
Bybelstudie is nie moeilik nie. Enige iemand kan dit baasraak. As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, of jy doen dit nog nie lank nie, dan gaan hierdie 10 Bybelstudiewenke vir beginners jou beslis help.
MAAK BYBELSTUDIE ‘N GEWOONTE.
Dis ‘n goeie idee om Bybelstudie ‘n gewoonte te maak. Kies ‘n spesifieke dag en tyd wanneer jy dit gaan doen.
Skryf dit dan in jou dagboek neer. Moenie toelaat dat enige iets daardie tyd steel nie. Beskou dit as ‘n afspraak met die Here.
En as dit gebeur dat iets voorval en jy kan nie by jou studietyd uitkom nie, moenie skuldig voel nie. Kyk of jy dit iewers op ‘n ander dag kan inpas. As dit ook nie werk nie, kom dan net die volgende week weer jou afspraak met die Here na. Maar wees versigtig daarvoor om ‘n gewoonte daarvan te maak om jou studietyd af of uit te stel.
DIE REGTE BYBELVERTALING.
Wanneer jy Bybelstudie wil doen, gebruik ‘n vertaling wat jy verstaan.
Die taalgebruik in die Ou Afrikaanse-vertaling is byvoorbeeld nogal moeilik. Die 1983-vertaling is sommer heelwat makliker. Dan is die 2020-vertaling ook ‘n makliker vertaling.
Dan kan jy natuurlik ook altyd ‘n Engelse vertaling gebruik as dit vir jou makliker is. Wees net versigtig vir die King James-vertaling, want dit is regtig ‘n moeilike een!

NIE TE VEEL OP ‘N SLAG.
As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, kan jy dalk voel jy moet amper die hele Bybel in jou eerste studiesessie deurwerk. Of jy kan so oorweldig raak deur alles wat jy nog nie weet nie, dat jy nie eers wil begin nie.
Maar wees rustig. Jy hoef nie alles op een slag te doen nie.
Kies net ‘n paar verse om tydens ‘n studiesessie te studeer. So 6-8 verse is ‘n goeie idee.
Fokus liewer op kwaliteit as kwantiteit.
HOU ALLES BYDERHAND.
Voor jy met jou Bybelstudie begin, maak seker jy het alles wat jy gaan gebruik. Dan hoef jy nie jou studietyd te onderbreek om iets te gaan haal wat jy vergeet het nie.
Jou Bybel is natuurlik die belangrikste. Dan gaan jy ook ander dinge soos ‘n notaboek, pen of potlood en dalk selfs inkleurkryt nodig hê.
As jy ‘n Bybelstudieboek wat jy gekoop het gaan deurwerk, maak seker dis ook byderhand.
En moenie van die koffie of tee vergeet nie!
‘N BYBELSTUDIE-METODE.
Daar is sommer ‘n wye verskeidenheid Bybelstudie-metodes. Die metodes bestaan gewoonlik uit ‘n klompie vrae wat jy oor die teks vra om jou te help om dit van naderby te bekyk.
As jy nie ‘n gekoopte Bybelstudieboek het nie, maak dan gebruik van een van hierdie metodes.
Dit sal jou help om te weet watter vrae om oor die gedeelte te vra.
Hier by Bybel En Gebed kan jy ‘n gratis e-boek aflaai waarin ek ‘n klompie van die metodes vir jou verduidelik.
Vul net jou inligting hieronder in, laai die boekie af en begin een van die metodes sommer vandag nog in jou studietyd gebruik.
BEGIN MET EEN VAN DIE EVANGELIES.
As jy nie weet waar in die Bybel om met Bybelstudie te begin nie, is die Evangelies ‘n goeie keuse.
Dit leer jou meer oor Jesus en wat Hy vir jou kom doen het.
Markus is die kortste een, Mattheus die langste.
Sommige mense sê ‘n mens moet by Johannes begin, want daaruit leer ons die meeste oor God se liefde vir ons.
MAAK AANTEKENINGE IN JOU BYBEL.
Nie almal hou daarvan om in hulle Bybels te skryf nie. Maar notas in die kantlyn kan jare later van waarde wees.
As jy nie in jou Bybel wil skryf nie, koop vir jou van die gekleurde papiertjies wat ‘n bietjie gom aan die agterkant het.
Skryf jou aantekeninge op die papiertjies en plak dit by die vers waaroor die aantekening gaan.
Jy kan ook vir jou ‘n ander Bybel koop wat jy net vir Bybelstudie gebruik sodat jy wel daarin kan aantekeninge maak.

BEGIN MET GEBED.
Dit maak nie saak of jy net Bybellees of Bybelstudie doen nie, begin altyd met gebed.
Gebed help ons om op God te fokus. Dit maak ‘n mens se gedagtes rustig. Dit help jou ook om die dinge wat jou aandag aftrek, eenkant toe te skuif.
Dis ‘n manier om jou hart voor te brei sodat jy ontvanklik is vir wat God vir jou wil sê.
Begin dus altyd met gebed. Dit hoef nie ‘n lang gebed te wees nie. Word net vir ‘n paar minute stil by die Here. Loof Hom vir wie Hy is. Sê vir Hom dankie vir iets wat Hy deur die dag vir jou gedoen het. En vra Hom om jou te help met jou studies.
WAT GEMAAK AS JY NIE VERSTAAN NIE?
Daar is verseker dinge in die Bybel wat jy nie gaan verstaan nie. Die Here leer ons bietjie vir bietjie wat ons moet weet. Ek doen al lank Bybelstudie. Verlede week het ek skielik gesien hoe twee verse, wat ek al baie voorheen gelees het, met mekaar verband hou. Dit het my gehelp om ‘n konsep in die Bybel beter te verstaan.
So moenie bekommerd wees as jy iets nie verstaan nie.
Vra die Heilige Gees om jou te help. Hou aan delf in die Woord en vertrou Hom om jou te wys wat jy moet weet sodat jy kan verstaan.
Onthou, Bybelstudie is soos huisbou. ‘n Mens begin by die fondasie en bou steen vir steen tot jy by die dak kom. As dit wat jy nie verstaan nie deel is van die dak, gaan die Here eers die res van die stene vir jou moet gee voor Hy by die dak kan uitkom.
Hou dus net moed, jy sal wel op die regte tyd verstaan!
PAS TOE WAT JY LEER.
Bybelstudie help ons om te weet wat in die Bybel staan.
Dit leer ons meer oor God – wie Hy is en wat Hy doen. Dit leer ons meer oor Sy wil, Sy voorskrifte en beginsels.
Maar dit moenie daar ophou nie. Ons moet ook wat ons geleer het, in ons daaglikse lewens toepas.
Vra die Here om jou te wys hoe jy wat jy geleer het in jou lewe kan toepas. Soms gaan jy dadelik ‘n toepassing kry. Skryf dit neer en onthou dan om dit te doen.
Ander kere gaan die Heilige Gees jou herinner aan wat jy geleer het wanneer jy nodig het om dit toe te pas. Wees dan gehoorsaam en doen wat Hy vir jou wys om te doen.
As jy besluit het om met ‘n Bybelstudie roetine te begin, gebruik hierdie 10 Bybelstudiewenke vir beginners om jou te help. Jy kan ook van die ander wenke, wat ek al voorheen oor geskryf het, probeer.
Watter wenke gaan jy vandag sommer nog begin gebruik?
Ek het die Heilige Gees gevra om my te help met Bybelstudie en ja, wandel en vra na Sy leiding, dan kry mens waarvoor mens vra; dankie vir jou gehoorsaamheid om hierdie webtuiste te kon skep vir beginners in Bybelstudie, dit is werklik baie van hulp vir my.
Hallo Gina. Baie dankie vir jou dankie! Ek is so bly die webblad beteken iets vir jou. Baie seën vir jou in jou Bybelstudie-tyd.
ek wil uit ruin na die Here want op hierdie aarde kry n mens net seker as jy nie due Here ken nie
Baie dankie vir die blad, en voorbeelde hoe om bybel studie te doen. ek en my man wil al lankal bybel studie doen maar alles het so oorweldiged gelyk. Vader ken die begeerte van ons hart en dat ek op jou blad af gekom is net n bestuuring van Bo. baie dankie. ryklike seën vir jou en jou familie.
Hallo Tina. So bly jy is hier by ons! Hoop dat jy sommer baie gaan leer en dat jy kort voor lank gaan begin om self Bybelstudie te doen. Seën en sterkte vir jou en jou man!
Goeiemore Gina. Baie dankie vir die voorbeelde ek het nou hierdie van Genesis deur gelees. En jou opsomming skep vir my ‘n prentjie wat maak dat ek Genesis beter sal kan verstaan. Ek gaan beslis hierdie voorbeeld van jou kan gebruik. Baie dankie vir hierdie blad. Blessings ook vir jou.
Hallo Christa. Dit is sommer ‘n baie groot plesier. Ek is bly dit het iets vir jou beteken.
Hallo kan julle vir my bybelstudie what’s up ASB na 0679059580 asb
Hallo Nicolene. Ek het nie tans Bybelstudies wat ek vir jou kan stuur nie. Ek beplan om volgende jaar meer aandag te gee aan Bybelstudies wat mense kan aflaai en self doen, so maak gereeld ‘n draai hier om te kyk of hier iets nuuts is wat jy kan gebruik.
Eerstens wil ek dankie sê vir die webblad want ek het al so gesoek vir leiding oor bybelstudie en in die nagtelike ure op die webblad afgekom Ek glo dis God se hand wat my tot hier gelei het Tweedens wil ek dankie sê vir die metodes asook die verduideliking daarvan Baie dankie vir die hulpmiddels wat u hier stel sodat ek kan groei in geloof
Hallo Melanie. Ek is bly dat jy die blad ‘ontdek’ het en dat dit jou in jou studie van die Bybel gaan help. Ek gaan vorentoe nog heelwat verskillende Bybelstudie metodes deel, so maak maar gereeld ‘n draai op die blad. Baie seën vir jou!