GENESIS 3: DIE BELOFTE VAN ‘N VERLOSSER

Genesis 3: Die belofte van 'n Verlosser

In Genesis 3 lees ons die verhaal van hoe sonde in die wêreld gekom en ons van God geskei het.

Jy ken die verhaal.

Nadat God die mens geskep het, het Hy vir hulle een opdrag gegee: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Genesis 2:16-17).

En toe kom die slang.

Hy praat met die vrou en oortuig haar dat God eintlik vir hulle gejok het. Volgens hom sou hulle nie sterf as hulle van die boom eet nie. Hy vertel haar dat hulle oë sal oopgaan en dat hulle soos God sal wees deurdat hulle alles kan ken (Genesis 3:4-5).

Eva het sy stories, wat alles eintlik leuens was, geglo en van die vrugte geëet. Sy het ook vir Adam daarvan gegee en hy het geëet.

Die feit dat hulle die duiwel geglo het eerder as vir God, lei daartoe dat hulle sonde doen.

En in plaas daarvan dat dit vir hulle seën bring, soos die duiwel belowe het, bring dit vir hulle ‘n vloek.

LEES OOK: ADAM EN EVA

DIE NAGEVOLGE VAN HULLE ONGEHOORSAAMHEID.

Eva het gedink sy gaan alles ken, soos God alles ken, as sy van die verbode vrugte eet.

Maar dis nie wat gebeur nie.

In plaas van ‘n wonderlike seën verloor sy en Adam hulle intieme verhouding met God en word van Hom geskei.

Deur hulle ongehoorsaamheid kom sonde die wêreld binne om verwoesting te saai.

Dit beïnvloed nie net hulle lewens nie, maar skei die hele mensdom van hulle Skepper en breek Sy beeld in hulle aan stukke.

Dit bring dood, siekte, armoede en nood.

En daar is nie ‘n kuur of oplossing daarvoor nie….

Die mens kan dit nie regmaak nie.

Geen mens kan die muur afbreek wat nou tussen ons en God is nie.

Ons kan nie self van sonde ontslae raak of onsself heilig maak nie.

En ons kan verseker nie die beeld van God weer in ons opbou nie.

Op die oog af lyk dit of die mens gedoem is om vir ewig sonder God te wees.

GOD SE BELOFTE AAN DIE MENS.

Maar wag…

…alles is nog nie verlore nie!

Want God, in Sy groot liefde en genade, het die oplossing.

Net daar in Genesis 3, nadat Adam en Eva teen God gedraai en ongehoorsaam was aan Hom, gee God vir hulle, en ons, ‘n wonderlike belofte.

Hy sê vir die slang: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15).

God belowe dat Hy vir ons ‘n Verlosser gaan stuur.

Hy sal wat die mens gedoen het, ongedaan kom maak.

Hierdie Verlosser sal ons sonde wegneem sodat ons vrygespreek is en weer vrede het met God (Filippense 3:9; Romeine 5:1).

Hy sal vir ons die weg baan om weer ‘n intieme verhouding met God te kan hê.

Ons sal ook verander word om aan Sy beeld, wat die presiese beeld van God is, gelyk te word (2 Korinthiërs 3:18; Hebreërs 1:3).

God gee hierdie belofte aan die mens reg aan die begin, net nadat hulle sonde gedoen het.

Jare later is hierdie belofte vervul toe Hy Jesus aarde toe gestuur het.

Binne ‘n paar weke gaan ons Sy geboorte herdenk en vier.

Maar word sommer nou, net daar waar jy is, stil voor God en dank Hom vir die belofte van ‘n Verlosser. Dank Hom ook dat Hy die belofte vervul het en dat jy Sy kind is omdat jy glo in die Verlosser, Jesus Christus!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *