IDEES VIR JOU BYBEL JOERNAAL

Hier is 10 idees vir jou Bybel Joernaal wat jy kan gebruik as jy nou net jou joernaal begin het en jy nie weet wat om daarin te skryf nie.

10 Idees vir jou Bybel Joernaal

Wil jy graag dieper in God se Woord delf? Is dit jou begeerte om nie net die Woord te lees nie, maar dit ook in jou lewe toe te pas? Miskien skryf jy oral gedagtes neer oor wat jy uit die Bybel leer. Maar dan verloor jy wat jy geskryf het omdat dit op enige stuk papier was wat jy in die hande kon kry.

As enige van hierdie dinge jóú beskryf, dan is ‘n Bybel Joernaal dalk net die ding wat jy nodig het om jou tyd in die Woord meer waardevol te maak.

Ons het in verlede week se artikel gesels oor hoe jy te werk gaan om ‘n Bybel Joernaal te begin. Vandag gaan ons kyk na 10 idees vir jou Bybel Joernaal. Elkeen van die idees gaan jou help om ‘n dieper verhouding met God se Woord te bou.

WENKE VIR JOU BYBEL JOERNAAL.

Voor ons egter by die idees vir jou Bybel Joernaal kom, wil ek net eers die volgende wenke met jou deel.

WEES ALTYD EERLIK.

Dit was nog altyd vir my een van die wonderlikste dinge dat ‘n mens so eerlik teenoor God kan wees. Hy weet in elk geval alles, so jy hoef nooit iets vir Hom te probeer wegsteek nie.

Jou Bybel Joernaal is iets wat net tussen jou en God is. Jy hoef nooit bang te wees om brutaal eerlik met Hom te wees nie. As jy byvoorbeeld sukkel met ‘n gedeelte in die Bybel, skryf die vrae wat jy daaroor het neer. Praat met God daaroor. En vertrou Hom dat Hy op die regte tyd vir jou die antwoorde sal gee.

SKRYF DIE GEBEURE IN JOU LEWE NEER.

Hierdie wenk mag klink na iets wat meer pas by die dagboeke wat meisies in hulle tienerjare hou. Maar as jy dit reg doen, gaan dit jou baie help.

Hoe doen jy dit reg?

Skryf neer wat in jou lewe aangaan. Vra jouself dan of jy in daardie situasie toegepas het wat jy in die Bybel geleer het. Hoe het jy dit toegepas? As jy dit nié toegepas het nie, hoe kan jy, as ‘n soortgelyke situasie opduik, die regte ding doen?

GEBRUIK ‘N JOERNAAL WAT JY KAN RONDDRA.

‘n Mens weet nooit wanneer die Here jou skielik gaan help om iets wat jy nie verstaan het nie, te verstaan nie. As dít gebeur, wil jy jou joernaal byderhand hê om dit neer te skryf. Ongelukkig is ‘n mens geneig om maar gou te vergeet as jy dinge nie neerskryf nie!

Kry dus vir jou ‘n joernaal wat jy maklik saam met jou kan dra. As jy dit altyd by jou het, kan jy enige tyd daarin skryf en boekhou van wat die Here jou leer.

IDEES VIR JOU BYBEL JOERNAAL.

Een van die voordele van ‘n Bybel Joernaal is dat dit jou help om wat jy leer beter vas te lê. Hierdie 10 idees vir jou Bybel Joernaal gaan jou help om dit wat die Here jou leer neer te skryf en in te neem.

SKRYF DIE WOORD.

Hierdie is een van my gunsteling dinge om in my joernaal te doen. En dis sommer baie eenvoudig. Al wat jy doen is om die vers, of verse wat jy lees, woord vir woord in jou joernaal oor te skryf.

Om die Woord te skryf help jou om stadiger deur die gedeelte te lees. Dit help jou om te sien wat regtig daar staan. En dit help jou ook om beter te onthou wat jy gelees en geleer het.

SKRYF JOU EIE WOORDE.

Om iets in jou eie woorde neer te skryf, forseer jou om te dink wat jy gelees het. Dit wys jou ook of jy regtig verstaan wat jy gelees het.

Lees die vers of verse ‘n paar keer. Som dit dan op in jou eie woorde. Probeer om dit so eenvoudig as moontlik te hou.

GEBRUIK VERSKILLENDE VERTALINGS.

Kry vir jou ‘n paar verskillende Bybelvertalings. Ons het nie soveel verskillendes in Afrikaans beskikbaar nie, maar ‘n Engelse een of twee kan ook help.

Lees die vers of verse vir die dag in elkeen van die vertalings. Skryf dan so twee of drie verskillende weergawes in jou joernaal neer. Soms help verskillende vertalings ‘n mens om nuwe dinge in die verse raak te sien. Sien jy iets wat jy nie voorheen opgelet het nie? Skryf dit ook in jou joernaal neer.

DOEN ‘N BYBELVERS STUDIE.

‘n Bybelvers studie is ‘n studiemetode waar ‘n mens ‘n diagram of kaart – baie soos ‘n breinkaart (mind map) – gebruik om ‘n vers van die Bybel te studeer.

Dis ‘n goeie metode om te gebruik wanneer jy die betekenis van ‘n vers van nader wil bekyk. Dit sal jou ook help om te bepaal hoe die vers op jou van toepassing is.

Skryf alles wat jy leer in jou Bybel Joernaal neer.

LYSIES, LYSIES, LYSIES.

Het jy al opgelet dat daar nogal heelwat lyste in die Bybel is?

Dink maar aan 1 Korinthiërs 13, waar ons ‘n lys van die karaktereienskappe van liefde kry. Of wat van Filippense 4:8, waar ons ‘n lys kry van positiewe dinge om ons gedagtes op te rig. En dan is daar natuurlik ook die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22-23.

Al hierdie dinge kan in lysvorm in jou Bybel Joernaal neergeskryf word.

Jy kan ook ‘n lys maak van mense, plekke, of dinge in ‘n vers.

WAT STAAN UIT IN ‘N VERS?

Is daar iets wat vir jou uitstaan in ‘n vers? Skryf dit neer.

Is daar belangrike lesse wat jy leer uit ‘n vers? Skryf dit neer.

Dalk lees jy ‘n gedeelte oor ‘n spesifieke karakter wat jy bewonder. Skryf neer wat jy oor die karakter bewonder. Jy kan selfs neerskryf hoe jy dít wat jy bewonder, in jou eie lewe kan toepas.

JOU GEBEDE.

As jy nie ‘n aparte gebedsjoernaal het nie, dan kan jy jou Bybel Joernaal ook vir jou gebede gebruik.

Het jy iets in jou Bybelgedeelte gelees waarmee God jou moet help? Skryf ‘n gebed en vra Hom om jou te help.

Of dalk het jy iets gelees en jy weet jy moet verander. Skryf ‘n gebed waarin jy die Here vra om jou te verander.

Jy kan ook gebede vir ander mense in jou joernaal neerskryf.

En moenie vergeet om ‘n plekkie te los waar jy agterna die antwoord op jou gebed ook kan neerskryf nie!

ANDER SE WOORDE EN GEDAGTES.

Ek weet nie van jou nie, maar ek lees nogal baie Christelike artikels en boeke. Soms skryf iemand ‘n ding net op so ‘n manier dat ek dit vanuit ‘n ander hoek bekyk, en dan verstaan ek skielik meer daaroor as voorheen.

Ek skryf dan ook graag hierdie woorde en gedagtes van ander in my Bybel Joernaal neer. Ek skryf ook neer hoe dit my help om beter te verstaan.

Jy kan ook hierdie idee vir jou Bybel Joernaal gebruik.

Of dalk is jy iemand wat graag na Christelike musiek luister. Watter liedjies beteken vir jou baie? Skryf die woorde van die lied in jou joernaal neer.

Jy kan ook aanhalings van mense soos Joyce Meyer, C.S. Lewis, Billy Graham, ensovoorts in jou joernaal neerskryf. Enige iets wat jou help om die Bybel beter te verstaan kan in jou joernaal neergeskryf word.

GEE JOUSELF ‘N AKSIESTAP.

Die enigste manier om te verander is om die Woord in jou lewe toe te pas.

Het jy iets gelees wat jy wil toepas? Skryf dit neer. Skryf ook ‘n aksiestap of aksiestappe neer wat jy kan neem om dit toe te pas.

As jy baie kunstig is en jy hou van teken, kan jy selfs ‘n prentjie van jou aksiestap teken sodat jy dit beter onthou.

Na jy jou aksiestap neergeskryf of geteken het, moenie vergeet om dit te doen nie! Onthou, om ‘n doener van die Woord te wees is die enigste manier hoe verandering gaan kom.

‘N MAKLIKE FRASE OM DINGE SAAM TE VAT.

As jy ‘n moeiliker gedeelte in die Woord studeer of lees, vra die Here om jou te help om dit in ‘n maklike frase saam te vat. Dit moet iets wees wat jy verstaan en maklik gaan onthou.

NOG IDEES VIR JOU BYBEL JOERNAAL.

Op soek na nog idees vir jou Bybel Joernaal?

Hier is ‘n paar:

  • Maak ‘n lysie van dinge waarvoor jy dankbaar is
  • Skryf God se beloftes waarvoor jy Hom vertrou in jou joernaal neer.
  • Skryf die dinge waarmee jy sukkel of wat jou laat twyfel neer. Onthou ook om ‘n gebed daaroor te skryf waarin jy God vra om jou daarmee te help.
  • Sukkel jy om jou gawes en talente te gebruik? Weet jy nie waar God jou in die lewe wil gebruik nie? Skryf neer hoe jy daaroor voel. Skryf ook ‘n gebed waarin jy die Here vra om jou te wys hoe Hy jou wil gebruik.
  • Maak ‘n lysie van jou gunsteling verse in die Bybel.
  • Maak ‘n lysie van verse wat jy wil memoriseer.
  • Skryf jou lysie van mense waarvoor jy wil bid in jou joernaal neer. Onthou om plek te los waar jy die antwoord op jou gebede kan neerskryf.

Hierdie is maar net ‘n paar idees vir jou Bybel Joernaal. Onthou, maak dit jou eie. Gebruik dit soos jy wil. Teken, skryf, plak prentjies. Wat jou ookal help om God se Woord beter te verstaan en ‘n dieper verhouding daarmee te bou, is ‘n goeie idee vir jou Bybel Joernaal!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *