Jou hart is die grond waarin die saad van die Woord gesaai word, en dit is jou verantwoordelikheid om te sorg dat jou hart goeie grond is waar die Woord kan vrug dra.

As jy in Gauteng bly, sal jy onthou dat dit einde verlede jaar (2019) met tye nogal baie gereën het.
Ons was almal só dankbaar, want reën was nodig en baie welkom.
Die baie reën was goed vir die plante, en alles het sommer weliger begin groei.
Ongelukkig was dit nie net die blomme, struike en bome wat geil begin groei het nie, maar die bossies ook!
Die man wat in ons tuin werk, was vir so twee weke met verlof. Ek en my man is nie groot tuinmakers nie. Dus het die tuin in daardie tyd sy eie ding gedoen sonder dat daar iemand was wat bietjie ‘n hand daaroor gehou het.
Die gevolg? Die bossies het naderhand hoër gestaan as die ander plante. Arme Bongani moes omtrent werk om na sy verlof die tuin weer netjies te kry.
DIE SAAILAND.
In Markus 4:3-20 lees ons die gelykenis van die saaier, asook die uitleg daarvan.
Ons lees van die saaier, wat uitgaan om te saai.
Van die saad wat hy saai raak skaars die grond, dan word dit deur die voëls opgevreet.
Ander saad val weer op ‘n klipbank, waar daar nie baie grond is nie.
Dit ontkiem vinnig, maar, omdat daar nie baie grond is waar dit kan wortel skiet nie, verskroei die son dit en die plantjies verdroog.
Van die saad wat die saaier saai val tussen ‘n klomp onkruid.
Het jy al gesien hoe bossies ander plante kan verdring en heeltemal oorneem?
Dan sal jy in jou verbeelding kan sien wat met hiérdie saad gebeur het.
Dit het wel opgekom, maar het nooit by die vrug dra stadium uitgekom nie, want die onkruid het oorgeneem en dit verstik.
Gelukkig het die saaier aanhou saai, want sommige van die saad val toe tog op goeie grond.
Daardie saad het wortel geskiet, opgekom, en na verloop van tyd ‘n goeie oes gelewer.
DIE SAAIER SAAI DIE WOORD.
Na Jesus die gelykenis vertel het, kom Sy dissipels na Hom toe om te vra dat Hy vir hulle verduidelik wat die gelykenis beteken.
Jesus begin by die saaier en die saad.
Hy sê, “Die saaier saai die Woord.”
Ons het verlede week gesels oor die Bybel en ek het vir jou ‘n maklike manier gegee waarop jy tyd in die Bybel kan spandeer en dit bestudeer.
Wanneer jy tyd in die Bybel spandeer, word daar Woord-saad in jou hart gesaai.
Dit gebeur ook wanneer jy na ‘n preek luister, of enige skrywe lees wat op die Woord en die waarheid van die Woord gebaseer is.
Het die Here onlangs Woord-saad wat vir jou baie kosbaar is in jou hart gesaai? Deel dit in die Kommentaar hieronder.
DIE HART, DIE SAAILAND.
Soos reeds genoem, word die Woord-saad in jou hart gesaai.
En, net soos die saad in die gelykenis kon groei na gelang van die grond waarin dit beland het, groei die Woord-saad in ‘n hart ook na gelang van die hart waarin dit gesaai word.
Sommige harte is nog nie gereed vir die saad wat gesaai word nie. Dis asof die waarhede van die Woord oor so ‘n persoon se kop gaan, en hy verstaan nie wat hy hoor nie.
Dit beteken nié noodwendig dat hierdie persoon nie gered is nie, maar almal van ons is op ‘n ander plek in ons reis met die Here.
Sommige van ons is nog babas in die geloof, en ons moet nog melk kry, want ons kan nog nie vaste kos verteer nie. As só ‘n persoon ‘n waarheid hoor wat vaste kos is, gaan dit oor sy kop en hy verstaan dit nie. Die duiwel kan daardie waarheid dan maklik wegvat.
‘N HART VOL KLIPBANKE.
Daar is ook diegene wat is soos die grond met die klipbanke.
Hierdie mense hoor die Woord en neem dit met blydskap aan.
Hulle gee die Woord egter nie kans om mooi in hulle harte in te sak en goed daar wortel te skiet nie.
Dalk wonder jy nou wat ‘n mens moet doen om te sorg dat die Woord-saad insak en kan wortel skiet.
‘n Goeie manier is om dit wat jy hoor, te oordink. Om tyd met die Here te spandeer rondom daardie Woord-saad. Gee Hom die geleentheid om dit vir jou duidelik te maak en jou te help om dit nog beter te verstaan. Laat Hy jou ook wys hoe jy dit in jou spesifieke situasie moet toepas.
As jy egter kies om net die Woord te hoor en dit dan daar te laat, gaan jou hart wees soos die klipbanke.
Jy gaan miskien die Woord met blydskap aanhoor, maar, omdat jy agterna niks daarmee doen nie, gaan dit nie wortel skiet en begin groei nie.
Wanneer die duiwel dan omstandighede oor jou pad bring, wat in kontras is met die Woord wat jy gehoor het, gaan jy maklik afstand doen van die Woord en eerder die omstandighede glo.
Dit kan ook gebeur dat iemand na aan jou jou begin spot oor jou geloof in die Woord. As jy ‘n klipbank-hart het, gaan jy ook in hierdie geval eerder die Woord laat vaar eerder as om dit te bly glo en daaroor gespot te word.
‘N HART VOL ONKRUID.
Volgende kyk ons na mense wat ‘n hart vol onkruid het.
Hierdie mense hoor ook die Woord, maar daar is soveel dinge wat hulle aandag aftrek, dat die Woord ook nie veel kans het om te ontkiem en te groei en vrug te dra nie.
Ons het ongelukkig almal in een of ander mate harte wat gevul is met onkruid.
Wanneer ons fokus verdeel is, kan die Woord nie groei nie.
Soms is dit bekommernis wat maak dat die Woord nie in ons harte groei en vrug dra nie.
Dit gebeur ook wanneer ons toelaat dat ander dinge, soos geld, ons verlei, en dan dra die Woord nie vrug nie.
Ons kan ook allerhande ander begeertes hê, wat dalk nie noodwendig sleg is nie, maar wat veroorsaak dat ons aandag nie volkome op die Woord en die waarheid en beloftes daarin gevestig is nie, en dan dra die Woord ook nie vrug nie.
‘N GOEIE HART MET ‘N GOEIE OES.
Laastens is daar diegene wat ‘n hart het wat ‘n goeie oes voortbring.
Hierdie mense hoor die Woord en verstaan dit. Hulle spandeer tyd met die Woord sodat dit dieper in hulle harte kan insak, en kan begin ontkiem.
Hulle raak ontslae van alles wat kan veroorsaak dat die Woord nie vrug dra nie, en bly in geloof op die waarhede van die Woord staan.
En, na verloop van tyd, begin ‘n mens sien hoe die Woord hulle en hulle lewens verander.
‘n Mens sien die Woord vrug dra – soms dertig-, soms sestig-, en soms honderdvoudig.
BEWAAR JOU HART.
As ‘n mens eerlik is met jouself, sal meeste van ons moet erken dat ons eintlik nie net een tipe hart het nie.
Soms is ons iemand wat nie die waarheid wat op daardie stadium gepreek word, verstaan nie. Dit gebeur want ons is nog nie ver genoeg in ons reis met die Here dat hierdie waarheid vir ons sin maak nie.
Ander kere het ons klipbanke in ons harte wanneer dit by ‘n spesifieke Woord-saad kom. Jy het dalk nie ‘n probleem om Woord te hoor oor God se plan vir jou toekoms nie. Hier is jy goeie grond, wat na verloop van tyd ‘n goeie oes voortbring. Maar, as die preek oor jou geldsake gaan, dan het jy ‘n hart vol klipbanke, en geen vrug word gedra nie.
En dan het ons ook soms harte wat vol bossies is. As jy byvoorbeeld ‘n probleem het, en jy gaan vol kommer kerk toe, dan hoor ‘n mens mos amper nie eens wat die dominee daar voor sê nie. En, al hoor jy tog en al vat jy die Woord om dit joune te maak, bly die kommer na vore kom en begin dit naderhand weer jou gedagtes heeltemal oorheers, en die Woord word op die ou end vergeet.
JOU VERANTWOORDELIKHEID.
Die toestand van ons hart is ons elkeen se eie verantwoordelikheid.
Die saaier het net een veranwoordelikheid – om die saad te saai.
Hy saai dit op alle harte, nie net op die goeie grond-harte nie.
Hy ken nie die toestand van ‘n hart nie. Dan weet hy ook nie wat die persoon wat die Woord hoor daarmee gaan doen en of daar enigsins vrug gaan wees nie.
Al wat hy moet doen, is om te verseker dat die waarheid van die Woord gesaai word.
Dit is mý en jóú verantwoordelikheid om te sorg dat ons harte goeie grond is, waar die Woord-saad kan groei en vrug dra.
Dis óns verantwoordeliheid om ons harte te bewaar, om van die bossies ontslae te raak en die klipbanke op te breek.
Dit is ook ons verantwoordelikheid om te sorg dat ons groei in ons verhouding met die Here. Ons kan nie babas bly en melk bly drink nie. Op een of ander stadium moet ons by die punt kom waar ons vaste kos kan verteer. Dan sal ons die vaste kos-waarhede van God se Woord kan verstaan en daarvolgens kan begin leef.
Op hierdie webblad, en op soveel ander op die Internet, word daar op ‘n gereelde basis Woord-saad gesaai. Daar is verskeie gratis hulpmiddels wat jou kan help om die Woord-saad beter te verstaan of dit dieper in jou hart te kry.
Die saad word gesaai.
Wat jý daarmee doen, is jóú verantwoordelikheid.
Gaan jy die saad in jou hart inneem en toelaat dat dit jou en jou lewe verander, en ‘n honderdvoudige oes voortbring?
Net jý ken die ware toestand van jou hart, en net jý kan, met God se hulp, iets daaromtrent doen.

dankie vir die woord en mooi vetduideliming. ek ht n probleem my moedé n maand trug verloor gevoel ek ht alles verliir. maar verstàan nou beter
Hi Rentia. Jammer om te hoor van jou verlies. Ek vertrou dat die Here jou sal vertroos en dat Hy jou ook sal help om die verlies te verwerk. Sterkte!