HEBREëRS 12: HOOP WANNEER JY MOEG WORD

Wanneer ons Hebreërs 12 lees, word ons daaraan herinner dat die geloofslewe nie ‘n naelloop is nie, maar ‘n wedloop. Dis ‘n pad wat die Here Self vir elkeen van ons uitgelê het. Soms is dit ‘n maklike pad, soms ‘n opdraande, en soms voel dit asof die wind van voor waai. Maar die Here gee ons nie net ‘n wedloop nie; Hy wys ons ook hoe om dit te hardloop.

Vandag gaan ons die VOLG-metode gebruik om na Hebreërs 12:1–2a te kyk. Hierdie twee verse is propvol wysheid en praktiese raad vir elke kind van God wat ernstig is oor groei, volharding, en om nader aan Jesus te leef. Mag die Here deur Sy Woord met jou praat, jou oë oopmaak vir dit wat Hy vir jóú wil wys, en jou hart versterk vir die wedloop wat jy elke dag hardloop.

V- VRA GOD SE LEIDING.

Ons gaan begin by V, wat staan vir Vra God Se leiding, so kom ons bid saam.

Here, dankie dat ons vandag weer saam kan stil word in U Woord. Dankie dat U hier is om deur U Woord met ons te praat en ons te leer wat ons vandag moet weet. Ons bid dat U ons oë sal oopmaak vir dit wat ons moet raaksien en ook dat U ons sal help om te verstaan wat U vir ons wil sê en hoe ons dit in ons daaglikse lewens moet gaan uitleef. Ons bid dit in die Naam van Jesus, ons Verlosser. Amen.

O – ONDERSOEK DIE TEKS.

Nou gaan ons oor na O, wat staan vir Ondersoek Die Teks. Jy is welkom om eers op te hou lees en Hebreërs 12:1-2a in jou joernaal neer te skryf en te merk wat vir jou uitstaan. Of jy kan net hieronder lees wat in die gedeelte staan.

In Hebreërs 12:1-2a lees ons: Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

L EN G: LESSE EN OM ‘N DOENER TE WEES.

Daar is ‘n paar belangrike dinge wat ons in hierdie twee verse moet raaksien. Dit is die L gedeelte van VOLG, wat staan vir Let Op Die Lesse. Ons gaan ook sommer na elke les wat ons raaksien, dadelik oor die G, wat staan vir Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord, ook gesels.

LES 1.

Eerstens moet ons sien dat ons besig is met ‘n wedloop. Elkeen van ons het ons eie wedloop, wat die Here vir ons beplan het. Jy kan dit ook sien as die plan wat die Here vir jou lewe het.

Tweedens moet ons sien dat daar sekere dinge is wat veroorsaak dat ons sukkel om hierdie wedloop te hardloop.

Die eerste ding waarvan die skrywer praat, is laste. Hierdie laste kan dinge wees soos vrees, bekommernis, ou wonde wat nog nie genees het nie, of dinge wat ander aan ons gedoen het, waaraan ons bly vashou.

Dit kan ook dinge wees soos om te besig te wees, of om op ons eie wysheid en eie krag staat te maak, of selfs die verskillende goed wat ons aandag besig hou en aftrek.

Hierdie is alles laste wat ons verhinder, ons terughou en afrem in die wedloop wat die Here vir ons gegee het.

Dis dus baie belangrik dat ons van hierdie laste ontslae raak.

Maar ons moet hulle nie net saggies neersit sodat ons hulle dalk later weer kan optel nie. Nee, ons moet hulle afgooi. Dit impliseer dat ons die laste ver van ons af weggooi sodat ons regtig van hulle ontslae is en hulle ons nie langer kan terughou nie.

Dink so ‘n bietjie aan jou lewe. Wat se laste is daar wat jou hinder en terughou in jou geloofswedloop? Skryf hulle neer en praat met die Here daaroor. Vra Hom om jou te help om die laste van jou af te gooi. En as dit nodig is, stel vir jouself ‘n aksieplan op van hoe jy te werk moet gaan om jou laste van jou af te gooi.

LES 2.

Die tweede ding, wat die skrywer sê ons kan terughou en waarvan ons ontslae moet raak, is sonde. Hy noem nie spesifieke sondes nie, maar hy verwys tien teen een na ongeloof.

Die hele Hebreërs 11 gaan oor geloof en wat dit in die lewens van die geloofshelde beteken het.

Ons moet dus sorg dat ons van alle ongeloof in ons lewens ontslae raak, want ongeloof lei tot allerhande ander sondes wat ons kan verstrik.

Dink weer aan jou eie lewe. Wat is daar wat God gesê het, wat jy sukkel om te glo? Waar sukkel jy om Hom te vertrou? Bring al hierdie dinge na Hom toe en praat eerlik met Hom daaroor. As jy weet waarom jy sukkel om te glo, sê dit vir Hom. Bid dan wat die man in Markus 9:24 gebid het: Here, ek glo. Help my in my ongeloof!

LES 3.

Die derde ding wat ons moet raaksien, is die feit dat ons aangemoedig word om ons wedloop met volharding te hardloop.

In Hebreërs 11 lees ons van verskeie mense wat hulle geloofswedloop met volharding gehardloop het. Dit was nooit maklik nie, maar hulle het aangehou ten spyte van probleme, teenstand, swaarkry, vervolging en beloftes wat gelyk het of dit nooit gaan waar word nie.

Ons moet hulle voorbeeld volg en ook aanhou om vorentoe te beweeg in ons geloofswedloop, want dit is die enigste manier hoe ons by die eindpunt gaan kom en die wedloop gaan wen.

As jy vandag sukkel met jou wedloop, soek ‘n geloofsheld in die Bybel wat dieselfde ervaring as jy gehad het en kyk hoe hy dit hanteer het.

Het jy familieprobleme? Lees wat het Josef gedoen.

Raak jou werk vir jou te veel? Kyk bietjie na Moses se lewe.

Het iemand jou te na gekom en jy is in die versoeking om hom terug te kry? Blaai na Dawid se verhaal en gaan leer by hom wat jy moet doen.

Onthou, alles wat die Here in Sy Woord laat opteken het, is opgeteken om ons te leer sodat ons “deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.” (Romeine 15:4).

LES 4.

Laastens kom ons by die heel belangrikste ding uit wat ons in hierdie gedeelte moet raaksien en ook in ons geloofswedloop moet doen.

Ons moet ons oë altyd op Jesus hou.

Onthou jy die storie van Petrus wat op die water geloop het? Terwyl hy op Jesus gefokus het, kon hy doen wat geen mens behalwe Jesus nog ooit gedoen het nie. Hy kon op die water loop. Maar toe hy sy oë van Jesus afhaal en fokus op dit wat rondom hom aangaan, het hy bang geword en gesink.

Dieselfde is waar van ons. Solank ons ons oë op Jesus hou, sal ons nie net weet in watter rigting ons moet hardloop nie, maar ook hoe ons dit moet doen.

Solank ons op Hom gefokus bly, sal al die dinge wat in hierdie wêreld gebeur wat ‘n mens negatief en bang kan maak, ons nie beïnvloed nie. Waarom nie? Want ons vertroue is in die Een wat groter is as die duiwel wat in die wêreld is.

Solank ons Jesus voor oë hou, sal ons al die laste en sonde wat ons verhinder en verstrik afgooi. Ons sal met volharding kan hardloop omdat die Here ons nie net gewillig maak nie, maar ook die vermoë en krag gee om Sy wil te gehoorsaam.

MOENIE MOED OPGEE NIE.

Ek weet nie wat jou wedloop op dié stadium behels nie. Dalk is jy besig om op gelykpad te hardloop, waar dinge redelik maklik gaan. Dalk is jy besig om teen ‘n baie steil opdraende op te hardloop, en jy is moeg en sommer lus om die handdoek in te gooi.

Maar dit maak nie saak hoe jou wedloop op die stadium lyk nie, ek wil jou aanmoedig om elke dag tyd by Jesus se voete te spandeer. Laat Hom toe om jou te vul met Sy Gees, met liefde, met geloof, met hoop, en met Sy Woord. Laat Hom toe om jou te bemoedig, jou aan te moedig, jou krag te gee, en jou die Wysheid te gee wat jy nodig het vir die dag.

En moenie van Hom vergeet wanneer jy klaar is met jou stiltetyd nie. Bly op Hom fokus. Praat met Hom deur die dag. Vra Hom om jou te help in elke besluit wat jy neem. En vra Hom om jou te help met elke taak wat jy aanpak. Vra Sy raad, Sy bystand, Sy wysheid.

Hou jou oë op Hom sodat jy jou geloofswedloop met volharding kan hardloop en die oorwinnaarskroon kan kry.

JESUS, DIE BYBEL, EN JY.

As jy meer wil weet oor die VOLG-metode en hoe jy dit in jou stiltetyd of Bybelstudie-tyd kan gebruik, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy net waarna jy op soek is. Dis die VOLG-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.

Saam met dié gids kry jy ook die VOLG-studie, Waag Dit Om anders Te Wees. In die studie gebruik jy die VOLG-metode om te kyk na gedeeltes in die Bybel wat ons leer dat ‘n kind van God anders leef as die wêreld. Maak dus sommer nou ‘n draai in die winkel en kry jou twee e-boeke en begin om Jesus deur die Woord te VOLG!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *