In Markus 4 lees ons van die verskillende harte waarop die Woord-saad van God kan val. Wat is nou eintlik die eienskappe van ‘n goeie grond hart?

DIE GELYKENIS.
In Markus 4 lees ons die gelykenis van die saaier.
Die saad wat hy saai val op verskillende plekke – op die pad, op ‘n klipbank, tussen die onkruid en op goeie grond.
Die saad wat op die pad val, word deur die voëls opgevreet.
Die saad op die klipbank skiet wortel, maar omdat die grond nie genoeg is nie en die plantjie nie behoorlik kan wortel skiet nie, verskroei dit gou.
Die saad tussen die onkruid kom op, maar dit word verstik deur die onkruid en skiet nie saad nie.
Die saad op die goeie grond kom op, groei en lewer ‘n oes.
DIE UITLEG.
Na Jesus die gelykenis vertel het, vra Sy dissipels Hom uit daaroor.
Hy verduidelik vir hulle dat die saaier die Woord saai.
Die saad wat op die pad val, is mense wat die Woord hoor maar dit nie verstaan nie (Mattheus 13:9) en dan vat die duiwel dit weg.
Die saad wat op die klipbank val, is mense wat die Woord hoor en dit met blydskap aanneem, maar dit skiet nooit wortel nie. Wanneer so ‘n persoon ter wille van die Woord vervolg word of daar word byvoorbeeld met hom gespot oor hy die Woord glo, laat hy dit gaan en daar kom niks van die Woord wat in sy hart gesaai is nie.
Die saad wat tussen die onkruid gesaai word, is mense wat die Woord hoor, maar wat toelaat dat die bekommernis oor die lewe, die gejaag na rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge hulle fokus oorneem. Hierdie dinge verstik die Woord, en dit dra ook nie vrug nie.
En dan is daar die saad wat op goeie grond gesaai word. Dit is mense wat die Woord hoor en verstaan en wat dan vrug dra en ‘n oes lewer.
WATTER HART WIL JY Hê?
Elkeen van ons val in een van daardie kategorië. Soms val ons in meer as een van hulle.
As ek egter nou vir jou vra watter een van daardie harte sou jý graag wou hê, sou jy seker antwoord dat jy ‘n hart wil hê wat goeie grond is, wat kan vrug dra en ‘n oes lewer.
Dit sou mý antwoord ook wees.
Maar hoe kry ons so ‘n hart?
Hoe lyk so ‘n hart?

‘N HART WAT GELEER KAN WORD.
‘n Goeie grond hart, is ‘n hart wat geleer kan word.
Dit is ‘n hart wat ontvanklik is vir die waarhede in God se Woord.
Dit behoort aan ‘n persoon wat kan sien sy eie idees en pogings werk nie, en wat bereid is om te erken hy is verkeerd en weet nie alles nie. Só ‘n persoon neem die waarhede in die Woord met blydskap aan, want hy sien in dat God se beginsels en opdragte die enigste manier is om hom en sy lewe te verander.
‘N HART WAT VERSTAAN.
‘n Hart wat ‘n goeie grond hart is, is ‘n hart wat die waarhede in die Woord verstaan.
Dit is ‘n persoon wat tyd saam met die Here spandeer sodat die Heilige Gees hom insig kan gee en hom help om te verstaan.
In Spreuke 3:5 leer ons dat ons nie op ons eie insigte moet staatmaak nie.
‘n Mens verstaan maklik verkeerd wanneer jy op jou eie insigte staatmaak, want jy sien nie die groter prentjie nie.
Jy weet dalk nog nie hoe verse, wat op verskillende plekke in die Bybel staan, maar met mekaar verband hou, vir jou ‘n beter insig oor ‘n spesifieke onderwerp gee nie.
As jy egter tyd in die Woord met die Heilige Gees spandeer, sal Hy jou die waarhede leer en jou insig gee en jou help verstaan.
‘n Goeie grond hart is dus ‘n hart wat die Woord verstaan omdat die Gees insig gegee het.
‘N HART WAT DIE WOORD OORDINK.
‘n Goeie grond hart is ‘n hart wat die Woord oordink.
So ‘n persoon laat nie toe dat die Woord by een oor ingaan, en by die ander uit nie.
Hy sit nie op sy selfoon en speel terwyl die predikant preek nie, maar luister aandagtig na wat gesê word.
Dan gaan hy huistoe, en dink na oor wat hy geleer het.
Dit is gedurende hierdie nadink-sessies, wat die Heilige Gees wysheid en insig gee, en jou help om die Woord regtig te verstaan.
Ek vind dit help baie om neer te skryf wat in jou gedagtes aangaan wanneer jy oor die Woord nadink. Die Heilige Gees lei my altyd na ander verse in die Woord, wat my dan ‘n dieper insig gee en my help verstaan.
‘N HART WAT GEVORM KAN WORD.
Die hart van ‘n persoon wat ‘n goeie grond hart het, is ook ‘n hart wat gevorm kan word.
In 2 Timotheus 3:16-17 lees ons: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
God gebruik Sy Woord om ons te wys wanneer ons ‘n leuen glo, wanneer ons op die verkeerde pad is, en wanneer ons lewenswyse veel te wense oorlaat.
‘n Goeie grond hart neem hierdie teregwysings ter harte, en is bereid om saam met God te werk om dit wat Hy uitgewys het, te verander.

‘N HART VOL GELOOF.
‘n Goeie grond hart is ‘n hart vol geloof.
Omdat die Woord diep in so ‘n hart ingesak en wortel geskiet het, is die geloof wat in die Woord-saad teenwoordig was, vrygestel (Romeine 10:17).
Hierdie hart is só oortuig van die waarheid van die Woord, dat niks en niemand hom ooit anders gaan oortuig nie.
En, omdat hierdie hart in geloof bly vashou aan die Woord, word die Woord-plantjie al groter en groter totdat dit op presies die regte tyd ‘n oes voortbring.
‘N GEHOORSAME HART.
In die laaste plek, is ‘n goeie grond hart ‘n hart wat gehoorsaam is aan die Woord.
‘n Persoon met só ‘n hart, neem die Woord ernstig op en doen presies wat God daarin beveel.
Hy bring nie die standaard van die Woord af, om dinge vir homself maklik te maak nie.
Hy sien nie die Woord as ‘n ou boek vol dinge wat glad nie meer in vandag se tyd van toepassing is nie.
Hy gehoorsaam ook nie net die waarhede in die Woord wat hy van hou, terwyl hy dié wat hom ‘n prys gaan kos, eenkant toe skuif nie.
‘n Goeie grond hart is ‘n hart wat, met die hulp van die Heilige Gees, God se Woord in alle opsigte gehoorsaam.
