer het, skryf in jou eie woorde waarom jy vas kan staan in geloof, hoop en liefde.

GEBED: Skryf ‘n dankgebed in jou joernaal neer. Dank God vir Sy wonderlike geskenke van geloof, hoop en liefde.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *