GOD IS GETROU – 33 BYBELVERSE

God is getrou - 33 Bybelverse

Ons leef in ‘n tyd waar baie mense besig is om hoop te verloor. Maar ons as God se kinders, kan altyd vol hoop wees, omdat ons weet ons dien ‘n God wat getrou is. Sy getrouheid ken geen einde nie, want Hy verander nooit.

In Romeine 10:17 lees ons: “Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.” Van die Engelse vertalings vertaal hierdie vers só: “So then faith comes by hearing, and hearing by the word of God.”

Ons sien dus dat geloof in ons harte gewek word wanneer ons God se Woord hoor, maar veral wanneer ons die goeie nuus oor Jesus hoor.

Dalk is jy besig om moedeloos te raak en hoop te verloor. Dalk voel jy jou geloof is op dié stadium maar min. As dít is hoe jy voel, lees dan die verse hieronder. Dink na oor wat daarin staan en wat dit vir jou in jou lewe beteken.

Elke vers vertel vir ons iets omtrent die getrouheid van God. Die eerste klompie verse kom uit die Ou Testament, die laastes uit die Nuwe Testament.

Laat God se Woord toe om geloof in jou hart te wek en jou te herinner aan die getrouheid van God. Hy kom altyd Sy beloftes na en doen wat Hy gesê het!

16 VERSE UIT DIE OU TESTAMENT OOR GOD SE GETROUHEID.

Deuteronomium 7:7-9

Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met ‘n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit ‘n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond en troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom…

Numeri 23:19

God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie?

Eksodus 34:6-7a

Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe…”

Klaagliedere 3:22-23

Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut –
groot is u getrouheid.

Psalm 89:9

Here, God van alle magte, wie is so magtig soos U, Here? U trou omring U…

Psalm 36:6

Here, tot aan die hemel reik u troue liefde, u getrouheid tot aan die wolke.

Psalm 119:89-91

Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. Volgens u beslissings
hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte.

Maleagi 3:6a

Ek, die Here, het immers nie verander nie.

Deuteronomium 31:6

Wees dapper en sterk; moenie bang wees nie en moenie vir hulle skrik nie, want die Here jou God, Hy is die Een wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.

Psalm 94:14

Ja, die Here sal sy volk nie in die steek laat nie; sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie.

Psalm 37:23-24

Danksy die Here stap ‘n jong man met ferm treë; en die Here is tevrede met sy lewenspad. As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die Here hou hom aan sy hand.

Psalm 9:11

Wie u Naam ken, kan op U vertrou, want U laat hulle wat U soek nie in die steek nie, Here.

Psalm 145:14-15

Die Here ondersteun almal wat val, en help almal regop wat neergeboë is. Almal se oë is vol verwagting op U gerig, en U gee vir hulle hulle kos op tyd.

Psalm 111:2-9

Indrukwekkend is die werke van die Here, ‘n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind. Vol luister en glansrykheid is wat Hy doen, en sy geregtigheid hou stand vir altyd. Hy het bewerk dat sy wonders onthou word. Genadig en barmhartig is die Here. Hy het kos gegee aan wie vir Hom ontsag het. Hy hou vir ewig sy verbond in gedagte. Die krag van sy dade het Hy aan sy volk bekend gemaak deur die erfdeel van nasies aan hulle te gee. Die werk van sy hande is betroubaar en reg. Betroubaar is al sy opdragte, bestendig vir altyd, vir ewig – dit word nagekom in trou en opregtheid. Verlossing het Hy vir sy volk gestuur. Hy het sy verbond vir ewig voorgeskryf. Heilig en ontsagwekkend is sy Naam.

Joshua 23:14

Kyk, ek loop vandag die pad van almal op aarde. Erken met julle hele hart en julle hele wese dat nie een woord van al die goeie beloftes wat die Here julle God teenoor julle uitgespreek het, onvervuld gebly het nie; alles is vir julle vervul, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.

Jesaja 46:10

Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer,’…

GOD IS GETROU: 17 VERSE UIT DIE NUWE TESTAMENT.

2 Timotheus 2:13

…as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.

1 Korinthiërs 10:13

Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ‘n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.

2 Thessalonisense 3:3

Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar.

1 Johannes 1:9

As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.

1 Korinthiërs 1:9

God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here.

Hebreërs 10:23

Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou.

Openbaring 19:11

Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was ‘n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.

Hebreërs 13:8

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid.

Filippense 4:19

En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.

Romeine 4:19-21

Sy [Abraham se] geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen.

1 Korinthiërs 1:4-9

Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in Christus Jesus. Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here.

Romeine 8:28

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is…

Hebreërs 11:6

Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.

1 Thessalonisense 5:23-24

En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus Christus kom. Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.

Hebreërs 6:13-18

Toe God aan Abraham ‘n belofte gemaak het, het Hy, aangesien Hy niemand belangriker gehad het om by te sweer nie, by Homself gesweer. Hy het gesê: “Ek sal jou ryklik seën, en jou veelvuldig laat vermeerder.” En so, terwyl hy geduldig gewag het, het hy die belofte verkry. Mense sweer immers by iemand belangriker as hulle, en die eed tot bevestiging beteken vir hulle die einde van alle teenspraak. Omdat God vir die erfgename van die belofte nog soveel sekerder wou aantoon hoe onveranderlik sy besluit was, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, ‘n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê.

Romeine 3:3-4

Maar wat nou? As sommige ontrou geword het, maak hulle ontrouheid God se getrouheid ongedaan? Hoegenaamd nie. Al is elke mens vals, laat God waaragtig wees. Soos daar geskryf staan, “sodat U reg bewys kan word deur u woorde, en U sal wen wanneer U oordeel”.

2 Korinthiërs 1:20

Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “amen” aan God, tot sy eer.

GOD IS GETROU.

Daar is baie waarhede omtrent God wat ons moet glo. Dit gaan ons help om Hom meer te vertrou en nie so maklik vir die leuens van die duiwel te val nie.

God is liefde is een belangrike waarheid wat ons moet glo. En God is getrou is nog een.

Dit maak nie saak wat tans in die wêreld, ons land of jou eie lewe aan die gang is nie, God is by jou. Hy is getrou en sal elke belofte wat Hy gemaak het, nakom.

Jy hoef dus nie moed of hoop te verloor nie.

God sal jou nooit verlaat, jou nooit in die steek laat nie.

Hy was nog altyd getrou en Hy sal getrou bly, want Hy verander nooit!

Deel hierdie blad

1 comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *