WAT WAAR IS VAN JOU OMDAT JY IN JESUS GLO

Wat waar is van jou omdat jy in Jesus glo

Verlede naweek het gelowiges wêreldwyd Paasnaweek gevier. Ons het onthou wat Jesus vir ons gedoen het toe Hy gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Ons is gered omdat ons in Jesus glo en nou is daar sommer ‘n hele klomp dinge wat waar is van ons.

Johannes 1:12

Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.

Johannes 15:15

Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

Romeine 5:1

Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.

1 Korinthiërs 6:17

Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom.

1 Korinthiërs 6:19-20

Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.

1 Korinthiërs 12:27

Julle is die liggaam van Christus, en elkeen individueel ‘n ledemaat.

Efesiërs 1:3-8

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig.

Kolossense 1:13-14

God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.

Kolossense 2:9-11

Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is.

Hebreërs 4:14-16

Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.

Romeine 8:1-2

Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Romeine 8:28

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is…

Romeine 8:31-32

Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?

Romeine 8:37-39

Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

2 Korinthiërs 1:21-22

Dit is God wat ons saam met julle in Christus ‘n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.

Filippense 3:20

Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag.

2 Timotheus 1:7

God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

1 Johannes 5:18

Ons weet dat niemand wat uit God gebore is, aanhou sonde doen nie; maar Hy wat uit God gebore is, beskerm hom, en die Bose kan hom niks aandoen nie.

Johannes 15:5

Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.

Johannes 15:16

Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee.

1 Korinthiërs 3:16

Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?

2 Korinthiërs 5:17-21

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

Efesiërs 2:4-6

Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel…

Efesiërs 2:10

Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.

Efesiërs 3:12

In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, ‘n seker en vrymoedige toegang tot God.

Filippense 4:13

Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.

1 Petrus 2:9-10

Julle, egter, is “‘n uitverkore geslag”, “‘n koninklike priesterdom”, “‘n heilige nasie”, “‘n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het.

Galasiërs 2:19-20

Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.

Galasiërs 3:26-29

Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.

Romeine 8:17

Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

1 Johannes 4:4

Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

Filippense 4:19

En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.

Kolossense 3:12

Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.

2 Petrus 1:4

Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is.

Lees weer die verse hierbo. Dit is waar van jou omdat jy in Jesus glo.

Deel hierdie blad

1 comment

  1. dit is vir my baie intressand, dat die mensdom die haas gebruik vir paas naweek, ek kan dit nie klein kry nie,
    Jesus is die Lam wat ter slagting gelei is vir ons sonde, en as hy nie gesterf het nie, wat sou van ons geword het,
    ek is `n kind van Jesus, en soms voel dit vir my ek staan alleen,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *