
Vandag gaan ons ‘n bietjie gesels oor Jesaja 30:1-21. Daar is soveel waarhede in hierdie verse opgesluit.
Kom ons kyk wat ons kan leer.
JOU EIE PLAN.
Die hoofstuk begin waar die Here vir die volk sê hulle is koppige kinders. Hulle is besig om planne uit te voer, maar sonder Hom. Hulle sluit verdrae, maar nie volgens Sy Gees nie. Dan soek hulle boonop toevlug by die farao in Egipte, maar vra nie na God se wil nie (vs.1-2).
Net uit hierdie twee verse sien ‘n mens dat die Israeliete die Here geïgnoreer en hulle eie ding gedoen het.
Hulle het duidelik beskerming nodig gehad. Maar in plaas daarvan om dit in die skaduwee van die Almagtige te gaan soek (Psalm 91), hardloop hulle heeltyd Egipte toe. God sê dan ook dat hulle wil skuil in die skadu van Egipte (vs.2).
Ek weet nie van jou nie, maar ek sien myself in hierdie twee verse. Ek het ook al my eie planne gemaak – planne waar ek nie vir God gevra het wat ek moes doen nie.
Het ons dit nie al almal een of ander tyd gedoen nie?
Maar dis nooit ‘n goeie idee nie.
Want wanneer ons ons eie planne uitdink sonder om God in die saak te ken, is ons koppig. Die Ou Afrikaanse Vertaling sê ons is opstandig.
GOD SE PLAN.
Jeremia 29:11 is ‘n bekende vers wat ons gereeld aanhaal wanneer ons wil sê dat God ‘n plan vir elke mens se lewe het.
En dis waar, maar daardie plan gaan nie sommer outomaties realiseer nie. Ons moet saam met God werk om die plan in werking te stel en ‘n sukses daarvan te maak.
Hoe doen ons dit?
Spreuke 3:5-6 gee ons die antwoord: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.”
Ons moet leer om op die Here te vertrou om ons die regte pad te wys. Ons sien nie die geheelbeeld, die groot prentjie, nie. Daarom kan ons nie ‘n plan maak wat regtig suksesvol gaan wees nie. Maar, as ons God se opinie vra, sal Hy ons wys wat om te doen. Hy sal ons die regte plan gee, selfs al is dit een tree op ‘n slag.
‘N REBELSE VOLK.
Kom ons lees ‘n bietjie verder uit Jesaja 30. In vers 9 staan: “Want dit is ‘n rebelse volk, kinders wat lieg, kinders wat nie wil luister na die Wet van die Here nie…”
Hierdie vers gee ons ‘n bietjie meer inligting oor iemand wat rebels is.
‘n Rebel, in hierdie geval, is iemand nie na God se Wet luister nie. Onthou dat hierdie gedeelte uit die Ou Testament kom. Toe het Israel net die Wet en die profetiese boeke gehad. Nou kan ons sê iemand wat rebels is, is iemand wat nie na God se Woord wil luister nie.
Verder sê die vers ‘n rebel is iemand wat lieg, met ander woorde, iemand wat vals is. Wanneer ons teen God rebelleer, dan tree ons nie op soos Sy kinders nie.
Ons sien dus uit hierdie vers dat ‘n mens teen God rebelleer wanneer jy nie gehoorsaam is aan wat Hy jou uit Sy Woord leer nie.
Net soos in die vorige gedeelte, is ons ook almal op een of ander stadium hieraan skuldig.
Partykeer weet ons dat ons iets nie moet sê nie, maar ons sê dit in elk geval.
Of ons weet dat ons liewer nie moet doen wat ons wil doen nie, maar ons doen dit tog.
En dit maak ons getuienis vir Jesus seer. Dis nou maar eenmaal so dat mense eerder kyk na wat jy doen as wat hulle altyd luister na wat jy sê. Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat sê: “Action speaks louder than words”.
Dit help nie ons sê ons glo in Jesus en dan tree ons op asof ons Hom nie eers ken nie.
DIE OPLOSSING VIR REBELLIE.
In Sy groot genade leer God die Israeliete, en ook vir ons, wat ons moet doen wanneer ons agterkom ons rebelleer teen Hom.
In vers 15 staan: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag…”
Die woord ‘bekeer’ beteken om ‘n verandering van hart te ondergaan of om tot inkeer te kom.
Wanneer jy besef jy is besig om teen God te rebelleer, moet jy tot inkeer kom. Jy moet ‘n hartsverandering ondergaan. In plaas daarvan om jou eie kop te volg en die verkeerde te doen, moet jy terugkeer na God. Jy moet rus in Wie Hy is en in die waarhede van Sy Woord. En natuurlik moet jy weer leer om Hom te vertrou.
As Hy jou dan ‘n opdrag gee, moet jy dit uitvoer – presies soos Hy gesê het. Moenie iets byvoeg nie en moet ook nie iets uitlaat nie.
GOD SE GENADE EN ONTFERMING.
In die eerste gedeelte van Jesaja 30 verduidelik God wat Sy volk gedoen het toe hulle teen Hom gerebelleer het.
As jy dit lees, is die maklik om te dink dis die einde van die pad vir hulle. God gaan hulle nooit vergewe nie.
Maar dis nie wat God doen nie.
In verse 18-19 lees ons wat God se hart teenoor hulle is. Daar staan: “Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is ‘n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.”
Die volk het teen God in opstand gekom. Hulle het nie gedoen wat Hy vir hulle gesê het om te doen nie. En tog is God se hart om genadig teenoor hulle te wees. Hy wil Hom oor hulle ontferm. Hy belowe ook om hulle gebede te verhoor as hulle na Hom roep om hulp.
Dit is steeds God se hart teenoor elkeen van ons. Hy hou dit nie teen ons wanneer ons ‘n afdraaipad kies en ons eie ding doen nie. Nee, Hy wil ons steeds genadig wees en Hom oor ons ontferm. Hy wag dat ons tot inkeer kom, na Hom roep en Hom vertrou om ons te antwoord en ons te help.

GOD SAL JOU DIE PAD WYS.
Jesaja 30:21 is een van my gunsteling verse in die Bybel. Daar staan: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.'”
God belowe die volk nie net dat Hy hulle gebede om hulp sal verhoor nie, maar ook dat Hy hulle op die regte pad sal lei. Wanneer hulle Sy pad verlaat, sal Hy hulle nie maar laat begaan nie. Nee, Hy sal hulle terugbring sodat hulle weer die regte pad kan loop.
En dis presies wat Hy vir jou en vir my ook wil doen.
In Psalm 23:3b staan: “Hy lei my op die regte paaie ter wille van Sy Naam.”
Dit maak nie saak watter afdraaipad ons kies nie, God is daar om ons te keer en ons terug te bring na die regte pad, Sy pad.
WAT ONS GELEER HET.
Goed, kom ons kyk gou weer na die verskillende dinge wat ons uit Jesaja 30 geleer het.
- Wanneer ons maak soos ons wil is ons in rebellie teen God.
- Iemand wat rebels is, tree nie soos ‘n kind van God op nie.
- Bekering + rustigheid = redding.
- Kalmte + vertroue = krag.
- God wil genadig en barmhartig teenoor ons wees. Hy belowe om ons te antwoord wanneer ons Hom vra om ons te help.
- As ons tot inkeer kom en terugdraai na God toe, belowe Hy om ons te lei sodat ons die regte pad loop.
Ek vertrou dat hierdie waarhede in Jesaja 30 vandag vir jou iets beteken het.
As jou lewe op dié stadium ‘n lewe van rebellie teen God is, dan hoop ek dit het jou oë oopgemaak, sodat jy weet jy rebelleer teen God. Draai terug na Hom toe. Hy wil jou genadig wees.
Ek hoop ook die waarhede moedig jou aan om God te bly vertrou om jou te wys wat die regte pad is wat jy moet stap. Onthou, Hy sien die groter prentjie en Hy weet presies wanneer jy wat moet doen om Sý plan vir jou lewe te volg. Jy moet net luister wat Hy sê en Hom dan in gehoorsaamheid volg.

Eks so dankbaar vir God se woord.ek het n liefde vir God se werk.en soek altyd na Meer.baie dankie.
Geseende dag
Margie
Groot plesier! Bly dit beteken iets vir jou.
Ek is so bly om deel te kan wees van die bybelstudie want daar is so baie wat n mens graag wil weet .
Groete
Johan
Welkom by ons, Johan! Lekker om jou hier te hê.
Hierdie boodskap het op die regte tyd gekom Dankie HERE daarvoor
Groot plesier! Bly dit het iets vir jou beteken.