
Ons het in April gesels oor verskeie eenvoudige metodes wat ons kan gebruik om mee Bybelstudie te te doen. Vandag gaan ons die Swaard Bybelstudie-metode gebruik om ‘n Bybelstudie oor Psalm 23 te doen.
DIE SWAARD BYBELSTUDIE-METODE.
Wanneer ons die Swaard Bybelstudie-metode gebruik, vra ons onsself 6 vrae:
- Wat leer ek oor God?
- Wat leer ek oor mense?
- Is daar ‘n belofte om te glo?
- Sien ek ‘n sonde wat ek moet vermy?
- Is daar ‘n voorbeeld om te volg?
- Is daar ‘n opdrag om te gehoorsaam?
Kom ons gebruik nou die ses vrae hierbo en kyk wat ons alles uit Psalm 23 kan leer.
(As jy meer oor Bybelstudie-metodes wil weet, vul dan jou inligting hieronder in en laai die gratis Bybelstudie-metode e-boekie af. Daarin sal jy 9 metodes kry wat jy in jou studietyd kan gebruik.)
PSALM 23.
Voor ons egter by die vrae van die studiemetode uitkom, kom ons lees eers wat staan in Psalm 23:
1 Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie.
2 In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
3 Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.
4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
5 U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor.
6 Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.
WAT LEER EK OOR GOD?
Die Bybel is ‘n boek oor God. Daarom moet ons altyd in enige Bybelstudie kyk wat daar is wat ons oor God kan leer. Om Hom te leer ken is immers ‘n groot deel van ons verhouding met Hom, en die Bybel is die beste plek waar ons kan begin om Hom te leer ken.
Wat leer Psalm 23 ons oor God?
- Die Here is ons Herder (vs.1).
- Hy gee rus en Hy stel ons gerus (vs.2 en 4).
- Hy gee ons nuwe lewenskrag (vs.3).
- God lei ons altyd op die regte pad (vs.3).
- Hy is altyd by ons (vs.4).
- Hy doen altyd goed aan ons (vs.5-6).
WAT LEER EK OOR MENSE?
Die volgende vraag wat ons onsself gaan vra is, wat leer ons uit die gedeelte oor mense?
- Mense ly soms gebrek (vs.1).
- Hulle het rus nodig (vs.2).
- ‘n Mens se lewenskrag kan min raak (vs.3).
- Ons weet nie altyd wat die regte pad is om te volg nie (vs.3).
- Mense gaan baie keer deur moeilike omstandighede (vs.4).
- Ons is geneig om bang te wees vir gevaar (vs.4).
- Ons kry almal, op een of ander stadium, met teenstanders te doen (vs.5).
Lees nou weer die dinge wat die Psalm ons oor mense leer, ‘n slag deur. Is daar een van die dinge wat genoem word, waarmee jy kan identifiseer?
Ek kan identifiseer met vers 3, waar ons sien dat ons lewenskrag min kan raak. Ek identifiseer ook met die gedeelte oor moeilike omstandighede in vers 4.
‘N SONDE OM TE VERMY?
Ons volgende vraag handel oor ‘n sonde om te vermy. Sien jy so iets in hierdie psalm?
Ek sien nie ‘n sonde wat in soveel woorde vir ons uitgespel word nie.
Ek sien wel die gedeelte van bang wees in vers 4. Daar is baie verse in die Bybel waarin die Here vir ons sê om nie bang te wees nie. En, hoewel dit nie ‘n sonde is om bang te wees nie, is dit dus iets wat ‘n mens maar liefs moet vermy. Ons moet, wanneer ons begin bang word, met ons geloof daarteen veg.

‘N BELOFTE OM TE GLO.
Die hele Psalm 23 is eintlik ‘n belofte.
Die Here is ons Herder, en wanneer ons Hom vertrou as Herder, kan ons op die volgende dinge reken:
- Ons sal nie gebrek ly nie (vs.1).
- Hy sal ons altyd rus gee (vs.2).
- Hy sal ons nuwe lewenskrag gee en ons op die regte pad lei (vs.3).
- Ons kan in alle omstandighede, selfs die negatiewes, verseker weet God is by ons en dat Hy ons sal gerusstel (vs.4).
- God se goedheid en troue liefde sal ons al die dae van ons lewe volg (vs.6).
‘N VOORBEELD OM TE VOLG.
Die volgende vraag wat ons onsself in ons Bybelstudie oor Psalm 23 vra, is of hier in die psalm ‘n voorbeeld is wat ons moet volg?
Ek sien Dawid was ‘n man wat God vertrou het. Hy het geweet God is altyd by hom en dat hy vir alles wat hy nodig het, na Hom toe moet gaan. Ongeag wat met hom gebeur het – omstandighede wat nie so lekker was nie of mense wat teen hom gedraai het – het Dawid steeds geglo dat die Here hom uit daardie situasies sou red. Hy het ook geglo dat God se goedheid en troue liefde hom elke dag volg.
Klink dit nie vir jou na ‘n hele klomp goeie voorbeelde om te volg nie?
‘N OPDRAG OM AAN GEHOORSAAM TE WEES.
In hierdie Psalm is daar ook nie ‘n uitdruklike opdrag wat ons moet gehoorsaam nie. Maar die hele psalm draai rondom vertroue op en geloof in God.
In Hebreërs 11:6 leer ons dat ons God nie kan behaag wanneer ons nie geloof het nie. Wie tot Hom nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek.
Sien jy waarom ons dus die opdrag om God te glo en Hom te vertrou uit hierdie psalm kan haal?
WAT HET ONS GELEER?
Ons het nou al die vrae van die Swaard Bybelstudie-metode in ons Bybelstudie oor Psalm 23 geantwoord. Nou is dit tyd om alles bymekaar te sit om te sien wat ons uit die psalm geleer het.
- Die Here is ons Herder. Wanneer ons gebrek ly, of dit nou fisies of geestelik is, kan ons na Hom toe kom en Hom vertrou om te voorsien.
- Mense word moeg. Hulle lewenskrag kan min word. Maar die Here is die Een wat rus gee en gerusstel. Dit is Hy wat ons vir ons nuwe lewenskrag gee. Ons moet dus na Hom toe kom wanneer ons voel ons kragte raak min, sodat Hy dit weer vir ons kan opbou.
- ‘n Mens weet nie altyd wat die regte pad is om te loop nie. Ons weet ook nie altyd wat die regte besluit is om te neem nie. Maar God weet. Hy weet altyd presies wat ons moet doen, en ook wanneer ons dit moet doen. As ons op Hom vertrou, sal Hy ons op die regte pad lei.
- Ons gaan moeilike omstandighede en mense wat teen ons is in hierdie lewe teëkom. Maar ons hoef nie bang te wees as dit gebeur nie. God is by ons. Altyd. Hy sal ons gerusstel, ons verfris en ons help.
- God is liefde. Hy is ook goed en ons kan daarop reken dat Sy goedheid en troue liefde ons al die dae van ons lewens sal volg.
- Wanneer dinge gebeur wat ons kan bang maak, moet ons daarteen veg met ons geloof in God.
- Net soos Dawid moet ons God te alle tye vertrou, selfs al lyk dinge rondom ons baie donker. God is altyd by ons en sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie.
BEMOEDIGING UIT PSALM 23.
Onthou jy ek het hierbo genoem dat ek identifiseer met die gedeelte oor lewenskrag wat min raak en oor moeilike omstandighede?
Ek is egter ook bemoedig, want uit die psalm weet ek dat God my weer nuwe lewenskrag sal gee. Hy sal my ook nie in moeilike omstandighede verlaat nie, maar my gerusstel.
Wat is daar in die psalm waarmee jy kon identifiseer? En hoe het die psalm jou bemoedig?
Baie dankie dat ons saam Bybelstudie oor Psalm 23 kon doen. Ek vertrou dat jy iets geleer het en dat jy ook bemoedig is.
Moenie vergeet om die gratis Bybelstudie-metode e-boekie af te laai nie. As jy op soek is na nog maklike Bybelstudie-metodes om te gebruik, dan is dié boekie net wat jy nodig het!

Baie leersaam nou verstaan ek ook Psalm 23 geestelik baie beter.
Dankie vir die openbaring
More Risa ek wil graag toesteming vrae om jou uitleg van pasem 23 in n liedjie te gebruik tot eer van on almagtige God.
Ek is besig om liedjies te skryf vir my eerste album en is opsoek na nuwe insperasie
Groete Wayne-Lee Janse van vuuren
Ps 23 is en bly besonders. Die manier hoe jy dit uitgespel het is wonderlik.
Baie dankie
Hallo Ami. Dit is sommer ‘n groot plesier. Bly dit het iets vir jou beteken!
Baie dankie Risa. Ek hou aan vers 4 vas. My man gaan môre vir ‘n MRI scan en ek weier om bang te wees vir die uitslag. Wat ookal, die HERE is met my en ek sal nie bang wees nie
4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
Groete
Joey
Hallo Joey. Baie sterkte vir jou en jou man. Ek staan saam met julle in geloof en weet die Here is by julle, elke tree van die pad!