NAOMI – VAN SWAARKRY NA VREUGDE

Naomi

In die tyd toe die boeke van die Bybel geskryf is, was vroue nie juis baie belangrik nie. Meeste mans het vroue gesien as besittings eerder as volwaardige mense. Dis daarom interessant dat daar twee boeke in die Bybel is, wat na vroue vernoem is. Dié boeke is Rut en Ester.

In beide boeke is die vroue na wie die boeke vernoem is, van die hoofkarakters in die verhale. En dis nie al nie. In altwee boeke lees ons ook van ander vroue, wat ‘n rol in die verhale gespeel het.

Rut vertel vir ons van Naomi, Rut se skoonma, en ook van Opra, haar skoonsus.

In Ester kry ons vir Vasti, wat voor Ester koningin van die Persiese Ryk was.

Hoewel iemand soos Vasti en ook Orpa nie baie genoem word nie, kan ons tog by hulle, en ook by die ander vroue in die boeke, iets leer.

In die volgende paar artikels gaan ons oor elkeen van dié vyf vroue gesels en kyk wat ons by hulle kan leer.

Ons begin vandag met Naomi.

NAOMI – ‘N VROU WAT SWAARKRY GEKEN HET.

Naomi, wat ‘lieflikheid’ beteken, vlug saam met haar man en twee seuns na Moab, omdat daar hongersnood in hulle land is.

Sy verruil dus haar land, haar volk en ook, by implikasie, haar God, vir ‘n heidense land waar dit met hulle beter sou gaan as in hulle eie land.

Maar dinge gaan toe nie so goed soos hulle gedink het nie.

Eers sterf Elimeleg, Naomi se man. Haar twee seuns, Maglon en Kiljon, trou ook met Moabitiese meisies – iets wat God ten sterkste verbied het.

Dan sterf Maglon en Kiljon ook. Nou is Naomi nie net sonder haar man nie, maar ook sonder haar twee seuns.

Dit moes vir haar gevoel het asof God haar verlaat het, want in Rut 1:13 sê sy vir haar skoondogters dat God Sy hand teen haar uitgestrek het. Later sê sy ook vir die vroue in haar tuisdorp, Betlehem, dat hulle haar Mara moet noem. Dié naam beteken ‘bittere’.

TERUG NA HAAR EIE LAND.

Na al hierdie slegte dinge met Naomi gebeur het, besluit sy om liewer terug te gaan na haar eie land.

Sy probeer haar bes om vir Orpa en Rut te oortuig om liewer in Moab te bly, maar die twee wil niks weet nie.

Op die ou end bly Orpa terwyl Rut saam met Naomi gaan.

Terug in haar eie land, voel Naomi verantwoordelik vir Rut. Haar seun, met wie Rut getroud was, is immers nou nie meer daar om na haar om te sien nie. Dus maak Naomi ‘n plan.

BOAS, DIE LOSSER.

Naomi en Elimeleg het dalk nie die regte besluit geneem toe hulle na Moab gegaan het nie. Maar Naomi maak nie weer ‘n fout toe sy ‘n plan uitdink om haar en Rut se lewensomstandighede te verbeter nie.

Dié keer doen sy dit volgens die sosiale en etiese eise van haar gemeenskap.

Jy sien, wanneer iemand in Israel finansiële hulp nodig gehad het, het een of ander familielid as losser opgetree. Die losser het hulle gehelp sodat hulle nie hulle eiendom verloor nie.

Dan was daar ook iets soos die swaershuwelik. Dit was ‘n gebruik waar ‘n man met sy broer se weduwee moes trou, as daar nie kinders uit hulle huwelik gebore was nie. Die eerste seun uit daardie huwelik, is dan gesien as die seun en wettige erfgenaam van die oorledene.

Boas was ‘n ryk familielid van Naomi en het reeds vir Rut geken, omdat sy op sy land are opgetel het.

Naomi stuur Rut om tydens die oesfees by sy voete in te kruip. Toe hy haar daar ontdek, stem hy in om as losser op te tree. Daar is iemand anders wat ook as losser kon optree, maar hy is nie bereid om dit te doen nie.

Na Boas dus die saak met die ander losser opgeklaar het, trou hy met Rut en verseker so vir haar en Naomi ‘n toekoms.

Besoek ons winkel vir verskillende Bybelstudie-hulpmiddele.

‘N KLEINSEUN VIR NAOMI.

Naomi se verhaal het ‘n gelukkig einde.

Na Rut en Boas se troue, raak sy swanger en bring ‘n seuntjie in die wêreld.

Sy naam is Obed en hy is die oupa van koning Dawid. Hy is dus deel van die voorgeslag van Jesus.

Naomi het gedink God het teen haar gedraai en al haar swaarkry veroorsaak. Dis egter nie die waarheid nie.

Maar in haar geluk, speel God wel ‘n rol. In Rut 4:13 staan: “Boas het Rut by hom geneem en sy het sy vrou geword. Hy het by haar ingegaan, en die Here het haar swanger laat word. Sy het aan ‘n seuntjie geboorte gegee.”

Die Here gee dus vir haar vreugde na al haar swaarkry. Vir haar word God se belofte in Jesaja 35:10 waar. Daar staan: “…dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en ‘n gesug sal wegvlug.”

WAT ONS BY NAOMI KAN LEER.

Daar is sommer heelwat dinge wat ons by Naomi kan leer.

GEESTELIKE BELANGRIKER AS FISIESE.

Aan die begin van die verhaal sien ons dat Naomi en haar man hulle land, volk en ook, by implikasie, vir God verlaat om in hulle fisiese behoeftes te voorsien. Dit lyk asof hulle fisiese behoeftes vir hulle belangriker was as hulle geestelike behoeftes.

Ons kan dus by Naomi leer dat ons en ons kinders se fisiese behoeftes nooit vir ons belangriker moet word as ons geestelike behoeftes nie. Onthou, ‘n mens se kinders is al wat jy as ouer eendag saam met jou hemel toe kan neem.

DIE VERHOUDING TUSSEN ‘N SKOONOUERS EN -KINDERS.

Naomi is vir ons ‘n voorbeeld van hoe ‘n skoonouer teenoor ‘n skoonkind moet optree.

In die verhaal sien ons dat Naomi se twee seuns met vroue uit ‘n heidense nasie getrou het. Hoewel Naomi geweet het dit dra nie God se goedkeuring weg nie, het sy nie met hulle daaroor baklei nie.

Ons kan dus by haar leer dat ‘n mens nie moet inmeng wanneer jou kinders kies om met iemand te trou wat nie jou goedkeuring wegdra nie.

Probeer liewer om jou lewe op só ‘n manier te leef, dat jy jou skoonkinders vir die Here wen.

Dis beslis wat Naomi gedoen het, want Rut kies later om saam met haar terug te gaan Israel toe en God te dien.

JY HET ‘N ROL OM TE SPEEL.

Naomi het haar in baie moeilike omstandighede bevind. Gelukkig het dit haar nie blind gemaak vir die positiewe nie.

Sy beraam ‘n plan om vir haar en Rut ‘n toekoms te verseker en hulle lewensomstandighede te verbeter.

Net soos Naomi ‘n rol gespeel het in die verandering van hulle omstandighede, het ek en jy ook ‘n rol om te speel wanneer ons omstandighede moeilik is.

God gee vir ons wysheid en inisiatief en ons moet dit gebruik en saam met Hom werk om ons omstandighede te verander.

LIG AAN DIE EINDE VAN DIE TONNEL.

Vir Naomi moes dit op ‘n stadium gelyk het asof daar net duisternis om haar is. Sy het beslis nie lig aan die einde van die tonnel gesien nie.

Maar dis nie waar haar verhaal ophou nie.

Na verloop van tyd verander haar swaarkry in vreugde. Daar was dus lig aan die einde van die tonnel!

Ek en jy moet onthou dat swaarkry ‘n vervaldatum het. Dit hou nie vir altyd aan nie. Die donker tonnel gaan op een of ander stadium ophou en dan gaan daar weer lig wees.

Ons moet net moed hou en die pad saam met God bly stap.

WAT ONS OOR GOD KAN LEER.

Daar is dinge wat ons by Naomi kan leer oor hoe ons die lewe moet aanpak.

Dan is daar ook dinge wat ons by haar oor God kan leer.

GOD IS BY JOU.

Dit het dalk nie vir Naomi so gelyk nie, maar God het haar swaarkry gesien.

Hy was by haar en het haar gehelp om die swaarkry in vreugde te verander.

Net so weet God ook wanneer ek en jy swaarkry. En Hy is elke tree van die pad saam met ons om ons te help.

Onthou jy wat in Psalm 23 staan? In vers 4 staan: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.”

Selfs die donkerste donker hoef ons nie bang te maak nie.

God is altyd by ons en Hy sal ons help om deur die donker te stap en weer by die lig uit te kom.

GELOOF IN GOD.

Dis maklik om te sê jy glo in God wanneer dinge goed gaan. Maar wanneer dinge nié so goed gaan nie, is dit nie altyd so maklik nie.

Geloof in God beteken egter nie dat ons net glo wanneer dit goed gaan en geloof verloor wanneer dit sleg gaan nie.

Om in God te glo beteken dat ons volhardend aan ons geloof vasklou, ongeag die omstandighede.

In 1 Timotheus 6:12 noem Paulus dit die ‘goeie stryd van die geloof’.

Om in alle omstandighede te bly glo is ‘n stryd, maar dis een wat ons met God se hulp kan wen.

Ons kán staande bly en bly glo en vertrou dat God in beheer is en dat Hy vir ons uitkoms sal gee!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *