Wil jy meer tyd in die Bybel spandeer. Gebruik dié 6 maniere om ‘n plan van aksie uit te werk wat jy vandag nog in werking kan stel.

Het jy al ‘n Engelse predikant die woorde ‘Word Immersion’ hoor gebruik?
‘Immerse’ beteken eenvoudig dat jy jou in een of ander aktiwiteit verdiep. Wanneer iemand dus verwys na ‘Word immersion’ beteken dit eenvoudig dat jy jou verdiep in die Woord, dat jy meer tyd in die Bybel spandeer.
In Mattheus 4:4 lees ons hierdie woorde van Jesus: “Daar staan geskrywe: “‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.””
Ons almal weet dat ons moet eet sodat ons aan die lewe kan bly. Maar besef ons hoe ernstig Jesus se woorde is? Hy sê ons het meer as fisiese kos nodig. Ons gees – daardie deel van ons wat weer gebore is toe ons Jesus as Verlosser aangeneem het – het ook kos nodig. En die kos waarop ons gees floreer, is die Woord van God.
‘n Mens se liggaam gaan agteruit en raak swak wanneer jy vir ‘n lang tyd nie eet nie. As dit onbeperk aanhou, gaan jy dood. Ongelukkig kan ‘n mens nie jou gees sien nie, so jy sien nie hoe jou gees agteruit gaan en swakker word as dit nie gevoed word nie.
Jou behoefte aan geestelike kos is dus baie groter as jou behoefte aan iets fisies om te eet.
MEER TYD IN DIE BYBEL = GROEI.
Meer tyd in die Bybel lei tot geestelike groei, en hoe langer jy elke dag tyd in die Woord spandeer, hoe vinniger gaan jy groei.
Meeste van ons probeer om elke dag tyd saam met God in gebed en in die Woord te spandeer, en dit is goed en reg so. Maar dit is tot ons voordeel om elke nou en dan ‘n dag, of selfs ‘n paar dae, te gebruik en die hele tyd net met die Bybel besig te wees.
Neem sommer nou jou dagboek of kalendar, en besluit wanneer jy dit gaan doen. Dit kan so lank wees as wat jou tyd en skedule toelaat. Op dié stadium is meeste van ons by die huis, en dit is makliker om meer tyd in die Bybel te spandeer as gewoonlik.
Besluit wanneer jy dit gaan doen, en teken dit aan sodat jy daarvan onthou.
Noudat jy besluit het om meer tyd in die Bybel te spandeer, moet jy ‘n plan hê, want sonder ‘n plan gaan dit nie werk nie. ‘n Mens sukkel, as jy iets moet doen, en jy kom agter jy het nie ‘n idee hoé nie! Maak dus ‘n plan sodat jy darem weet wat jy gaan doen om meer tyd in die Bybel te spandeer.
Hier is ‘n paar idees wat jy in jou plan kan gebruik:

BEGIN MET DIE WOORD.
Die maklikste manier om meer tyd in die Bybel te spandeer, is om jou dag daarmee te begin. Kry vir jou ‘n Bybelleesplan om te gebruik. Kies ‘n spesifieke onderwerp uit die Bybel waaroor jy meer wil weet en kry ‘n leesplan daaroor.
Dalk hou jy nie van leesplanne nie. Dit is ook reg, want nie almal van ons is dieselfde nie. Kies dan vir jou ‘n boek uit die Bybel waardeur jy wil lees. Kies ‘n langer boek as jy ‘n paar dae lank meer tyd in die Bybel gaan spandeer. As jou tyd egter nie so lank gaan wees nie, kies ‘n korte.
Probeer om elke oggend die hele boek deur te lees. Dit werk natuurlik beter as jy ‘n kort boek gekies het. As jou boek langer is, lees elke dag ‘n hoofstuk of twee. Probeer om die hele boek ten minste een keer deur te lees gedurende die tyd wat jy opsy gesit het.
Jy kan natuurlik ook na die oudio-weergawe van die Bybel luister, as dit vir jou makliker is.
LEES OOK: ‘N MAKLIKE MANIER OM TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER
MEER TYD DEUR STUDIE.
Is daar ‘n gedeelte in die Bybel wat jou fasineer?
Of dalk is daar ‘n vers wat jy nie verstaan nie, of ‘n konsep wat jy meer oor wil weet.
Spandeer meer tyd in die Bybel en bestudeer die gedeelte, vers, of konsep.
Daar is verskeie aanlyn hulpmiddele wat jou kan help om die Bybel te studeer. Meeste is ongelukkig in Engels, maar selfs hierdie hulpmiddele kan van hulp wees.
Kliek HIER en HIER as jy dit graag wil gebruik.

LEES CHRISTELIKE BOEKE.
Daar is baie boeke wat deur goeie Christenskrywers geskryf is, wat jy gedurende hierdie tyd kan lees.
Maak ‘n punt daarvan om nie iets te lees wat nie met die Bybel te doen het nie. Jy wil meer tyd in die Bybel spandeer, so hou by boeke wat oor die Bybel gaan.
Kies boeke wat jou die waarheid uit God se Woord gaan leer. Los die fiksieboeke, wat op die Bybel gebaseer is, vir ‘n ander geleentheid.
Is daar ‘n onderwerp waaroor jy meer wil weet? Kies ‘n boek wat daaroor gaan.
Sukkel jy met iets in jou lewe of verhouding met God? Dalk word jy gou kwaad of jy sukkel om te bid. Kies ‘n boek wat jou leer hoe om, met die hulp van die Heilige Gees, jou probleem te oorkom.
LUISTER NA PREKE.
Daar is baie kerke wat hulle preke gratis op die Internet beskikbaar stel. Jy hoef dit net af te laai en te luister. Sommige het dit ook op CD beskikbaar.
Bedieninge (minsitries) wat fokus daarop om gelowiges die Bybel te leer, het verskeie hulpmiddele beskikbaar wat jy kan koop of gratis aflaai om na te luister.
Kies ‘n paar preke of ander hulpmiddele waarna jy kan luister om jou te help om meer tyd in die Bybel te spandeer.
LUISTER NA DIE OUDIO BYBEL.
Nog ‘n manier om meer tyd in die Bybel te spandeer, is om gedurende die dag na die oudio Bybel te luister.
Skakel die radio af, en bêre die musiek CD’s vir later.
Gebruik jou tyd liewer om na die Bybel te luister.
Die Bybel is op CD beskikbaar, maar daar is ook webblaaie waar jy dit gratis kan aflaai op jou foon of tablet.
Ek weet van iemand wie se man vir haar ‘n waterdigte CD speler as geskenk gegee het. Sy gebruik dit wanneer sy in die oggend stort om na die Bybel te luister.

LAAT DIE HEILIGE GEES JOU LEER.
Dit maak nie regtig saak wat jy besluit om te doen wanneer jy meer tyd in die Bybel wil spandeer nie. Wat egter baie belangrik is, is om die Heilige Gees te vertrou om jou te leer.
Vra Hom om jou meer idees te gee oor wat jy kan doen om jou tyd in die Woord te vermeerder.
Onthou ook om Hom te vra om jou te help om te verstaan wat jy lees of studeer, en om jou ‘n dieper insig te gee.
En laaste, maar nie die minste nie, vra Hom om jou te wys hoe jy dit in jou lewe moet toepas. Vra Hom ook om jou met die toepassing te help.
Jy kan die tyd wat jy in die Woord spandeer alleen doen, maar waarom vra jy nie jou gesin jou dit saam met jou te doen nie?
Dit is baie makliker om iets te bly doen as almal in die huis dit ook doen. En, dan het jy boonop ander om mee te gesels oor wat jy alles leer.
OPSOMMING.
Tyd in die Woord is van onskatbare waarde. Om meer tyd in die Bybel te spandeer en jou regtig daarin te verdiep, help jou om vinniger geestelik te groei. Gebruik sommer hierdie week ‘n paar dae om jouself in die Woord te verdiep. Gebruik die idees hierbo om jou te help om ‘n plan van aksie uit te werk. En vra die Heilige Gees om jou nog idees te gee.
Vertrou Hom dan om jou te leer en jou te help groei terwyl jy meer tyd saam met God in Sy Woord spandeer!
Watter manier gaan jy gebruik om meer tyd in die Bybel te spandeer? Deel dit in die kommentaar.

As die Bybel praat van weder geboorte beteken dit dat ek weer as groot mens gedoop moet word.
Hallo Tiana. Wedergeboorte verwys na wat met ‘n mens gebeur wanneer die Heilige Gees geloof in jou hart werk deur die Woord van God en jy Jesus dan in geloof as Verlosser aanneem. Dit beteken nie noodwendig dat jy weer gedoop moet word nie, maar dit kan gebeur dat die Here dit op jou hart lê om dan weer as volwassene gedoop te word.