MATTHEUS 6: GEDAGTES OOR GEBED

Mattheus 6: gedagtes oor gebed

Mattheus 6 is deel van die Bergrede. Dis ‘n lang preek van Jesus wat Hy, volgens Mattheus, op ‘n berg gelewer het. In Lukas lees ons ook oor hierdie preek, maar hy skryf dat dit op ‘n gelykte plaasgevind het.

Dis egter nie die ligging van waar die preek gepreek is wat belangrik is nie, maar wat Jesus oor preek.

In Mattheus 6 leer Jesus ons, onder andere, oor gebed. Dis dan ook in hierdie gedeelte waar ons die modelgebed, of die ‘Onse Vader’, soos ons dit noem, raaklees.

Vandag gaan ons ‘n bietjie gesels oor wat Jesus in dié gedeelte oor gebed leer en hoe ons dit in ons lewens kan toepas.

JOU GESINDHEID IN GEBED.

Mattheus 6:5: En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang.

Gebed was ‘n belangrike deel van die Joodse godsdiens. Dit was algemeen dat mense drie keer op ‘n dag – oggend, middag en aand – opgehou het waarmee hulle besig was en eers hardop gebid het.

Baie het dit eenkant gedoen, waar ander dit nie kon hoor nie. Maar daar was ook diegene wat hulle bes gedoen het om ander se aandag daarop te vestig dat hulle besig was om te bid. Hulle wou die mense rondom hulle beïndruk met hulle gebede.

Jesus waarsku dat dit nie die regte manier van doen is nie. Hy was beslis nie gekant teen gebed in die openbaar nie, want ons sien op meer as een plek in die Bybel dat Hy hardop voor ander gebid het.

Wat Jesus ons wel teen waarsku is die gesindheid wat ons het wanneer ons in die openbaar bid.

Bid ons sodat ander ons kan sien en ons bewonder? Of is ons regtig in gesprek met God?

ALLEEN SAAM MET GOD.

Mattheus 6:6: Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.

As jy gereeld stiltetyd hou, sal jy weet daar is min dinge so lekker soos om tyd alleen met God te spandeer.

Dis in hierdie alleen-oomblikke met Hom waar ‘n mens jou hele hart voor Hom kan uitstort. Dis wanneer ‘n mens kan stil word en luister sodat Hy ook met jou kan praat.

In hierdie vers moedig Jesus ons aan om tyd alleen met God te spandeer.

Hoewel daar niks mee verkeerd is om saam met ander tot God te nader nie – dis iets wat eintlik baie nodig is – is alleen-tyd met Hom van onskatbare waarde.

Wanneer laas het jy tyd alleen met God gespandeer? As jy dit maar min doen, vra die Here om jou te help om elke dag tyd in jou skedule in te ruim om alleen met Hom te kuier. Jy sal beslis nie spyt wees nie!

OPREGTE GEBED.

Mattheus 6:7: Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word.

Een van die maniere waarop die heidene gebid het, was om hulle gode se name oor en oor te herhaal. Of hulle het ‘n paar frases gehad wat hulle oor en oor herhaal het.

In hierdie vers waarsku Jesus ons daarteen om nie soos hulle te wees nie.

Wanneer ons tot God bid, moet ons nie net ‘n oppervlakkige klomp woorde herhaal nie. Ons gebede moet eerlik en opreg wees. Iemand wat só bid, kan nooit te veel bid nie!

GOD WEET WAT JY NODIG HET.

Mattheus 6:8: Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.

Hierdie is ‘n baie bemoedigende vers.

God weet wat jy nodig het nog voor jy Hom daarvoor vra.

Maar dit beteken nie dat jy nou nie hoef te bid nie! Nee, God wil steeds hê jy moet bid en vra.

Hoekom?

Want deur Hom te vra vir wat jy nodig het, erken jy dat Hy jou bron is. Jy erken dat jy van Hom afhanklik is om vir jou te voorsien.

Hou dus aan om na God toe te kom en te vra vir wat jy nodig het.

‘N VADER IN DIE HEMEL.

Mattheus 6:9: Só moet julle dan bid: Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.

In die volgende paar verse leer Jesus ons hoe ons moet bid. Hy leer vir ons presies waarop ons moet fokus wanneer ons bid.

Hy begin dan ook die gebed met: Ons Vader wat in die hemele is.

Hierdeur wys Hy ons dat God nie net heilig en hoog verhewe is nie, maar ook ‘n liefdevolle Vader wat omgee vir Sy kinders. Ons kan dus met vrymoedigheid na Hom toe kom en, soos klein kindertjies, by Hom kom sit en alles wat op ons harte is, met Hom deel. Ons kan ook verwag dat Hy na ons sal omien en vir ons sal sorg, want Hy is ons Vader.

In die tweede deel van die sin wys Jesus ons ook daarop dat ons God se Naam moet heilig en daarvoor eerbied hê. Ons moet dus bid dat God ons, en andere om ons, help om dit reg te kry. Sonder Sy hulp, gaan dit nie gebeur nie.

GOD SE KONINKRYK EN WIL.

Mattheus 6:10: Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.

In Mattheus 4:17 lees ons dat Jesus Sy bediening begin het deur te preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Dié koninkryk verwys na God se geestelike heerskappy.

In Jesus het die koninkryk van die hemel reeds in die harte van gelowiges gekom. Maar daar is baie mense wat nog nie vir Jesus ken nie. Ons moet dus altyd onthou om te bid vir diegene wat nog nie gered is nie.

Dan moet ons ook onthou om te bid dat God se wil hier op aarde sal geskied. Sy wil is volmaak en Hy wil altyd net die beste vir mense hê. Maar Hy dwing Sy wil op niemand af nie. Ons het altyd ‘n keuse of ons aan Hom gehoorsaam gaan wees of nie.

Wanneer ons dan bid dat God se wil geskied, vra ons Hom om ons te help om gewillig te wees om Hom te gehoorsaam. En ons het ‘n belofte in Filippense 2:13 dat Hy hierdie gebed altyd sal beantwoord: “…want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (1983-vertaling)

GOD SE VOORSIENING.

Mattheus 6:11: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Volgende leer Jesus ons dat ons God moet vra vir alles wat ons nodig het. Hy het nooit bedoel dat mense na hulleself moet omsien nie.

Onthou, Hy is ons Vader en Hy is in staat om vir ons te gee wat ons nodig het. Dinge mag lyk asof daar nie ‘n manier is dat daar in ons behoeftes voorsien kan word nie, maar God is nie gebonde aan wat in die wêreld aangaan nie. Hy is die God van die onmoontlike, want vir Hom is alles moontlik.

Jy kan dus altyd na God toe kom en Hom vra vir dié dinge wat jy nodig het. Wanneer jy dit doen, erken jy dat Hy jou Bron is en dat jy op Hom alleen vertrou.

VERGIFNIS VAN SONDE.

Mattheus 6:12: En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan.

Almal van ons maak soms die keuse om iets te doen wat ons weet nie reg is nie. Wanneer dít gebeur, leer Jesus ons, moet ons dadelik na God toe kom en dit teenoor Hom erken.

In Jesus het Hy ons reeds al ons oortredinge vergewe, maar dis nodig dat ons eerlik is en erken wanneer ons gesondig het.

Omdat God ons klaar al ons sondes vergewe het, is dit dan ook moontlik vir ons om ander, wat teen ons oortree, te vergewe.

In 1 Johannes 4:19 staan: “Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” Net soos wat ons God en ander mense kan liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het, kan ons ook andere vergewe omdat Hy ons eerste vergewe het.

Onthou dus altyd om te erken wanneer jy gesondig het. Onthou ook om andere te vergewe omdat God jou reeds al jou oortredinge vergewe het.

BESKERMING TEEN VERSOEKING.

Mattheus 6:13: En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

In Jakobus 1:13 lees ons dat ons nooit moet dink dis God wat ons in versoeking bring nie. Wat Jesus ons hier leer is dat ons moet vra dat God ons beskerm teen die leuens en bedrog van die duiwel.

Almal van ons word versoek. Soms is dit so duidelik soos daglig dat dit is wat besig is om te gebeur. Ander kere is dit so subtiel dat ons nie eers weet dis wat aangaan tot dit te laat is nie.

Daarom leer Jesus ons dat ons altyd moet vra dat God ons help om versoekings te herken. Ons moet ook vra dat Hy ons help om sterk te staan, sodat ons nie toegee nie. En ons moet Hom vra om ons te help om dan te kies om te doen wat Hy van ons vra.

GEBED EN VERGIFNIS.

Mattheus 6:14-15: Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

Vergifnis is so ‘n belangrike deel van die Christelike geloof, dat Jesus weer ‘n slag daarby stilstaan.

God het ons sondes vergewe omdat Jesus daarvoor aan die kruis betaal het. Nou kan ons met Hom in ‘n verhouding staan en verseker weet dat Hy nooit weer aan ons sondes dink nie.

Net soos Hy ons vergewe het, moet ons ook andere vergewe. As ons weier om dit te doen, wys ons dat daar iewers iets nie lekker is in ons verhouding met God nie.

Dis interessant dat Jesus op meer as een plek in die Evangelies oor gebed praat, en net daarna dan ook oor vergifnis.

Ons sien dit in hierdie gedeelte. Ons sien dit ook in Markus 11:25, waar Jesus sê as ons bid, en ons het iets teen iemand anders, dat ons moet vergewe. En dan sien ons dit ook in Mattheus 5:23-24. Hier sê Jesus as ons bid, en ons besef iemand anders het iets teen óns, moet ons eers gaan regmaak en dan verder bid.

Jy sien, ‘n gebreekte verhouding met iemand anders belemmer ons verhouding met God. Ons verhoudinge met ander mense weerspieël ook ons verhouding met God (1 Johannes 4:20).

Maak daarom altyd seker dat jy nie ‘n wrok teen iemand koester nie. Vergewe wanneer andere teen jou oortree, net soos God jou vergewe het toe jy teenoor Hom oortree het. En, as jy weet iemand het ‘n wrok teen jou, doen jou bes om die probleem op te los en die verhouding te herstel.

GEBED, ‘N GESPREK MET GOD.

Gebed is nie moeilik nie. Dis bloot ‘n gesprek met God.

In Mattheus 6 leer Jesus ons ‘n hele paar beginsels oor gebed. Hy gee ook vir ons die modelgebed, sodat ons weet waarop om te fokus wanneer ons bid.

My gebed is dat God elkeen van ons help om dit wat ons hier oor gebed geleer het, in ons lewens toe te pas.

Onthou, in Jakobus 5:16 staan die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

Bid dus soos Jesus jou hier leer, en jy sal sien hoe ‘n dinamiese gebedslewe jy kán hê!

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Hi julle wie kan my se…
    Waar staan in die bybel dat ons eers gehoorsaam aan die Here moet wees dan sal Hy eers ons gebede verhoor..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *