LUKAS 4 – WAT JESUS KOM DOEN HET

In Lukas 4:18-19 lees ons van die dinge wat Jesus kom doen het. Dit is steeds beskikbaar vir elke mens wat in geloof na Hom toe kom.

Lukas 4: Wat Jesus kom doen het

Kersfees is vinnig besig om nader te kom, wanneer ons die geboorte van Jesus gaan vier.

Meeste mense weet Hy het gekom om vir ons sondes aan die kruis te sterf, sodat ons weer in ‘n verhouding met God kan staan.

Maar daar is soveel meer wat Hy op aarde gedoen het en steeds doen.

In Lukas 4:16-17 lees ons dat Jesus in Nasaret was en op die sabbatdag na die sinagoge gegaan het.

Daar het hulle die boek van die profeet Jesaja vir Hom gegee en Hy het daaruit voorgelees.

Die gedeelte wat Hy gelees het, was ‘n profesie oor Homself.

In verse 18-19 staan daar: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Dít is wat Jesus gedoen het toe Hy hier op aarde was.

En dit is wat Hy vandag nog doen.

Kom ons kyk so ‘n bietjie na elkeen van hierdie take.

VERKONDIG DIE EVANGELIE AAN DIE ARMES.

Jesus sê dat Hy gesalf is om die evangelie aan die armes te verkondig (Lukas 4:18).

In die eerste verse van Mattheus 5 lees ons van die wat werklik gelukkig is.

In vers 3 in die Ou Vertaling staan daar: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Die woord ‘arm’ word metafories gebruik. Dit verwys na iets wat onvoldoende is of ontbreek of ontoereikend is.

Jesus was gesalf om die evangelie aan diegene te verkondig wat hulle geestelike ontoereikendheid besef het. Die Nuwe Afrikaans Vertaling stel dit dan so: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is…”

Jesus het gekom om vir hulle te vertel dat daar hulp beskikbaar was.

Hulle kon nou ‘n splinternuwe gees ontvang (2 Korinthiërs 5:17) deur in Jesus te glo. Deur geloof in Hom kom die koninkryk van God binne elke gelowige (Lukas 17:21 en Romeine 14:17).

Hierdie wonderlike geskenke is nie net vir die mense wat geleef het toe Jesus op aarde was en die evangelie aan hulle verkondig het nie.

Nee, dit is steeds beskikbaar vir elke mens wat die evangelie hoor en in Jesus glo.

DIE VRYLATING VAN GEVANGENES.

Volgende lees ons in Lukas 4:18 dat Jesus gestuur is om vrylating vir gevangenes uit te roep.

Hierdie verwys nie na gevangenes wat in die tronk sit omdat hulle die wet van die land oortree het nie.

Dit verwys na die hele mensdom wat deur Satan gevange gehou word.

Vandat hy Adam en Eva daar in die Tuin van Eden mislei het, is elke mens ‘n gevangene van hom.

As gevolg van Adam se ongehoorsaamheid, word alle mense met ‘n sondige natuur gebore.

Sonder dat hy enige keuse in die saak gehad het, is elke mens ‘n slaaf van die sonde.

Maar Jesus het gekom om die gevangenes vry te laat.

Deur geloof in Hom word die mens weergebore. ‘n Weergebore persoon het ‘n nuwe gees, soos ons ook hierbo gelees het.

Die gelowige het nie meer ‘n sondige natuur nie, maar deel in God se goddelike natuur (2 Petrus 1:3-4).

In Kolossense 1:13 lees ons dan ook: “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”

‘n Gelowige is nie meer ‘n gevangene van die duiwel nie. Hy is nie meer ‘n slaaf van die sonde nie.

Nee, ‘n gelowige is vry – vry om God lief te hê en aan Hom gehoorsaam te wees.

LEES OOK: JESUS GEE TERUG WAT ONS VERLOOR HET

DIE BLINDES TE LAAT SIEN.

In Lukas 4:18 lees ons ook dat Jesus gestuur is om die sig van blindes te herstel.

Weereens verwys dit nie na mense wat fisies blind is nie, hoewel Jesus ook ten volle by magte is om hulle te genees. Lees maar net hoe Hy vir blinde Bartimeus sy sig teruggegee het in Markus 10:46-52.

Hier in Lukas 4 verwys die blindes egter na mense wat geestelik blind is.

In 2 Korinthiërs 4:4 staan daar: “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.”

Dis baie duidelik uit hierdie vers dat die duiwel ongelowiges verblind.

Maar Jesus het gekom om hulle oë oop te maak.

In 2 Korinthiërs 3:14 lees ons: “Hulle verstand was ook toe…. maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo.”

En dan staan daar in vers 18: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

‘n Gelowige is nie meer geestelik blind nie, maar sien die lig van die Evangelie.

VRYHEID VIR DIE ONDERDRUKTES.

Die volgende taak waarvan ons in Lukas 4 lees, is dat Jesus gestuur is om onderdruktes in vryheid uit te stuur.

In Handelinge 10:38 staan daar: “Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.”

Siektes, kwale, armoede – al hierdie dinge kom van die duiwel. Om die waarheid te sê, alles wat negatief is kom van hom.

Hy gebruik dit om ons te onderdruk.

As ons toegee aan hierdie dinge, dan is ons in sy mag. Dan kan hy met ons maak net wat hy wil.

Maar Jesus het gekom om ons vry te maak van sy onderdrukking.

Wanneer jy in Jesus glo, is jy vry van die mag en onderdrukking van die duiwel.

Dit is egter jou verantwoordelikheid om hom te weerstaan wanneer hy probeer om sy bose planne in jou lewe in werking te stel.

Ons weerstaan hom in geloof, deur te glo wat God in Sy Woord oor ons sê en nie wat ons sintuie of omstandighede vir ons vertel nie.

GENADEJAAR VAN DIE HERE.

Die laaste taak waarvoor Jesus gesalf was, waarvan ons in Lukas 4 lees, was om die genadejaar van die Here aan te kondig.

Die genadejaar verwys na die jubel- of hersteljaar waarvan ons lees in Levitikus 25:10: “En julle moet die vyftigste jaar heilig en ‘n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vi rjulle ‘n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan” (OAV).

Die jubeljaar was ‘n skadubeeld van wat sou kom, wanneer die mens vry sou wees van die duiwel, sonde en die dood.

Dit verwys na ‘n tyd waar die mens nie meer die wet onderhou om in ‘n verhouding met God te kan wees nie, maar waar hy regverdig verklaar word deur geloof in die Seun van God en wat Hy aan die kruis gedoen het.

Ek en jy leef in die jubeljaar, in die genadejaar, want in Sy groot genade het God ons vrygespreek deur ons geloof in Jesus Christus.

Ons is nou vry van die duiwel en hoef nie meer na sy pype te dans nie.

Verder is ons ook vry van die sonde en die dood (Romeine 8:1-2).

Jesus het elkeen van die dinge waarvan ons in Lukas 4:18-19 lees vir ons kom doen.

Dit is afgehandel.

Niemand kan iets daarby voeg of daarvan wegneem nie.

Ons moet net wat Hy gedoen het in geloof aanvaar, want as die Seun jou vrymaak, is jy werklik vry! (Johannes 8:36)

VERKONDIG DIE EVANGELIE.

Ons het nou geleer wat Jesus alles vir die mens gedoen het, en steeds doen.

Daar is egter mense wat nog onbewus is van hierdie wonderlike nuus.

Ons moet dit dus nie vir onsself hou nie, maar dit vir ander vertel sodat hulle ook kan glo en vry kan wees.

In Mattheus 28:19-20 lees ons: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Jesus se opdrag was nie net vir die dissipels nie, maar is vir elkeen van ons ook.

In Efesiërs 6 lees ons van die wapenrusting van God. Vers 15 praat van die skoene wat ons moet aantrek: “…en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.”

Dit is nou ons taak, myne en joune, om die evangelie te verkondig.

Wanneer mense hoor wat Jesus alles vir hulle gedoen het, wek die Heilige Gees geloof in hulle harte sodat hulle ook in Hom kan glo.

En, wanneer hulle glo, word al hierdie dinge waarvan ons hierbo geleer het, waar in hulle lewens.

Het jy al vandag vir iemand vertel wat Jesus alles vir jou gedoen het?

Moenie langer wag nie.

Onthou, Hy is by jou en sal jou help om die regte woorde te sê.

Wees in vertroue gehoorsaam en vertel vandag nog vir iemand van al die wonderlike dinge wat Jesus vir hom of haar kom doen het!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *