
As jy al lank deel is van ons aanlyn-gemeenskap, dan het jy beslis al gesien ek skryf dat ‘n mens nie net die Bybel moet lees nie, maar dit wat die Here jou leer moet uitleef. En dis nie sommer net ek wat so sê nie, Jakobus het dit byvoorbeeld vir ons in die brief wat hy aan die kerk geskryf het, ook gesê. In Jakobus 1:22 lees ons dan ook: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”
Ongelukkig is ons nie altyd gehoorsaam aan hierdie opdrag nie, juis omdat ons soms nie seker is hoé om iets wat ons in ‘n vers raaksien, uit te leef nie. Om jou hiermee te help, wil ek vandag met jou drie eenvoudige, praktiese stappe deel, wat jy kan gebruik om enige Bybelvers in jou daaglikse lewe uit te leef.
STAP 1: MAAK DIT PERSOONLIK.
Die eerste stap is om dit wat die Here jou uit Sy Woord leer, persoonlik te maak. Wanneer jy jouself of ‘n situasie in jou lewe in ‘n vers kan sien, is dit makliker om te verstaan hoe jy dit kan uitleef. Net so is dit moeilik om ‘n vers uit te leef wanneer dit wat daarin staan glad nie binne jou verwysingsraamwerk is nie.
Begin dus deur te vra: Wat sê hierdie vers vir my persoonlik, in my eie lewe? As dit moontlik is, sit jou naam iewers in die vers. Dit kan jou help om dit wat in die vers staan, meer persoonlik te maak.
Nog iets wat jy kan doen, is om die les uit die vers in jou eie woorde neer te skryf. Onthou om weereens jou naam iewers in dit wat jy skryf, in te voeg.
VOORBEELD.
In Johannes 14:27 staan: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
Ek sou die vers só in my eie woorde neerskryf: “Risa, Ek het My vrede vir jou gegee. Dis ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan en daarom hoef jy nie bang of ontsteld te wees nie. Jy kan rus in die wete dat Ek, die Prins van Vrede, elke dag by jou en deur My Gees, in jou is.”
Sien jy hoe maklik dit is?
Na jy die vers persoonlik gemaak het, is dit belangrik om jouself te vra waar in jou lewe jy dit nodig het. Oor die vers hierbo kan ‘n mens byvoorbeeld vra: Waar in my lewe het ek God se vrede nodig? Of jy kan vra: Wat is daar in my lewe wat my bang maak of my ontstel? Op dié manier identifiseer jy spesifieke probleme of situasies in jou lewe, waar jy die vers kan toepas.
STAP 2: KIES EEN KONKRETE AKSIE.
‘n Mens besef dit nie altyd nie, maar elke vers in die Bybel het ‘n moontlike aksie. Soms wys ‘n vers jou jy glo ‘n leuen. Die aksie is dan dat jy dit wat jy glo, met die hulp van die Heilige Gees, verander sodat jy die waarheid glo.
Soms leer ‘n vers jou iets baie spesifiek wat jy moet doen. Jou werk is dan om, weereens met die hulp van die Heilige Gees, te bepaal hoe jy dit wat die vers sê jy moet doen, daardie dag kan uitleef.
‘n Vers kan jou ook wys op ‘n sonde wat steeds deel is van jou lewe. Die aksie is dan om saam met die Heilige Gees te werk om van daardie sonde ontslae te raak.
Of ‘n vers kan jou wys op ‘n manier hoe jy dink, wat nie in lyn is met wat die Bybel leer nie. Nou is jou aksie om die manier hoe jy dink te verander, sodat jy oor mense of situasies dink soos God daaroor dink. Jy doen dit ook met die hulp van die Heilige Gees.
Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde van hoe elke vers ‘n aksie het wat daarmee saamgaan.
By stap twee gaan jy dus ‘n aksie identifiseer wat jy op een of ander manier in jou lewe kan toepas. Hou die aksiestap klein, want as jy dit te groot maak, gaan jy dit tien teen een nie deurvoer nie.
VOORBEELDE.
As ‘n vers byvoorbeeld oor liefde gaan, dink aan iemand in jou lewe wat jy daardie dag gaan sien en kies ‘n klein dingetjie wat jy vir daardie persoon kan doen om liefde te bewys.
Of as ‘n vers oor vertroue gaan, gee iets waaroor jy bekommerd is in die Here se hand en vra Hom om jou te help om dit by Hom te los, nie verder bekommerd te wees nie en te vertrou dat Hy die regte antwoord op die regte tyd sal stuur.
‘n Vraag wat jy jouself kan vra om jou te help om ‘n aksie te identifiseer is: Wat is een ding wat ek vandag anders kan doen as gevolg van hierdie vers?
Onthou om te bid oor jou moontlike aksiestappe voordat jy een kies, sodat jy weet dit wat jy kies is iets wat die Heilige Gees op jou hart gelê het.
STAP 3: LEEF DIT DOELBEWUS DEUR DIE DAG.
Dis maklik om in die oggend, tydens jou stiltetyd, vuur en vlam te wees om jou aksiestap deur die dag uit te leef. Maar dan gebeur die lewe, jou vol program hou jou besig, jou kop is besig met ander dinge en jou aksiestap bly iets waaroor jy die oggend gedink het, maar nooit uitleef nie.
Daar is egter ‘n paar dinge wat jy kan doen om jou te help om jou vers vir die dag uit te leef.
MAAK DIT SIGBAAR.
Skryf die vers wat jy wil uitleef op ‘n stukkie papier neer. Skryf ook die aksiestap wat jy wil neem neer. Sit dit iewers waar jy dit deur die dag kan sien.
Elke keer wat jy die vers sien, gaan dit jou herinner aan die les wat die Here jou daaruit geleer het. Dit gaan jou ook herinner aan die aksiestap wat jy wil neem om dit uit te leef.
IN JOU DAGBOEK.
Skryf jou aksiestap in jou dagboek neer, asof dit ‘n afspraak is wat jy moet nakom. Elke keer wat jy in jou dagboek kyk, gaan dit jou ook herinner aan die les en hoe jy dit in jou lewe wil uitleef.
BID DAAROOR.
Praat deur die dag met die Here oor jou vers en die les wat Hy jou geleer het. Vra Hom om vir jou geleenthede te gee om die vers nog meer uit te leef, sodat dit deel kan word van dit wat jy op ‘n daaglikse basis doen.
KYK TERUG.
Kyk aan die einde van jou dag terug oor die dag en soek na die tye waar jy jou vers vir die dag uitgeleef het. As jy dit wél uitgeleef het, sê vir die Here dankie dat Hy jou die krag en vermoë gegee het om dit te doen.
Maar as jy dit nié uitgeleef het nie, wat is die rede dat dit nie gebeur het nie? En wat kan jy die volgende dag doen om seker te maak jy leef jou vers vir die dag uit? Onthou ook om die Here te vra om jou te help om dit wat Hy jou leer, uit te leef.
DRIE EENVOUDIGE STAPPE.
Dit is dan die drie eenvoudige stappe wat jy kan gebruik om enige vers in die Bybel in jou daaglikse lewe uit te leef:
- Maak dit persoonlik.
- Kies een aksie.
- Leef dit deur die dag.
Onthou, jy het nie ‘n ingewikkelde plan nodig om die dinge wat die Here jou uit Sy Woord leer, uit te leef nie. Jy het net ‘n hart nodig wat gewillig is om te leer, te verander en om op die Heilige Gees te vertrou om jou daarmee te help.
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Almal van ons het iets waaroor ons ons bekommer. Gebruik hierdie week Filippense 4:6 as vers wat jy elke dag op een of ander manier uitleef. Sit elke oggend ‘n paar minute opsy om weer deur die drie stappe te werk sodat jy ‘n aksiestap vir die dag het. Om jou te help, gee ek dag 1 se stappe vir jou:
Maak dit persoonlik: Wat maak my vandag angstig?
Aksie: Skryf dit wat jou bekommer of angstig maak neer en gee dit dan in gebed in die Here se hand
.
Deur die dag: Wanneer jy dink oor dit wat jou bekommer, verander dit in ‘n gebed.
JESUS, DIE BYBEL, EN JY.
Die VOLG-metode is ideaal om te gebruik wanneer jy tyd saam met die Here in Sy Woord spandeer en die lesse wat Hy jou leer, wil uitleef. Elkeen van die letters van VOLG staan vir ‘n ander stap wat jy neem wanneer jy die metode gebruik. Die G staan dan ook vir Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord.
As jy meer wil weet oor die metode en hoe jy dit in jou stiltetyd en ook in jou Bybelstudietyd kan gebruik, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy – die VOLG e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is – net waarna jy op soek is.
Die gids verduidelik nie net die stappe in detail nie, maar gee jou ook vrae wat jy by elke stap kan vra om jou te help met daardie stap. So, maak sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry jou VOLG e-gids sodat jy ‘n doener van die Woord kan wees!


As ek n Bybel vers lees dan Kan ek nie mense lekker verduidelik waaroor dit gaan nie Ek soek hulp daarmee