In Romeine 5:6-11 leer Paulus ons ‘n klomp waarhede oor wie ons was voor ons Jesus leer ken het en wie ons nou is in Hom.

Aan die einde van hierdie week vier ons weer Paasfees. Dan onthou ons wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Ons word herinner aan wat Sy offer vir elkeen van ons beteken en wie en wat ons nou is as gevolg daarvan.
Paulus het graag hieroor geskryf.
In omtrent al sy briewe is hy besig om die gelowiges te herinner aan Jesus se kruisdood en wat dit vir hulle beteken.
Dit is dan ook so in die brief wat hy aan die gelowiges in Rome geskryf het.
Vandag gaan ons na ‘n paar verse uit Romeine 5 kyk en by Paulus ‘n bietjie meer hieroor leer.
WAT STAAN IN ROMEINE 5:6-11?
Die gedeelte waarna ons gaan kyk, kom uit Romeine 5:6-11. Daar staan:
Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf.
‘n Mens sal nie maklik vir ‘n regverdige persoon sterf nie, al sou ‘n mens dalk nog die moed hê om vir so ‘n goeie persoon te sterf.
God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is!
As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is!
Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
(2020-Vertaling)
WIE ONS IS SONDER JESUS.
Daar is vier dinge wat ons uit hierdie verse leer, wat waar is van elke mens.
Ons is magteloos, goddeloos, sondaars en vyande van God.
En tot ons hierdie dinge besef en erken, gaan dit waar bly van ons.
Maar wanneer jy besef jy is magteloos, goddeloos, ‘n sondaar en ‘n vyand van God, besef jy ook dat jy Iemand nodig het jou om daarmee te help. Jy besef jy het ‘n Verlosser nodig.
As jy dan die wonderlike boodskap oor Jesus hoor, word geloof in jou hart gewek en as jy glo, word jy weergebore.
Nou is die dinge wat voorheen waar was van jou nie meer waar nie. Nee, daar is nou ander dinge wat waar is van jou.
GOD SE KRAG IN JOU.
In vers 6 skryf Paulus dat ons, toe ons nog nie vir God geken en aanvaar het nie, magteloos was.
Volgens die HAT beteken ‘magteloos’ dat ‘n mens sonder krag en mag is.
Maar as jy in Jesus as Verlosser glo, dan is jy nie meer magteloos nie.
In Efesiërs 1:18-20 staan: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet… hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het…” (1983-vertaling).
God se krag, dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, is nou aan die werk in jou lewe.
Hierdie krag kan berge versit en dit stel jou in staat om enige iets te doen wat God wil hê jy moet doen.
Jy is dus nie meer magteloos nie, maar het God se krag wat aan die werk is in jou en in jou lewe.
VERSOEN MET GOD.
Paulus skryf verder in Romeine 5:6 dat die mens goddeloos is.
Dit beteken die mens is sonder God.
Onthou jy die verhaal van Adam en Eva? God het vir hulle gesê om nie te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad nie. Hy het hulle gewaarsku as hulle dit doén, sou hulle sekerlik sterf.
Die duiwel het egter met ‘n ander storie by hulle aangekom. Hy het gesê as hulle van die boom eet sou hulle soos God word, wat goed en kwaad ken. Hy het ook gesê hulle sou nie regtig sterf nie.
Al sy stories was leuens, maar Adam en Eva het gekies om hom, eerder as vir God, te glo.
Toe hulle die vrug eet, het hulle geestelik gesterf en daar het skeiding gekom tussen hulle en God.
Daarna is elke mens wat nog ooit gebore is, sonder God gebore.
Maar as jy in Jesus glo, dan verander dit, want Hy versoen jou weer met God. In Romeine 5:10 hierbo staan: “As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun…”
Jy is nou met God versoen. Jy is Sy kind en ook Sy tempel omdat die Heilige Gees in jou woon.
In 1 Korinthiërs 6:17 staan: “Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom” (2020-vertaling).
Sien jy dit? Jy is nou nie meer goddeloos – sonder God – nie, maar een gees met Hom!
VRYGESPREEK DEUR GELOOF.
In Romeine 5:8 skryf Paulus dat alle mense sondaars is.
Dink net ‘n bietjie aan jou lewe voor jy vir Jesus leer ken het.
Jy het allerhande dinge gedoen, wat jy nou weet verkeerd was, maar wat jou toe nie gepla het nie.
Maar toe jy vir Jesus leer ken het, het dit verander.
In Romeine 4:5 staan: “Iemand wat egter nie werk nie (dis iemand wat nie die Wet probeer onderhou in die hoop dat dit vryspraak sal bring nie), maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken.”
Waar jy voorheen ‘n sondaar was, is jy nou vrygespreek. God dink nie meer aan die dinge wat jy verkeerd gedoen het nie. Nee, Hy sien jou nou deur Jesus se bloed en in Sy oë is jy ‘n vrygespreekte, heilige, regverdige kind van God.
VREDE MET GOD.
Die laaste ding wat Paulus noem wat waar is van alle mense, is dat ons vyande van God is.
Hierdie vyandskap kom nie van God se kant af nie. Nee, Hy het nog altyd net liefde vir mense gehad en het deur die eeue sonder ophou gewerk om die verhouding met hulle te herstel.
Dieselfde kan ongelukkig nie van die mens gesê word nie. Die mens draai sy rug op God, wil niks van Hom af weet nie en wil soms nie eers erken Hy bestaan nie. Die vyandskap met God kom dus van die mens se kant af.
Maar weereens het alles verander die dag toe jy vir Jesus as Verlosser aanvaar het.
Nou is daar vrede tussen jou en God. Jy is nie meer Sy vyand nie, maar een van Sy geliefde kinders.
Romeine 5:1 sê: “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”
WAARHEDE IN ROMEINE 5:6-11.
Ons sien die volgende waarhede in Romeine 5:6-11:
Voor ons vir Jesus leer ken het, was ons magteloos, goddeloos, sondaars en vyande van God.
Maar God het ons so lief dat Hy nie sonder ons wil wees nie. Hy wil met ons in ‘n verhouding wees. Daarom het Hy Jesus op die regte tyd gestuur om vir ons sondes te sterf.
Deur Jesus word ons gered van oordeel en deur Sy bleod word ons geregverdig.
Ons is nou verlos en met God versoen.
Ek bid dat hierdie waarhede vir jou hoop sal gee in ‘n tyd waar baie mense sonder hoop is.
En onthou, hoop op God beskaam nie, want Hy het Sy liefde in jou hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan jou gegee het (Romeine 5:5)!