
Ek dink jy sal met my saamstem as ek sê die laaste twee jaar was nie maklik nie. So baie dinge het in hierdie ou wêreld gebeur. En as gevolg daarvan, leef baie mense met kommer, angs en vrees.
JESUS SE PREEK OOR KOMMER.
In Mattheus 6:19-34 lees ons wat Jesus op ‘n dag vir die skare geleer het oor bekommernis.
In Sy preek leer Hy dat ons nie bekommerd moet wees nie.
Hoekom nie?
Jesus gee ‘n paar redes.
1. DIE MENS HET WAARDE IN GOD SE Oë.
Jesus begin deur te praat oor die voëls van die hemel. Hulle saai nie en oes nie. Hulle maak ook niks in skure bymekaar nie.
Nee, die Hemelse Vader voorsien in hulle behoeftes.
Dan sê Jesus dat mense baie meer werd is as hulle.
Jy sien, die mens het waarde in God se oë. Ons is vir Hom soveel werd dat Hy bereid was om Jesus te stuur om die prys vir ons sonde te betaal.
En as Hy bereid was om dít te doen, dan hoef ons nie bekommerd te wees dat Hy nie verder vir ons sal sorg nie.
Ons kan kommer, angs en vrees eenkant toe skuif, want ons weet God sal in ons behoeftes voorsien.
2. KOMMER HELP NIKS.
Het jy al op ‘n wiegstoel (rocking chair) gesit en wieg? Jy is aan die beweeg, maar jy gaan nêrens heen nie.
Kommer is dieselfde. Dit bring jou nêrens.
Wanneer jy jou bekommer speel jy oor en oor verskillende senarios in jou kop. Jy bekyk die probleem van een kant en dan van ‘n ander kant. Maar al jou kommer bring jou nie by ‘n oplossing nie.
Jesus het die nutteloosheid van kommer só beskryf: “Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg?”
3. GOD WEET WAT ONS NODIG HET.
Volgende praat Jesus oor die wilde narsings of die lelies van die veld.
Net soos die voëls sorg hulle ook nie vir hulleself nie. Hulle swoeg nie soos mense om iets bymekaar te maak nie. Weereens sien ons dat God vir hulle sorg. Dit is Hý wat hulle klee in die mooiste kleure en hulle vul met die lieflikste geure.
God sorg vir die voëls en die blomme, want Hy het hulle gemaak. Hy weet wat hulle nodig het om te kan lewe, want dis hoe Hy hulle geskep het.
God het ons ook geskep met sekere behoeftes. Hy weet ons het kos, water, klere, ensovoorts nodig. Dis hoe Hy ons gemaak het. En omdat Hy ons geskep het met hierdie basiese behoeftes, sal Hy daarin voorsien.
4. GOD IS ONS VADER.
Die vierde rede waarom ons ons nie hoef te bekommer nie, is my gunsteling.
Ons hoef ons nie te bekommer nie omdat God ons Vader is.
Dink ‘n bietjie aan die beste pa wat jy nog ooit gesien het. Dalk is dit jou eie pa of dalk jou oupa. Dalk het jy nooit jou eie pa geken nie, maar iemand wat jy ken het ‘n goeie pa na wie jy opkyk.
Dáárdie pa, goed soos hy is, is nie naastenby so goed soos God nie.
God is die beste Vader, die beste Pa, wat enige mens ooit kan hê. Selfs al het jy dalk nie ‘n goeie aardse pa nie, het jy ‘n Hemelse Vader wat alle pa’s oortref.
En daarom hoef jy jou nie te bekommer nie.
NOG VERSE OM JOU TE BEMOEDIG.
Ons het nou gekyk na vier redes waarom Jesus sê ons nie bekommerd hoef te wees nie.
Hier is nog ‘n klompie verse om jou te bemoedig en jou te help om kommer, angs en vrees eenkant te skuif en God te vertrou.
OU TESTAMENT.
Psalm 55:23: “Werp jou las op die Here; Hy sal jou versorg, Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie.”
Psalm 9:10: “Die Here sal ‘n toevlugsoord wees vir die onderdrukte, ‘n toevlugsoord in tye van nood.”
Psalm 34:18;20: “Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle behoudhede red Hy hulle… ‘n Regverdige ervaar baie teenspoed, maar uit dit alles red die Here hom.”
Psalm 46:2: “God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.”
Psalm 94:18-19: “As ek dink my voet gaan swik, dan ondersteun U troue liefde my, Here. Wanneer onstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur U vertroosting my op.”
Psalm 34:10: “Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie die Here soek, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie.”
Psalm 37:25: “Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat ‘n regverdige versaak word, of dat sy nageslag kos soek nie.”
Spreuke 12:25: “Kommer in die hart van ‘n mens maak die hart neerslagtig, maar ‘n vriendelike woord beur dit op.”
Jesaja 35:3-4: “Maak die slap hande sterk, versterk die wankelende knieë. Sê vir dié wat angstig is: ‘Hou moed, moenie bang wees nie! Kyk, hier is julle God… Hy is die Een wat sal kom en julle verlos.'”
Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.”
NUWE TESTAMENT.
Mattheus 6:34: “Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”
Lukas 10:41-42: “Maar die Here antwoord haar: ‘Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.'”
Johannes 14:1: “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My.”
Johannes 16:33: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.”
Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens Sy voorneme geroep is…”
Filippense 4:6-7: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”
Filippense 4:19: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met Sy heerlike rykdom in Christus Jesus.”
Hebreërs 13:5-6: “Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my ‘n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?”
1 Petrus 5:6-7: “Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle.”
GOD GEE OM.
God gee om vir jou. Jy kan dus met vrymoedigheid na Sy genadetroon toe kom en al jou kommer, angs en vrees voor Hom kom lê.
En jy kan Hom vertrou om jou te beskerm, vir jou te sorg, na jou om te sien, en in al jou behoeftes te voorsien!

Ek dank die Here vir die goeie inligting,dit het my baie goed gedoen,ek was ook bekommerd oor iets wat die duiwel my bang gemaak het,en begin vrees,maar hierdie inligting was regtig vir my n inspirering nadat klaar gelees het en die Woord van God gemediteer het,was vrede in my hart,nogmaals baie dankie