JESUS IN NUMERI

Jesus in Numeri

In ‘n vorige artikel het ons gesels oor ‘n hele paar interessante dinge wat jy oor Numeri moet weet. In hierdie artikel gaan ons na nog ‘n paar van hierdie dinge kyk. Ons gaan ook kyk waar ons Jesus in Numeri kan sien.

BELANGRIKE KARAKTERS IN NUMERI.

Moses – Hy tree op as leier en is die bemiddelaar tussen God en die volk terwyl hulle op pad is na die Beloofde Land.

Aäron – Moses se broer. Hy is die eerste hoëpriester en moet saam met die priesters die tabernakel in stand hou en die offerdiens laat funksioneer.

Mirjam – Moses se suster. Sy kritiseer vir Moses en word met melaatsheid gestraf. Nadat Moses vir haar intree, word sy weer gesond.

Joshua – Een van die twaalf manne wat uitgestuur word om die Beloofde Land te verken. Hy is een van net twee wat positiewe terugvoer oor die land gee. Hy word ook aangewys as Moses se opvolger.

Kaleb – Nog een van die twaalf manne wat die land verken het. Saam met Joshua gee hy positiewe terugvoer oor die land en moedig die volk aan om dit in besit te neem.

Korag – Hy kom saam met Datan en Abiram in opstand teen Moses en Aäron. Die grond word onder hulle oopgeskeur en hulle word lewend verswelg.

Bileam – Hy was ‘n profeet of ‘n siener wat deur Balak, die koning van Moab, gehuur word om die Israeliete te vervloek. Maar hy kon dit nie doen nie en seën hulle eerder as om hulle te vervloek.

LITERATUURSOORTE IN NUMERI.

Gewoonlik wanneer ‘n mens na ‘n Bybelboek kyk, dan weet ‘n mens dis ‘n boek vol verhale of gedigte of dis ‘n brief, ensovoorts.

Numeri het egter meer as een literatuursoort, wat nogal interessant is.

Daar is verhale, gedigte, profesieë, liedere en gebede. Daar is ook seënbedes, briewe, wette, orakels, sensuslyste, argiefmateriaal en die beskrywing van ‘n reis.

NUMERI IN DIE NUWE TESTAMENT.

Daar word ‘n paar keer in die Nuwe Testament na Numeri verwys.

In Lukas 2:23 word verwys Numeri 3:13 en 8:17, waar daar opdrag gegee word oor die eersgeborenes wat aan God gewy moet word.

In Johannes 19:36 lees ons dat nie een van Jesus se bene gebreek is toe Hy gekruisig is nie. Dit verwys na die opdrag in Numeri 9:12 dat die Paaslam se bene nie gebreek moes word nie.

Laastens lees ons in Mattheus 5:33 Jesus sê die wet het bepaal dat ‘n mens nie jou eed teenoor God mag verbreek nie. Dit verwys na Numeri 30:2, waar hierdie opdrag vir die Israeliete gegee is.

JESUS IN NUMERI.

Net soos in Genesis, Eksodus en Levitikus, waarna ons reeds gekyk het, kan ‘n mens ook vir Jesus in Numeri sien.

DIE KOPERSLANG.

In Numeri 21 lees ons dat die Israeliete teen Moses uitgevaar het omdat hulle nie brood en water in die woestyn het nie en moeg is vir die kos wat God voorsien.

Die Here straf hulle deur giftige slange onder hulle in te stuur. Baie van die mense gaan dood as gevolg van die slange wat hulle pik.

Wanneer die volk erken dat hulle teen God gesondig het, beveel Hy vir Moses om ‘n koperslang te maak en op ‘n paal te sit. Almal wat gepik is en na die slang opkyk, het gesond geword.

In Johannes 3:14-15 verwys Jesus na die koperslang as ‘n skadubeeld van wat Hy aan die kruis sou doen. Daar staan: “En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.

DIE ROTS WAT WATER GEE.

In Numeri 20 lees ons dat daar nie water was vir die volk om te drink nie. Hulle het teenoor Moses en Aäron gekla daaroor. Dié twee het God gaan raadpleeg oor wat hulle omtrent die probleem moes doen.

God het beveel dat hulle met die rots moes praat en dan sou daar water uit die rots vloei. Moses was egter kwaad vir die volk en slaan die rots in plaas van om daarmee te praat. Ten spyte van sy ongehoorsaamheid, gee God steeds water uit die rots.

In 1 Korinthiërs 10:4 lees ons dat dié rots ‘n skadubeeld van Jesus was.

1 Korinthiërs 10:1-4 staan: “Broers, ek wil nie hê julle moet hieroor onkundig wees nie: Ons voorouers was almal onder die wolk,men het almal deur die see gegaan, en in verbondenheid met Moses, is almal in die wolk en in die see gedoop, en almal het dieselfde geestelike kos geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus.

MANNA IN DIE WOESTYN.

Manna word twee keer in die Bybel beskryf. Die eerste keer in Eksodus 16 en die tweede keer in Numeri 11.

In Numeri staan daar dit was soos koljandersaad en het die kleur van balsemhars gehad.

Ook in die manna sien ons vir Jesus.

In Johannes 6:30 lees ons dat die mense vir Jesus gevra het om vir hulle ‘n wonderteken te doen sodat hulle in Hom kon glo. Dan sê hulle dat Moses vir die Israeliete brood uit die hemel gegee het om te eet.

Maar Jesus antwoord dat dit nie Moses is wat brood uit die hemel gee nie, maar God die Vader. Hy gee die ware brood. Daardie brood is Jesus.

Die manna is dus ook ‘n skadubeeld van Jesus, die ware Brood uit die hemel, die Brood wat lewe gee.

DIE STER VAN JAKOB.

Jesus word ook gesien in die ster van Jakob.

Ons lees daarvan in Numeri 24:17. Daar staan: “Ek sien hom, maar dit is nie nou nie, ek neem hom waar, maar hy is nie naby nie. ‘n Ster uit Jakob tree na vore, ‘n heerserstaf uit Israel verskyn; hy verbrysel die slape van Moab, en vernietig al die kinders van Set.

In Mattheus 2:2 lees ons van die ster wat Jesus se geboorte aangekondig het.

Ons lees ook van Jesus as die môrester in 2 Petrus 1:19: “En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte.

En laastens lees ons in Openbaring 22:16 van Jesus as die môrester: “Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *