KINDERS VAN GOD – WAT ONS KAN DOEN

Wat kinders van God kan doen

Hou jy en jou kinders ook van die flieks wat gaan oor een of ander ‘superhero’?

Hy of sy het gewoonlik buitengewone kragte (superpowers) wat hy of sy gebruik om die slegte te oorwin en mense te help.

Daar is seker nie ‘n kind wat al so ‘n fliek gesien het, wat nog nie gewens het hy of sy was ook ‘n ‘superhero’ met ‘superpowers’ nie!

Maar het jy geweet dat jy nie ‘n ‘superhero’ hoef te wees om buitengewonde dinge te kan doen nie?

As kinders van God is daar sommer ‘n klomp buitengewone dinge wat ons kan doen, wat ongelowiges nie kan doen nie.

Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie dinge.

JY KAN DIE LEWE IN GELOOF LEEF.

Alle mense het ‘n mate van geloof. Jy glo byvoorbeeld ‘n stoel gaan jou gewig dra wanneer jy daarop gaan sit. Maar dis nie die geloof waarvan ons hier praat nie.

Die dag toe jy besluit het om vir Jesus as Verlosser aan te neem, het jy dit gedoen omdat jy geglo het Hy is die Seun van God en dat Hy vir jou sondes gesterf het. Jy het dit geglo omdat jy iewers van Jesus gehoor het. Dit wat jy gehoor het, het die Heilige Gees gebruik om geloof in jou hart te wek (Romeine 10:17).

Noudat jy ‘n kind van God is, gebruik jy daardie geloof om Hom altyd te glo en te vertrou.

Jy lewe dus nou ‘n lewe van geloof en ontvang wat God ookal in Sy Woord belowe het, omdat jy Hom glo.

En jy kan ook jou geloof ontwikkel deur die stappe in hierdie artikel te volg.

JY KAN VRUG DRA.

In Johannes 15 lees ons Jesus is die Druiwestok en ons is die lote. Omdat ons in Hom is, kan ons vrug dra.

Die vrug wat ons dra is die vrug van die Gees, waarvan ons lees in Galasiërs 5:22-23. Dit sluit dinge in soos liefde, blydskap, vrede, geduld, en nog meer.

Sonder Jesus is dit onmoontlik om hierdie vrug te dra. Daarom moet ons in Hom bly. Ons moet ook sorg dat Sy woorde in ons bly.

As ons dít doen, gaan ons baie vrug dra en die Vader daardeur verheerlik.

JY KAN GEESTELIK GROEI.

Iets wat dood is kan nie groei nie. Voor ons in Jesus geglo het, was ons dood deur die oortredings en sondes waarin ons geleef het (Efesiërs 2:1). Ons was dus geestelik soos dooie mense en ons kon nie groei nie.

Maar noudat ons in Jesus glo, is ons dood vir sonde en lewend vir God (Romeine 6:11). Dit beteken dan ook dat ons geestelik kan groei.

Deur God se Woord daagliks in te neem, groei ons geestelik sodat ons volwasse gelowiges kan word. Volgens Hebreërs 5:14 beskik só ‘n gelowige oor die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te onderskei tussen goed en kwaad.

JY KAN GEESTELIKE DINGE VERSTAAN.

Iemand wat nog nie vir Jesus ken as Verlosser nie, kan glad nie geestelike dinge verstaan nie (1 Korinthiërs 2:14). Vir hom is die dinge van God dwaasheid.

Maar wanneer hy vir Jesus leer ken en in Hom glo, word hy weergebore. Nou het hy ook die Gees van God wat in hom bly. En nou kan hy ook die geestelike dinge van God verstaan.

Deur die Gees weet hy wat God, in Sy groot genade, vir ons gegee het. En hy kan daaroor praat met die woorde wat die Gees hom gee (1 Korinthiërs 2:12-13).

JY KAN LIEFHê MET GOD SE LIEFDE.

In 1 Johannes 4:8 lees ons dat God nie net lief het nie, maar dat Hy liefde is. Dit maak dus sin dat iemand wat nie vir God in sy lewe het nie, ook nie ware liefde in sy lewe het nie.

Maar toe ons vir God leer ken het deur in Jesus te glo, is God se liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees (Romeine 5:5). Ons het dus nie net vir God in ons lewens nie, maar ook Sy liefde.

Hierdie liefde is nie dieselfde as die ‘liefde’ van die wêreld nie. Die liefde van die wêreld fokus net op self.

Die liefde van God fokus egter op ander.

Dis ‘n liefde wat bereid is om op te offer om iemand anders se lewe beter te maak. Dis ook ‘n liefde wat nooit ophou nie. Selfs al doen die persoon, teenoor wie die liefde bewys word, iets verkeerd, hou die liefde van God aan om lief te hê.

JY KAN DIE DUIWEL EN SONDE WEERSTAAN.

As kinders van God het ons ‘n vyand – die duiwel. Hy probeer om elke hoek en draai om ons sover te kry om ongehoorsaam te wees aan God en Hom nie te glo en vertrou nie.

Maar God het vir ons die nodige wapens gegee om hom te kan weerstaan. En as ons dít doen, het ons boonop ‘n belofte van God dat die vyand van ons sal wegvlug (Jakobus 4:7).

Ons lees van die wapens wat God ons gegee het in Efesiërs 6:10-18. Die wapenrusting en wapens sluit dinge in soos waarheid, geregtigheid, vrede, geloof, verlossing, gebed en die Woord van God. Ons het ook nog ander wapens soos die Naam en bloed van Jesus.

Met die hulp van die Heilige Gees stel al hierdie dinge ons in staat om die duiwel en sonde te weerstaan.

Hierdie is maar net ‘n paar van die buitengewone dinge wat ons kan doen omdat ons kinders van God is.

Ek wil jou uitdaag om, wanneer jy jou Bybel lees, te kyk of jy nóg van hierdie buitengewone dinge raaksien. Maak sommer ‘n lys van daarvan. En, wanneer jy weer na ‘n fliek oor ‘n ‘superhero’ kyk, onthou dat jy ook eintlik een is, want jy kan buitengewone dinge doen, wat ongelowiges nié kan doen nie.

Deel hierdie blad

3 comments

  1. God het Sy Gees in ons kom stort (wanneer jy gewederbaar en groot gedoop word), sodat ons, die gelowiges, die gesag het. Elke tree wat ons gee, verkondig ons, moet ons verkondig, dat dit God se grond gebied is. (I release Your Spirit Holy Father, in this place and declare this as Your ground, Holy ground). Hy het ons die krag gegee om berge te skuif, dus, Sy Gees is ‘n super power. Dit is baie diep en as mens dit eers snap, sal mens besef dat ons gelowiges God se krag in ons het, want Sy Gees is in ons

  2. IN 1 JOHANNES 4:8 LEES ONS DAT GOD GOD NIE NET LIEF HET NIE , MAAR DAT HY LIEFDE IS . DANKIE JESUS. EK LOOF EN PRYS U NAAM. AMEN.

  3. dankie, ja soms wens ek ook ek het super power gehad, maar met Jesus in my lewe, gee Hy my genoeg genade om elke dag my taak te verig, en genoeg genade om na die klein kinders om te sien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *