
As jy al ‘n rukkie by ons is, het jy al agtergekom dat daar ‘n hele klomp verskillende dinge is wat ‘n mens kan doen wanneer jy die Bybel studeer. Daar is verskillende metodes en hulpmiddele wat jy kan gebruik. Jy kan gebruik maak van kleurpotlode, om belangrike dinge in die teks te merk. Of jy kan verskillende simbole gebruik om dit te doen (loer gerus na hierdie blad as jy graag simbole wil gebruik). Jy kan ‘n joernaal of notaboek gebruik om neer te skryf wat jy leer.
En dan is daar natuurlik die vrae wat jy oor ‘n teks kan vra. Hierdie vrae help jou om die gedeelte wat jy studeer, beter te verstaan. Dit help jou ook om dieper in die teks te gaan en nie net so bolangs daarna te kyk nie. Jy kan jou eie vrae opmaak vir elke Bybelgedeelte wat jy studeer, of jy kan ‘n stel algemene vrae, wat vir enige skrifgedeelte kan werk, gebruik. Kom ons kyk na ‘n klompie van hierdie tipe vrae, wat jy volgende keer kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen.
NEEM DIE TEKS WAAR.
Die eerste stel vrae gaan jou help om te sien wat in die teks staan. Jy gaan nie nou al probeer uitvind presies wat die teks beteken of hoe jy dit in jou lewe kan toepas nie. Vir eers wil jy net weet wat is die konteks van die gedeelte wat jy studeer en wat presies daarin staan. Hiervoor gaan jy die vyf W’s en 1 H gebruik. Dit staan vir wie, wat, wanneer, waar, waarom en hoe.
WIE.
Om die ‘wie’ van ‘n gedeelte te bepaal, kan jy vrae vra soos: wie is die hoofkarakters in die gedeelte?
Jy kan ook vra: wie praat of skryf hier en vir wie word dit gesê of geskryf?
WAT.
Die ‘wat’ van ‘n gedeelte word bepaal deur te vra: Wat gebeur in hierdie teks?
Vra ook vrae soos: wat word gesê, beveel, belowe, verduidelik? Of wat is die sentrale idee of gebeurtenis?
WANNEER.
Vir ‘wanneer’ kan jy aan vrae dink soos: wanneer gebeur hierdie gebeurtenis? Is daar ‘n tyd, tydperk of seisoen wat genoem word? Word daar iewers verwys na die verlede, hede of toekoms?
WAAR.
Die ‘waar’ van ‘n gedeelte het te doen met plekke, so vra: waar vind hierdie gedeelte plaas? Is daar ’n spesifieke plek of plekname wat genoem word?
WAAROM.
Om by die ”waarom’ van ‘n gedeelte uit te kom, kan jy vra vra soos: waarom gebeur hierdie dinge? Waarom sê die persoon wat hy sê? Gee die teks redes of verduidelikings?
HOE.
Laastens kom ons by die H, wat staan vir Hoe. Hier is die volgende goeie vrae om te vra: hoe gebeur die gebeurtenisse? Hoe reageer mense op mekaar of op God?
Noudat jy die vrae vir die 5 W’s en 1 H geantwoord het, kan jy ook na die volgende kyk:
STRUKTUUT EN HERHALING.
Sien jy in die teks enige woorde of frases wat herhaal word?
Is daar kontraste (bv. lig/donker, goed/sleg)?
Is daar ’n logiese volgorde of opbou?
Wat is die sleutelvers of -woord wat jy raaksien?
GOD EN SY WERKING.
Omdat die Bybel ‘n boek oor God is, is dit belangrik dat jy altyd kyk wat ‘n gedeelte oor Hom sê.
Hier kan jy vrae vra soos: wat sê hierdie teks oor God? Wat doen God in hierdie gedeelte? Wat openbaar dit oor Sy karakter?
WENKE.
Wanneer jy met jou Bybelstudie begin, lees eers die teks ‘n paar keer stadig deur.
Maak ‘n punt daarvan om enige sleutelwoorde of frases wat jy raaklees, te onderstreep.
As jy wil, kan jy simbole gebruik om belangrike woorde in die teks te merk.
Onthou om al jou antwoorde neer te skryf, soos ‘n speurder wat leidrade soek.
INTERPRETEER DIE TEKS.
Nadat jy gekyk het wat in die teks staan, is dit tyd om uit te vind wat dit beteken. Onthou, meeste gedeeltes in die Bybel is vir iemand spesifiek gesê of geskryf. Wat wou God hê moet verstaan word – in die oorspronklike konteks?
Gebruik hierdie vrae om jou daarmee te help:
Wat is die boodskap of die hoofgedagte van hierdie teks?
Wat beteken hierdie gedeelte binne die konteks van die hoofstuk en boek?
Hoe sou die oorspronklike lesers of hoorders dit verstaan het?
Wat leer hierdie teks oor God se karakter, plan, of wil?
Wat sê hierdie teks oor mense en ons natuur?
Is daar beelde, vergelykings of simboliek wat verduidelik moet word?
Hoe sluit hierdie teks aan by ander Skrifgedeeltes? (Is daar kruisverwysings?)
Wat is die doel van hierdie gedeelte – om te leer, te waarsku, aan te moedig?
Is daar ‘n belofte, opdrag, beginsel of waarheid wat hier oorgedra word?
PAS DIE TEKS TOE.
Die doel van Bybelstudie is nie net om die Here beter te leer ken en die Bybel beter te verstaan nie. ‘n Groot rede waarom ‘n mens Bybelstudie doen, is sodat die Here Sy Woord kan gebruik om jou te verander sodat jy meer soos Jesus word.
Die laaste stel vrae gaan jou help om uit te vind hoe jy die waarhede wat jy geleer het, prakties kan uitleef:
Hoe moet ek anders begin dink as gevolg van wat ek hier geleer het?
Is daar iets wat ek moet begin doen, ophou doen of anders doen?
Is daar ‘n sonde wat ek moet bely en die Here vra om my te help om te laat staan?
Sien ek ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam of is daar ‘n belofte waarop ek moet vertrou?
Oor watter eienskap van God kan ek vandag nadink? Wat beteken hierdie eienskap vir my lewe?
Hoe verander hierdie waarheid my verhouding met God of ander mense?
Wat sê die Heilige Gees vir my persoonlik deur hierdie teks?
Is daar iets wat ek vandag spesifiek in gebed voor die Here moet bring?
Hoe kan ek hierdie waarheid uitleef in my gesin, werk, gemeente of gemeenskap?
SLOTGEDAGTES.
Onthou dat daar nie noodwendig ‘n antwoord op al die vrae in elke skrifgedeelte gaan wees nie. As jy sien daar is nie ‘n antwoord op ‘n vraag nie, los die vraag uit. Maar maak seker daar is regtig nie ‘n antwoord nie! Moenie sommer net ‘n vraag uitlos omdat jy nie heeltemal seker is van die antwoord nie.
Sommige antwoorde, soos wie die skrywer van ‘n brief is, sal jy nie noodwendig in die gedeelte waarmee jy besig is, kry nie. Jy moet dalk na die begin van die brief gaan om uit te vind. Onthou ook om te kyk na die konteks, want dit kan jou ook soms help met ‘n antwoord op ‘n vraag.
Hierdie is dan ‘n kompie vrae wat jy gedurende jou Bybelstudie kan vra om jou te help om dieper in die teks te gaan en beter te verstaan wat daar aangaan. Onthou om al die antwoorde verkieslik neer te skryf. Dit help jou onthou wat jy geleer het. Jy kan dan ook later weer jou antwoorde lees – dalk wys die Heilige Gees vir jou nóg iets wat jy moet raaksien!