
Daar is soms dinge in die Bybel wat ‘n mens nie verstaan nie omdat jy byvoorbeeld nie die kultuur van die dag verstaan nie. Om ons daarmee te help, het ons het verlede week gekyk na ‘n paar interessanthede in die Bybel uit die Ou Testament. Vandag gaan ons kyk na ‘n paar interessanthede in Paulus se briewe.
‘N BIETJIE MEER OOR PAULUS.
Voor ons egter by Paulus se briewe kom, wil ek eers iets interessants omtrent die man self met jou deel.
Paulus het eers die naam Saulus gehad. Hy is in Tarsus, die eens welvarende hoofstad van Cilicia in die suide van Turkye, gebore en was ‘n Romeinse burger. Hy is egter in Jerusalem grootgemaak en onderrig deur die Joodse Rabbi Gamaliël en het ook die universiteit by Tarsus bygewoon.
Voor Paulus tot bekering gekom het, was hy ‘n Fariseër. In Filippense 3:5-6 lees ons die volgende oor hom: “Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër, wat ywer betref, ‘n vervolger van die kerk, wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik.”
Hy het dus presies geweet wat dit beteken om ‘n Jood te wees en die Wet te onderhou.
Na sy bekering word Paulus een van die toegewydste Christene wat daar was. Dit beteken dat hy ook weet wat dit beteken om ‘n Christen te wees en Jesus te volg.
Juis daarom dra sy briewe soveel gewig, want hy verstaan, om dit so te stel, beide kante van die muntstuk!
PAULUS SE GEVANGENSKAPBRIEWE.
Paulus het vier briewe geskryf wat algemeen bekend staan as sy gevangenskapbriewe, omdat hy in die tronk was toe hy hierdie briewe geskryf het.
Hierdie vier briewe is Efesiërs, Filippense, Kolossense en Filemon. Dit is dan ook na interessanthede omtrent hierdie briewe waarna ons vandag gaan kyk.
DIE BRIEF AAN DIE EFESIëRS.
Efese was een van die belangrikste stede van die Romeinse Ryk. Die stad het gelê op ‘n strategiese handelsroete van Rome na die Ooste.
‘n Groot bron van inkomste in die stad was die Tempel van Artemis of Diana, ‘n fertiliteitsgodin. Baie mense het spesiaal na die stad gereis om by die tempel te kom aanbid. In Handelinge 19 vanaf vers 23 lees ons dan ook hoe die stad in oproer gekom het toe Paulus daar gepreek het en hierdie aanbidding, verdoem het.
Paulus se briewe het aanvanklik nie titels gehad nie. Die briewe is bymekaar gemaak en ‘n titel is toegeken na aanleiding van die gemeente waarna dit gestuur is.
Die vroegste Griekse manuskripte bevat nie die woord Efese of Efesiërs nie. Dis in die kantlyn langs die hoofteks in die eerste eksemplare bygevoeg.
Juis daarom meen sommige geleerdes dat dié brief die verlore brief aan die gemeente in Laodisea is (Kolossense 4:16). Ander is egter van mening dat dit wel vir Efese bedoel was.
Hierdie is die enigste van Paulus se briewe wat nie ‘n persoonlike groete aan spesifieke mense bevat nie. Daarom glo baie dat hierdie brief nie slegs vir Efese bedoel was nie, maar ook vir die ander Christene in die omgewing.
In Efesiërs balanseer Paulus lering (wat ons glo) en verpligting (wat ons doen). Die eerste drie hoofstukke gaan oor wat God gedoen het en die laaste drie gaan weer hoor wat ons moet doen.
DIE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE.
In die Evangelies lees ‘n mens baie gelykenisse wat Jesus vertel het. Elke gelykenis was ‘n storie oor alledaagse dinge, wat die mense kon verstaan, wat dan ‘n geestelike les gehad het. Dink maar aan die gelykenis van die saaier.
Paulus gebruik ook in sy briewe alledaagse dinge om geestelike waarhede tuis te bring.
Een van die interessantstes kry ons in die brief aan die Filippense.
In 42BC het Filippi militêre of koloniale status ontvang as gevolg van ‘n geveg wat daar naby gewen is. Dit het vir hulle sommer baie voordele ingehou. Hulle het nie belasting betaal nie en het hulle eie regering gehad. Hulle het ook dieselfde voordele geniet as die mense in Rome. Die stad was dus amper soos ‘n klein Rome in die middel van die Griekse kultuur.
Paulus gebruik hierdie feit om ‘n geestelike waarheid by hulle, en ons, vas te lê. In Filippense 3:20 lees ons: “Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag.”
Die gelowiges in Filippi sou hierdie waarheid goed verstaan. Hulle sou verstaan dat, net soos hulle dieselfde voordele as die inwoners van Rome het, hulle ook nou reeds alle hemelse voordele geniet.
Daar was ook ‘n Amfiteater in Filippi waar sportbyeenskomste (spele) gehou is. Ook dít word deur Paulus gebruik om ‘n geestelike waarheid by die gelowiges tuis te bring. In Filippens 3:13-14 kry ‘n mens die idee van ‘n atleet wat nie agtertoe kyk nie, maar voluit hardloop om eerste by die eindpunt te kom en die prys te behaal.
DIE BRIEF AAN DIE GELOWIGES IN KOLOSSE.
Nog een van Paulus se briewe wat ‘n interessante agtergrond het, is die brief aan die Kolossense.
Hierdie gelowiges het te doen gehad met ‘n dwaalleer wat Gnostisisme genoem is. In sy brief aan hulle weerlê Paulus dan ook die verskillende leerstellings van hierdie dwaalleer.
Die woord Gnostisisme kom van die Griekse woord, Gnosis. Dit beteken ‘om te weet’. Die aanhangers van hierdie leer het beweer dat hulle ‘n hoër intellek gehad het en geestelike dinge beter kon verstaan en interpreteer. Hulle leerstellings het ‘n mengsel van Wettiese Judaisme, Christelike waarhede, Griekse filosofie en Oosterse geheimenisse bevat.
As jy hulle leer aangehang het, dan het jy, volgens hulle, ‘n volheid gekry wat ander nie gehad het nie.
En juis daarom gebruik Paulus woorde soos volheid, vervul, volmaak en volle ‘n hele klomp keer in hierdie brief. Daarmee verduidelik hy Christus se voortreflikheid en ook die volheid wat ons in Hom het.

DIE BRIEF AAN FILEMON.
Die laaste van Paulus se briewe waarna ons gaan kyk, is die een wat hy aan Filemon geskryf het.
Hierdie brief word gesien as ‘n juweel van die oorredingskuns.
Hoekom?
Filemon het in Kolosse gewoon. Hy het ‘n slaaf met die naam Onesimus gehad, wat van hom af weggeloop het en by Paulus uitgekom het. Paulus het hom na Jesus gelei en hy het ‘n Christen geword.
Nou stuur Paulus Onesimus terug na Filemon. Hy skryf vir hom ‘n brief en pleit dat Filemon nie vir Onesimus straf oor hy weggeloop het nie, maar hom eerder terugvat as ‘n broer in Christus.
Hoewel Paulus nie vra dat Filemon vir Onesimus sy vryheid gee nie, word dit tog geïmpliseer.
Hierdie is een van Paulus se persoonlike briewe, maar was ook bedoel vir die huisgemeente wat in Filemon se huis bymekaar gekom het. Juis daarom kom die boodskap van versoening tussen gelowiges, ongeag hulle stand, duidelik in die brief na vore.
AGTERGROND HELP ONS VERSTAAN.
As ‘n mens die inligting hierbo lees, dan verstaan jy waarom die agtergrond van boeke en briewe in die Bybel belangrik is. Dit help ‘n mens baie keer om te verstaan waarom ‘n seker boek of brief geskryf is. Dit help jou ook soms om te verstaan waarom sekere dinge juis in daardie boek of brief geskryf is.
Ek wil jou aanmoedig om, voor jy ‘n boek of brief in die Bybel bestudeer, eers ‘n bietjie navorsing te doen oor die agtergrond.
Jy sal baie keer verbaas wees hoe dit jou help met jou studies en hoe jy sekere dinge in die Woord, veral in Paulus se briewe, beter verstaan.
