BYBELVERS-STUDIE VIR BEGINNERS

Bybelvers-studie vir beginners

As jy gereeld Bybelstudie doen, dan het jy dalk al ‘n gunsteling studiemetode wat jy gebruik. Maar as jy nog op soek is na die metode wat die beste vir jou gaan werk, dan is ‘n Bybelvers-studie dalk net die ding wat jy moet probeer. Dis ‘n oulike en kreatiewe manier om God se Woord van nader te bekyk.

Onthou jy jou biologie-dae op skool toe jy moes sketse teken van die plante of diere wat jy studeer het? Soms was die sketse ‘n deursnit van die plant of dier of orgaan. Dan kon jy presies sien wat binne-in aangaan en hoe alles in mekaar steek en saam werk.

‘n Bybelvers-studie laat my nogal baie hieraan dink. Dié metode help jou om ‘n Skrifgedeelte van nader te bekyk en byna te dissekteer.

In hierdie studiemetode gebruik ‘n mens ‘n diagram of kaart – baie soos ‘n breinkaart (mind map) – om ‘n vers van die Bybel te studeer. Dis nie ‘n ingewikkelde studiemetode nie, so enige iemand – van ‘n beginner tot ‘n kenner – kan dit gebruik om God se Woord beter te verstaan.

WAT JY NODIG HET.

Jy het nie baie dinge nodig om ‘n Bybelvers-studie te doen nie. Maar maak seker dat jy alles bymekaar sit, sodat jy nie nodig het om te soek na ‘n pen of papier wanneer jy met jou studie wil begin nie.

Jy gaan die volgende nodig hê:

  • ‘n Bybel
  • ‘n Notaboek, joernaal of skoon vel papier
  • Kleurpotlode, penne en/of ‘highlighters’
  • ‘n Woordeboek
  • ‘n Rekenaar of selfoon, as jy nie ‘n woordeboek het nie

KIES ‘N VERS.

Dit maak nie saak watter Bybelstudie metode jy gebruik nie, voor enige studie word ‘n mens eers vir ‘n oomblik stil in gebed.

Vra die Here om jou te help om ‘n vers te kies. Hy weet presies wat jy nodig het, waar jy moet groei, en sal jou lei na die regte vers.

Na jy gebid het, kan jy ook die volgende riglyne gebruik om jou so ‘n bietjie meer te help:

  • jou gunsteling vers
  • ‘n onderwerp waarin jy belangstel
  • die bybelvers wat in jou stiltetyd vir jou uitgestaan het
  • ‘n vers waaroor jy vrae het en graag meer wil weet
  • verse oor ‘n dieper verhouding met God

SKRYF EN LEES DIE VERS.

Skryf die vers wat jy gekies het in jou notaboek, joernaal of op ‘n vel papier neer. Jy kan dit bo-aan die bladsy skryf, soos ‘n mens gewoonlik maak wanneer jy op ‘n nuwe bladsy begin skryf. Maar jy kan dit ook in die middel van die bladsy skryf om dit die hooffokus te maak.

Na jy die vers neergeskryf het, lees dit ‘n paar keer hardop vir jouself. Beklemtoon elke keer wat jy dit lees ‘n ander woord. As jy kan, voeg ook jou naam iewers in die vers om dit meer persoonlik te maak. (Onthou, jy gaan dalk nie in elke vers wat jy studeer jou naam kan voeg nie.)

OMKRING WOORDE WAAROOR JY MEER WIL WEET.

Die volgende stap is om ‘n woord of woorde wat jy bietjie meer oor wil weet, te omkring. As jy tyd het, kan jy selfs elke woord van nader bekyk. Jy kan vrae vra soos, “Waarom is hierdie woord belangrik?” Of “Wat beteken hierdie woord?” Jy sal verbaas wees oor wat jy kan leer as jy dit doen!

As jy nie baie tyd het het nie, kies dan net ‘n paar woorde. Gebruik jou woordeboek om te kyk wat elke woord beteken. ‘n Mens dink soms jy weet wat ‘n woord beteken, net om agter te kom jy het eintlik die kat aan die stert beet.

As jy nie ‘n woordeboek byderhand het nie, gebruik jou rekenaar of selfoon om aanlyn te soek wat die woorde beteken.

Skryf alles wat jy oor elke die woord leer, neer. Skryf ook die woorde se sinonieme en antonieme neer.

ONTHOU DIE KONTEKS.

Dit is belangrik om altyd ‘n vers in konteks te lees. Die verse net voor en na die vers wat jy gekies het, kan jou baie leer oor die vers wat jy studeer. Dit kan jou ook meer leer oor God en Sy karakter.

En dit sal jou help om nie ‘n betekenis aan ‘n vers te koppel wat nie regtig is wat God gesê het nie.

Lees dus die verse voor en na die vers wat jy studeer ook ‘n paar keer. As dit jou ‘n nuwe insig oor jou vers gee, of jou iets van God leer, skryf dit neer.

ANDER VERTALINGS.

Kry vir jou ‘n paar verskillende vertalings wat jy kan gebruik. In Afrikaans het ons nie regtig so ‘n groot verskeidenheid nie, so ‘n Engelse vertaling of twee kan ook help.

Slaan jou vers na in die verskillende vertalings en skryf enige nuwe insig neer.

MAAK DIT PERSOONLIK.

God gebruik Sy Woord om met ons te praat. Elke keer wat ons die Bybel lees of studeer, is daar ‘n boodskap wat Hy vir ons het. Soms is dit iets wat jy dalk nie voorheen geweet of verstaan het nie. Dit kan ook wees dat God jou herinner aan iets wat Hy reeds voorheen vir jou gesê het.

Het jy, terwyl jy jou vers van naderby bekyk het, iets beter verstaan? Of het jy iets gesien wat jy nog nie voorheen raakgesien het nie? Vra jouself wat God daardeur vir jou wil sê en hoe jy dit in jou lewe kan toepas.

Skryf alles wat jy leer rondom die oorspronlike vers wat jy neergeskryf het. Dit sal jou help om die lesse in die toekoms ook te onthou.

Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier om ‘n Bybelvers-studie te doen nie. As jy dit probeer, en jy kom agter die breinkaart-idee werk nie so lekker vir jou nie, kies dan ‘n ander manier om die dinge wat jy leer neer te skryf. Jy kan selfs alles eenvoudig net ondermekaar neerskryf.

Maar as jy kies om ‘n breinkaart te maak vir jou Bybelvers-studie, dan gaan dit op die ou end ongeveer só lyk:

Om die Bybel te studeer hoef glad nie moeilik en intimiderend te wees nie. ‘n Bybelvers-studie is ‘n lekker en kreatiewe manier om God se Woord te studeer. Hoekom probeer jy dit sommer vandag nie?

Deel hierdie blad

1 comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *