
Daar is sommer ‘n hele klomp Bybelstudie-metodes wat ‘n mens kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Sommige is kort en maklik. Ander bietjie langer en moeiliker. Een van die langer metodes is die Hoofstuk Bybelstudie-metode. Vandag gaan ons dié studiemetode gebruik om na Genesis 22:1-19 te kyk. Dit is die gedeelte waar God vir Abraham opdrag gee om vir Isak te gaan offer.
Ek het voorheen ‘n artikel geskryf oor hoe die Hoofstuk Bybelstudie-metode werk, so jy kan daar gaan loer vir meer inligting. Maar vandag gaan ons dit ‘n bietjie anders doen as wat ek dit daar beskryf het.
Dis altyd makliker as mens ‘n raamwerk het waarvolgens jy werk wanneer jy Bybelstudie doen. Vandag gaan ons hierdie raamwerk gebruik:
Waaroor gaan die hoofstuk?
Wie is die hoofkarakters?
Wat is die sleutelvers?
Wat is die sleutelwoord/woorde?
Kruisverwysings wat ons help verstaan.
Waar sien ons vir Jesus?
Wat kan ek hieruit leer?
‘n Opskrif vir die hoofstuk.
Toepassing.
WAAROOR GAAN DIE HOOFSTUK?
Ons eerste stap is om te bepaal waaroor die hoofstuk gaan. As jy ‘n hoofstuk-studie doen, kan jy kies hoe jy dié inligting wil uiteensit. Jy kan beskryf wat daar staan, dit opsom, dit parafraseer, of die hoofpunte neerskryf.
Ons gaan die laaste metode gebruik en die hoofpunte neerskryf.
- God stel Abraham op die proef deur hom te beveel om vir Isak te offer op die berg wat Hy hom sal wys.
- Abraham vertrek na die plek wat God oor gepraat het en neem vir Isak en twee dienaars saam.
- Isak vra waar is die lam vir die brandoffer? Abraham antwoord God sal Self voorsien.
- Die Engel van die Here keer vir Abraham toe hy Isak wil slag.
- Abraham kyk op en sien ‘n ram wat aan sy horings vasgevang is in ‘n bos en hy offer die ram.
- Hy noem die plek: Op die berg van die Here sal voorsien word.
- God belowe om Abraham te seën en sy nageslag te vermeerder. Hy belowe ook dat al die nasies van die aarde in Abraham geseën sal word.
WIE IS DIE HOOFKARAKTERS IN DIE HOOFSTUK?
Ons volgende stap is om die hoofkarakters te identifiseer. Ons gaan ook neerskryf waarom ons hierdie karakters kies.
- God/die Engel van die Here – God gee die opdrag in hierdie gedeelte. As Hy nie hierdie opdrag vir Abraham gegee het nie, sou die hoofstuk nooit eers bestaan het nie! Dit is dan ook God wat die ram voorsien wat in Isak se plek geoffer word. Die Engel van die Here verwys ook na God.
- Abraham – Abraham is die een wat getoets word. Gaan hy aan God gehoorsaam wees? Gaan hy God bo alles stel? En gaan hy God vertrou om regtig te voorsien?
- Isak – Isak is ‘n hoofkarakter omdat dit hy is wat geoffer moet word. Hy besef daar kort iets, want waar is die lam vir die offer? Hieruit kan ons aflei dat hy nie geweet het van die opdrag wat God sy pa gegee het nie.
WAT IS DIE SLEUTELVERS IN DIE HOOFSTUK?
Die volgende stap is om ‘n vers te soek wat die hele hoofstuk opsom of wat vir jou persoonlik uitstaan. In sommige hoofstukke is daar sleutelverse wat opsom wat die skrywer wil sê, terwyl daar in ander hoofstukke nie so ‘n vers is nie.
Jy kan ook ‘n vers kies wat vir jou uitstaan en wat jy glo God wil hê jy in jou lewe moet toepas.
Ons gaan vers 14 kies, want ek glo dit som op wat ons uit hierdie hoofstuk moet leer. Daar staan: “Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word ‘Op die berg van die Here sal voorsien word.’“
Hoekom kies ek hierdie vers?
Want hierdie hoofstuk is ‘n heenwysing na Jesus en die offer wat Hy vir ons aan die kruis gebring het. Net soos God ‘n ram voorsien het om in Isak se plek te sterf, het Hy Sy Seun gegee om in ons plek te sterf. Daar is dan ook Bybelkenners wat glo Jesus is op of naby hierdie einste berg, waar Abraham vir Isak moes offer, gekruisig.
WAT IS DIE SLEUTELWOORD OF -WOORDE IN DIE HOOFSTUK?
Die volgende stap is om die sleutelwoord of -woorde in die hoofstuk te soek. Dié woord is baie keer een wat die meeste gebruik word, soos die woord ‘geloof’ of ‘glo’ in Hebreërs 11.
Maar die sleutelwoord kan ook een wees wat nié baie gebruik word nie, maar tog baie belangrik is. Die woord ‘beskou’ in Romeine 6 is byvoorbeeld die belangrikste woord in die hoofstuk, maar dit word net een keer in vers 11 gebruik.
‘n Hoofstuk kan ook soms meer as een sleutelwoord hê.
As ek die gedeelte in Genesis 22:1-19 lees, dan sien ek twee sleutelwoorde. Die eerste is offer of brandoffer (vs2, 6, 7, 8, 13). Die tweede is voorsien (vs.8, 14).
KRUISVERWYSINGS WAT ONS HELP VERSTAAN.
Die volgende stap is om te kyk of daar enige kruisverwysings in die hoofstuk is. Kruisverwysings help ons om die hoofstuk beter te verstaan omdat dit baie keer lig werp op ‘n onderwerp in die gedeelte.
In my Bybel is daar sommer ‘n hele klomp kruisverwysings by Genesis 22:1-19. Ek noem net ‘n paar:
Deuteronomium 8:2: God toets ons om te sien of ons aan Hom gehoorsaam gaan wees.
Hebreërs 11:17-19: In hierdie verse sien ons wat Abraham geglo het God by magte was om te doen en daarom was hy gehoorsaam aan God se opdrag.
Markus 1:11: God verwys na Isak as Abraham se seun wat hy liefhet. Dan sê Hy Abraham moet hierdie geliefde seun gaan offer (Genesis 22:2). In Markus 1:11, en ook in ander verse in die Bybel, sien ons Jesus is die Vader se geliefde Seun. Maar, anders as Abraham, word hierdie geliefde Seun se lewe nie gespaar nie – Hy word geoffer.
Johannes 1:29: God voorsien ‘n ram om in Isak se plek te sterf. Jesus is die Lam van God, wat voorsien is om in ons plek te sterf en die sondes van die wêreld weg te neem.
Romeine 8:32: In Genesis 22:12 sê God vir Abraham: “Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.” In Romeine 8:32 lees ons God het Sy Seun, Sy enigste, nie van ons teruggehou nie. Hy het Hom oorgelewer om ons almal te red.
Hierdie is maar net ‘n paar kruisverwysings vir Genesis 22:1-19. Gaan kyk bietjie, as jy hier klaar gelees het, watter verwysings daar nog in die Bybel is en hoe dit jou help om die gedeelte beter te verstaan.

WAAR SIEN ONS VIR JESUS?
Die hele Bybel is ‘n openbaring oor Jesus. Om die waarheid te sê, Hy het Self die Ou Testament gebruik om Sy dissipels meer oor Homself te leer. Ons volgende stap is om te kyk waar ons vir Jesus in die hoofstuk raaksien.
As jy ‘n hoofstuk-studie doen, vra jouself wat die gedeelte jou oor Jesus, die Vader of die Heilige Gees leer. Wat kan jy, uit wat oor een van die Drie gesê word, leer oor die karakter van Jesus? Watter eienskappe van God word in Christus in die hoofstuk geïllustreer? (Bv. Sy liefde, genade, heiligheid, krag, getrouheid, ensovoorts.)
Hierdie stap gaan nie altyd so maklik wees nie, veral wanneer jy die verhale in die Ou Testament studeer of wanneer simboliek gebruik word.
Gelukkig het ons nie hierdie probleem in Genesis 22:1-19 nie!
Ons het eintlik reeds hierdie vraag ‘n hele paar keer geantwoord in ons waarnemings hierbo.
Ons sien vir Jesus as die Lam van God. Die Vader het Hom nie van ons teruggehou nie, maar Hom in ons plek geoffer vir ons sondes.
WAT KAN ONS HIERUIT LEER?
Die volgende stap is om neer te skryf wat ons uit die gedeelte leer. Is daar ‘n belangrike beginsel in die gedeelte? Is daar enige iets wat jou beter insig gee of ‘n les wat jy leer?
Ek sien ‘n paar lesse in die hoofstuk.
- Ons geloof gaan getoets word. God weet reeds of ons Hom gaan gehoorsaam of nie, maar dit gee ons die geleentheid om self te sien of ons God regtig vertrou of nie.
- God is nie suinig nie. Hy hou nie eens Sy Enigste Seun van ons terug nie, waarom al Hy nie dan alles anders wat ons nodig het, vir ons gee nie?
- Gehoorsaamheid aan en vertrou in God is belangrik. Dit loop so hand aan hand.
- God is getrou.
Hierdie is die lesse wat ék in die hoofstuk raaksien. Is daar iets wat jy sien wat ek gemis het? Ek sal graag wil weet, so skryf die lesse wat jy raaksien in die kommentaar hieronder.
‘N OPSKRIF VIR DIE HOOFSTUK.
Die volgende stap is om ‘n opskrif vir die hoofstuk te kies. Dit gaan ons help om te onthou waaroor die hoofstuk gaan. En onthou, hoe korter hoe beter.
As jy kan, gebruik die sleutelwoord of woorde in die opskrif.
Ek dink ‘n goeie opskrif is “‘n Offer word voorsien”. Watter opskrif sou jý vir die gedeelte kies?
TOEPASSING.
Die laaste stap is om te bepaal hoe ons die gedeelte, en die lesse wat ons daaruit geleer het, in ons lewens gaan toepas.
Om dit makliker te maak is daar twee vrae wat ons kan vra.
- Hoe is hierdie waarhede of lesse op my persoonlik van toepassing?
- Wat gaan ek daaromtrent doen? (Wees spesifiek!)
Die les wat hier vir my die meeste uitstaan, en wat ek in my eie lewe moet toepas, is die les oor gehoorsaamheid aan en vertroue in God.
My woord vir 2022 is ‘voorberei’. Die Here het die afgelope twee weke vir my ‘n paar opdragte gegee wat ek moet uitvoer om my te help voorberei. Ek weet nog nie waarvoor Hy my voorberei nie, maar ek weet ek kan Hom vertrou dat dit iets gaan wees wat vir my, en almal wat ek teëkom, tot seën gaan wees. My werk is nou om daardie opdragte uit te voer.
Abraham het nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy het dadelik gedoen wat God vir hom gesê het om te doen. Ek gaan sy voorbeeld volg en tyd opsy sit om die opdragte wat God mý gegee het, uit te voer.
IETS WAARMEE JY SUKKEL?
Daar is nog een ekstra stap wat jy kan gebruik wanneer jy die hoofstuk-metode gebruik om Bybelstudie te doen.
Eindig jou studie deur dinge in die hoofstuk neer te skryf waarmee jy sukkel. Is daar iets wat jy nie verstaan nie? Is daar iets in die teks wat jy later in meer detail wil studeer?
Dalk is daar ‘n woord wat vir jou uitstaan en wat jy later kan gebruik om ‘n woordstudie te doen.
Is daar ‘n leerstelling in die teks wat jy meer oor wil weet? Jy kan dit gebruik om later ‘n onderwerp-studie oor te doen.
Wat dit ookal mag wees, skryf dit neer en gebruik dit later as een van jou Bybelstudie-onderwerpe.
SLOTSOM.
Genesis 22:1-19 leer vir ons so baie oor God se karakter – oor Sy liefde en genade vir die mens. Dit leer ons ook oor gehoorsaamheid aan en vertroue in God.
Ek vertrou dat hierdie studie jou gehelp het om dit beter te verstaan en dat jy sien hoe dit heenwys na Jesus en wat Hy vir ons kom doen het.
Ek vertrou ook dat jy nou so ‘n bietjie beter verstaan hoe om die hoofstuk-studiemetode te gebruik wanneer jy Bybelstudie doen en dat jy dit in die toekoms gaan gebruik.