Daar is heelwat voordele daaraan verbonde om nie net die Woord te lees nie, maar dit ook te oordink (meditate).
In Joshua 1:8 staan daar: “Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.”

WAAR DIE HART VAN VOL IS.
Wanneer jy die Woord oordink, bêre jy dit in jou hart.
Jesus het gesê die goeie mens bring goeie dinge te voorskyn uit die goeie skat van sy hart. En dan voeg Hy by, ” want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond” (Lukas 6:45).
As jy jou dus hart volmaak met God se Woord, gaan die Woord ook by jou mond uitkom. Jy sal met jou woorde jou geloof vrystel, sonder om eers daaroor te dink.
Dit sal ‘n outomatiese reaksie wees.
En, wanneer jy dít doen, sal jy slaag in wat jy moet doen en jy sal voorspoedig wees.
LEES OOK: 6 EIENSKAPPE VAN ‘N GOEIE GROND HART
VOORSPOED EN SUKSES.
Sien jy die laaste sin van Joshua 8:1?
Daar staan: “Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.”
Dit hang dus van jou af of jy slaag in wat jy doen en of jy voorspoedig is.
God het vir jou die manier gegee om voorspoedig te wees en sukses te behaal. Dit is egter jou verantwoordelikheid om die Woord te oordink en te doen wat dit sê, anders gaan dit nie gebeur nie.
Dit help dus nie veel om God te vra om vir jou voorspoed en sukses te gee as jy nie jou deel wil doen en die Woord oordink en gehoorsaam nie.

DIE WOORD IS WAARDEVOL.
In Psalm 19:8-12 lees ons:
Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.
Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.
Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.
U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
God se Woord is volmaak, betroubaar, helder, goed, reg, en dit dui die regte koers aan.
Die Woord is kosbaarder as goud. Geld is ongelukkig die belangrikste ding in baie se lewens – die Woord is opsioneel. Die waarheid is egter dat die Woord van grootste belang in ons lewens moet wees. Deur die Woord word ons selfs geleer hoe om alles wat God reeds vir ons behoeftes voorsien het, te ontvang!
WAT DIE WOORD IN JOU LEWE KAN DOEN.
Ons het hierbo gesien ‘n mens slaag in wat jy moet doen, en dat jy voorspoedig is as jy die Woord oordink en dit gehoorsaam.
Maar dit is nie al wat die Woord in jou lewe kan doen nie! Kom ons kyk na nog ‘n paar voordele wat jy kan put uit die oordenking van die Woord.
DIT BEïNVLOED JOU SIEL.
In Psalm 23 staan die Goeie Herder, dit is Jesus, verkwik my siel (O.V.).
Hy doen dit deur die Woord.
Verkwik beteken om te verfris, te laaf, op te beur, te troos, en nuwe krag en moed te gee.
Dít is presies wat gebeur wanneer jy die Woord oordink.
Jesus kry die geleentheid om jou te verfris en jou op te beur. Hy vertroos jou en gee jou nuwe krag en moed.
Die siel is jou wil, jou gedagtes, en jou emosies. Die Woord help ons om te dink soos God dink. Ons gedagtes beïnvloed ons emosies. As ‘n mens dus dink soos God dink, sal jou emosies onder beheer wees, soos God dit bedoel het. En, as ons gedagtes ooreenstem met wat die Bybel sê, sal ons keuses en besluite ook ooreenstem met die Bybel.
WYSHEID, BLYDSKAP, EN INSIG.
Die Woord gee wysheid aan elkeen wat nog onervare is.
‘n Mens mag dink jy het al die wysheid het wat jy nodig het, maar die Woord waarsku ons in Spreuke 3:5 en 7 om nie op ons eie insigte staat te maak en te dink ons het die wysheid in pag nie.
Ware wysheid kom van God af. Dit is waarom Jakobus ons maan om vir God te vra wanneer ons wysheid nodig het (Jakobus 1:5).
God se Woord gee nie net wysheid nie, maar dit bring ook blydskap.
Blydskap, of vreugde, is deel van die Vrug van die Gees. Dit is reeds deel van ons weergebore gees.
Die Woord raak ‘n mens se hart en vreugde spring in jou op. Dit gebeur veral wanneer ‘n mens die Woord gehoorsaam, want só laat ‘n mens jou gees toe om jou te beheer.
Dan gee God se Woord ‘n mens ook insig.
Psalm 119:105 sê die Woord is die lamp wat ons die weg wys, die lig op ons pad.
As ons doen wat die Woord sê, sal ons nie struikel en val nie, want die lig sal ons die pad wys.

WAT DIE WOORD NóG IN JOU LEWE DOEN.
God se Woord staan altyd vas. Dit is dus nooit ‘n mors van tyd om tyd in die Woord te spandeer nie.
Lees dit, bestudeer dit en oordink dit.
Maak jou hart daarmee vol sodat dit by jou mond kan uitkom en jy daaraan gehoorsaam kan wees.
God gebruik ook Sy Woord om ons te waarsku.
Hy wys ons daardeur wat ons nie moet doen nie. Dié dinge wat Hy sê ons nie moet doen nie, gaan ons lewens verwoes as ons kies om dit wél te doen.
Om te doen wat die Woord sê, hou groot beloning in.
Dit beteken nie dat God ons beloon vir ons gehoorsaamheid, soos ons ‘n kind met ‘n lekker sal beloon wanneer hy gehoorsaam nie.
Nee, God se bevele en opdragte dra Sy seëninge en beloning – dit is asof dit daarin ingebou is. Dieselfde is waar van die sonde. Dít het weer dood en verwoesting ingebou.
God gee ons opdragte en bevele om ons na Sy seëninge toe te lei, weg van die duiwel se verwoesting. Dit is egter óns wat besluit of ons gaan gehoorsaam of nie.
HOE OM DIE WOORD TE OORDINK.
Dit is nie moeilik om die Woord te oordink nie.
As jy jou kan bekommer, kan jy ook die Woord oordink.
Ongelukkig het ons onsself geleer om altyd oor ander dinge te dink. Die Bybel is gewoonlik heel laaste op die lys.
Maar, soos ons onsself geleer het om oor die dinge te dink waaroor ons tans dink, net so kan ons onsself ook leer om meeste van die tyd die Woord te oordink.
‘n Mens dink in elk geval altyd, maak nie saak wat jou hande besig is om te doen nie.
Leer dus die gewoonte aan om oor die Woord te dink.
Dit mag aan die begin moeilik wees, maar hoe meer jy dit doen, hoe makliker gaan dit word.
Wat het jy vanoggend in die Bybel gelees? Gebruik daardie vers of verse en oordink hulle.
Vra die Heilige Gees om jou te wys hoe jy die verse in jou lewe kan toepas. Vra vrae daaroor en vertrou Hom om jou te wys wat jy moet raaksien en dat Hy jou sal help om te verstaan.
Die Woord is vol stukkies goud, maar ‘n mens moet dit oordink om dit raak te sien.
Om die Woord te oordink tot jy die goud gekry het, en verstaan hoe jy dit in jou lewe moet toepas, hou groot beloning in.
Begin sommer vandag nog om die Woord te oordink.
Die voordele daaraan verbond is eindeloos!
