RIGTERS – WAT JY MOET WEET

Rigters - wat jy moet weet

Ons het in vorige artikels gekyk na die eerste ses boeke van die Bybel, en wat jy alles daaroor moet weet wanneer jy ‘n Bybelstudie oor die boek wil doen. Die inligting sal jou help om die boek so ‘n bietjie beter te verstaan.

Vandag gaan ons kyk na Rigters. Dis die sewende boek van die Bybel.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Net soos Josua, wat genoem is na een van die hoofkarakters in die boek, is Rigters ook genoem na van die hoofkarakters in die boek – die rigters.

Die naam van die boek in ons Bybels is afgelei van die Latynse Vulgaatvertaling wat die opskrif ‘Liber Judicum’ gehad het.

In Hebreeuse naam vir die boek is Shophetim, afgelei van die Hebreeuse woord vir rigter, shophet. Hierdie woord het verskillende betekenismoontlikhede. Twee daarvan is om reg te spreek en om te regeer.

WAAR RIGTERS AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.

Rigters speel af in die Beloofde Land.

Dit dek ‘n tydperiode van ongeveer 490 jaar na Josua se dood tot en met Samuel.

WIE HET RIGTERS GESKRYF?

Volgens Hebreeuse tradisie is die boek deur Samuel geskryf.

Dit is tien teen een in die tyd van koning Saul geskryf.

WAT SE TIPE BOEK IS RIGTERS?

Waar Josua ‘n boek oor oorwinning was, is Rigters ‘n boek oor versuim.

Die volk het versuim om getrou te bly aan God. Hulle het versuim om die hele land in te neem en te oorwin. En hulle het versuim om God se opdragte na te kom.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Rigters wys ons daarop dat kompromieë nie werk nie.

Die Israeliete het op allerhande maniere gemeng met die volke wat in die land gebly het. Dis iets wat God verbied het.

Dit het veroorsaak dat hulle nie meer vir God gedien het nie. En hoe langer dit aangehou het, hoe meer het die volk agteruit gegaan.

HOOFTREKKE VAN RIGTERS.

Rigters kan as volg ingedeel word:

1:1-2:5 – Die wortels van wetteloosheid.

2:6-16:31 – Israel se wettelose bestaan.

17:1-21:25 – Die gevolge van wetteloosheid.

‘n Mens kan die boek egter ook indeel deur te kyk na die verskillende rigters wat in die tyd opgetree het.

BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.

Ons kry die volgende belangrike karakters in die boek:

Otniël – Hy was Kaleb se jonger broer en het die koning van Aram oorwin. Hy was ook een van net 5 rigters van wie ons lees dat die Gees van God op hulle gerus het.

Ehud – Hy was linkshandig en het ‘n sluipmoord-aanval op die koning van Moab uitgevoer.

Samgar – Hy het 600 Filistyne met ‘n stok doodgeslaan.

Debora – Sy was die enigste vroulike rigter. Sy was ‘n profetes en ook ‘n militêre bevelvoerder teen die Kanaäniete.

Gideon – Hy was die aanvoerder teen die Midianiete.

Abimeleg – Hy was die eerste persoon wat homself aangestel het as koning oor Israel.

Tola – Hy het opgetree as rigter na die dood van Abimeleg.

Jaïr – Hierdie rigter het 30 seuns gehad wat elkeen op ‘n donkie gery het.

Jefta – Hy was die seun van ‘n prostituut en het die Ammoniete oorwin. Dis ook die man wat God belowe het dat, as Hy hom die oorwinning gee, hy die eerste een wat by sy huis uitkom wanneer hy van die oorlog terugkeer, aan Hom sou offer. Ongelukkig was daardie persoon sy enigste kind.

Simson – Sy verhaal is seker een van die bekendste rigter-verhale in die Bybel. Hy was baie sterk, maar kon ongelukkig maklike deur ‘n mooi vrou verlei word.

Miga – Hy het sy ma se silwer gesteel, maar dit later vir haar teruggegee. Toe het sy weer ‘n deel daarvan vir hom gegee om ‘n silwer afgod van te maak.

GOD SE NAME.

Ons kry twee van God se Name in hierdie boek.

Die Here Is Vrede – 6:24.

Die Here, die Regter – 11:27.

GELOOFSLESSE UIT DIE BOEK.

Ons kan die volgende geloofsles uit die boek leer: afgodery is gevaarlik. Dit lei op die ou end tot immoraliteit.

Die mens het God, Sy leiding en heerskappy in ons lewens nodig.

Ongelukkig is dit moontlik om die ware God te verwerp en iets of iemand anders in Sy plek te sit.

JESUS IN RIGTERS.

Ons sien Jesus op drie verskillende maniere in die boek.

In Rigters 2:1 lees ons van die Engel van die Here. Dit is Jesus.

Elke rigter wat die volk van hulle vyande verlos het is ook ‘n beeld van Jesus. Hy is die Verlosser wat almal wat in geloof na Hom toe kom, verlos van die geestelike vyand.

Laastens sien ons Jesus in die fabel oor die bome, wat in hoofstuk 9:8-15 vertel word.

INTERESSANTHEDE IN DIE BOEK.

Daar is ‘n hele paar interessanthede in Rigters.

  • Daar word twaalf rigters genoem. Dit stem ooreen met die twaalf stamme van Isreal, hoewel daar nie een rigter uit elke stam was nie.
  • Behalwe die twaalf ‘groot’ rigters, was daar ook ‘n paar ‘klein’ rigters. Die ‘groot’ rigters het gewoonlik ‘n militêre rol gespeel. Die ‘klein’ rigters het meer die funksie van ‘n administratiewe beampte vervul. Jefta is die enigste rigter wat ‘n ‘groot’ en ‘n ‘klein’ rigter was.
  • Israel was ‘n patriargale samelewing. Daarom is dit nogal verbasend dat ‘n vrou ook as rigter opgetree het.
  • Die lied van Debora in hoofstuk 5 is een van die oudste liedere in die Bybel.
  • Daar is interessante ooreenkomste tussen Moses en Gideon. Moses kruip in Midian weg terwyl Gideon vir die Midianiete wegkruip. Albei word deur God bemagtig wanneer Hy sê: Ek stuur jou. Nie een van die twee het opgewasse gevoel vir die taak nie, maar God verseker hulle dat Hy by hulle is. Altwee ontvang ‘n teken en ontvang hulle roeping met vuur. En albei se roeping kom direk van God af.

UNIEKE FEITE.

In Rigters sien ons die genade van God. Hy bewaar Israel telkens ten spyte van hulle opstand en afgodediens.

Ons sien ook die werk van die Heilige Gees, wat op sommige van die rigters kom om hulle te bekragtig vir dit wat hulle moes doen.

En laastens is die rigters die voorlopers van die konings wat volgende sou kom.

SLEUTELVERS IN RIGTERS.

Die laaste vers in die boek som baie mooi op wat in die vorige hoofstukke gebeur. Daar staan: “In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (21:25).

RIGTERS IN JOU LEWE.

Hoe kan ons Rigters in ons lewens toepas?

  • ‘n Kenmerk van die boek is die herhalende patroon van ongehoorsaamheid – straf – verlossing. Dit wys ons dat God nie ongehoorsaamheid in Israel geduld het nie, maar dat Hy telkens ook genade betoon en hulle red. God duld ook nie gehoorsaamheid in ons lewens nie, maar Hy bewys ook genade en vergewe ons wanneer ons ons sondes bely.
  • Die boek wys duidelik dat God enige iemand kan gebruik. Simson het maklik vir ‘n mooi vrou geval. Ehud en Jael was eintlik altwee sluipmoordenaars. Net soos God hierdie mense kon gebruik, kan Hy vir jou en my gebruik. Ons moet net bereid wees om deur Hom gebruik te word en dan met Hom saamwerk om Sy doel in ons lewens te bereik.
  • God het Israel beveel om die land in te neem en te beset. Dit was ‘n toets vir gehoorsaamheid. Maar hulle het telkens die toets gedruip. Ons moet ons lewens gereeld ondersoek om te kyk of ons gehoorsaam is aan die Here of nie.
  • Rigters herinner ons daaraan dat dit maklik is om aan God ongehoorsaam te word wanneer dinge goed gaan. Is jy gehoorsaam aan God in tye van voorspoed en teëspoed?
  • Die boek herinner ons ook daaraan dat God se genade groot is en dat Hy altyd daar is om ons te red. Dit stel ‘n mens gerus wanneer dinge in die lewe nie so rooskleurig is nie.

VORIGE ARTIKELS.

Ek het skakels na al die vorige artikels oor die boeke van die Bybel op een blad gesit om dit makliker te maak om die artikels te kry.

As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *