INTERPRETEER DIE BYBEL – DIE ‘INDUCTIVE’ BYBELSTUDIE-METODE (DEEL 2)

Interpreteer die Bybel - Die 'Inductive' Bybelstudie-metode (Deel 2)

Ons het verlede week begin met ‘n reeks oor die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode.

Ons het gesien die metode bestaan uit drie stappe – waarneming, interpretasie en toepassing.

Verlede week het ons geleer hoe om die teks wat ons studeer, waar te neem.

Vandag gaan ons kyk na die volgende stap, interpretasie, of om die betekenis van die teks uit te lê.

LEES OOK: ‘INDUCTIVE’ BYBELSTUDIE-METODE (DEEL 1)

INTERPRETEER DIE BYBEL: KONTEKS IS BELANGRIK.

Wanneer ons by die interpretasie-stap kom, is daar ‘n paar dinge wat ons in gedagte moet hou.

Eerstens moet ons onthou dat konteks van uiterste belang is.

Dis maklik om ‘n vers verkeerd te interpreteer as jy dit uit konteks haal. Daarom is dit belangrik om altyd die verse rondom te lees en ook in gedagte te hou wanneer jy ‘n vers of gedeelte uit die Bybel interpreteer.

Konteks het egter nie net met die verse rondom die teksgedeelte te doen nie. Dit het ook te doen met dinge soos kultuur van die dag, wat ‘n invloed kan hê op hoe die teks geïnterpreteer moet word. Die tyd waarin dit geskryf is en die mense vir wie dit geskryf is kan ook ‘n invloed hê op die interpretasie.

As jy egter die teks goed waargeneem het, sal jy klaar al hierdie dinge opgetel het.

GEBRUIK KRUISVERWYSINGS.

Jy het seker al die kruisverwysings in baie van die Bybels raakgesien.

En dalk het jy gewonder wat nou eintlik die doel daarvan is.

‘n Kruisverwysing verwys jou na ‘n ander gedeelte in die Bybel, waar daar oor dieselfde sleutelwoord, onderwerp of persoon gepraat word. As jy dit gaan lees, sal jy sien wat die Bybel nog alles daaroor te sê het.

Ongelukkig het nie alle Bybels kruisverwysings in nie, maar dit is nie ‘n probleem nie. ‘n Konkordansie kan jou ook daarmee help. As jy nie een het nie, kan jy een aanlyn kry op webblaaie soos Studylight en Biblehub.

Hierdie Konkordansies is ongelukkig in Engels, maar dit sal jou darem help om kruisverwysings op te spoor.

DIE BYBEL INTERPRETEER DIE BYBEL.

Wanneer dit by interpretasie kom, moet ons altyd die Bybel gebruik om die Bybel te interpreteer.

In 2 Timotheus 3:16 lees ons die hele Skrif is deur God geïnspireer. Daarom weet ons dat die Bybel homself nooit sal weerspreek nie.

Maak seker jy weet wat in die res van die Bybel staan. Lees en studeer dit gereeld.

En wanneer jy ‘n teks interpreteer, vra jouself af of jou interpretasie strook met wat in die res van die Woord oor daardie onderwerp staan.

As waarhede vir jou lyk asof dit mekaar weerspreek, aanvaar eenvoudig in geloof wat die Here sê.

NET EEN BETEKENIS.

Laastens moet ons onthou dat ‘n teksvers gewoonlik net een ding beteken.

Daar is een hoofpunt en in meeste gevalle moet dit letterlik opgeneem word.

Moenie altyd ‘n verborge betekenis soek nie. Kyk eers wat die Bybel duidelik leer.

Wat wou die skrywer vir sy lesers sê?

Jesus gebruik baie gelykenisse wanneer Hy mense leer, maar Hy gee ook baie keer die betekenis van die gelykenis.

Wees versigtig om die teks so te interpreteer dat dit by jou idee van wat daar staan, inpas. Moet ook nie teks interpreteer om te pas by wat ander daaroor sê nie.

En as jy agterkom jy het nog altyd die teks verkeerd verstaan, erken dat jy verkeerd was en verander wat jy glo om te pas by die Woord.

KOM ONS OEFEN!

In die vorige artikel het ons Spreuke 1:1-7 uit die 2020-Vertaling gebruik om te oefen om teks waar te neem.

Nou moet ons die teks interpreteer.

Kyk weer na hoe ek die teks waargeneem het.

Wat sien ons in die teks? Wat is die betekenis daarvan?

Uit die teks sien ek dat dit deur Salomo geskryf is en dat dit wysheid gee aan die wat dit wil hê.

Wonder jy hoe ek by die interpretasie uitgekom het?

Die teks sê vir ons wie die skrywer is – Salomo.

Verder gee die teks ‘n hele lys redes waarvoor die spreuke gebruik kan word.

Dit wys ook vir ons dat enige een, van die onkundiges tot die wyses en verstandiges, wysheid kan kry.

Laastens sien ons dat daar mense, genoem sotte, is wat wysheid gaan verag. Dit is dus beskikbaar vir almal, maar nie almal gaan dit wil hê en aanvaar nie.

VOLGENDE WEEK – TOEPASSING.

Ons het tot dusver ‘n teksgedeelte waargeneem en geïnterpreteer.

Volgende week gaan ons kyk na die laaste stap, toepassing.

Onthou, ons moenie net hoorders – of waarnemers en interpreteerders – van die Woord wees nie. Nee, ons moet ook doeners van die Woord wees.

Daarom moet ons dit wat ons geleer het, in ons lewens kan toepas.

Maak dus volgende week weer ‘n draai en kom leer hoe jy die laaste stap in die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode moet gebruik.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *