ESTER – WAT JY MOET WEET

Ester - wat jy moet weet

As jy gereeld hier op Bybel En Gebed ‘n draai maak, sal jy weet dat ons elke nou en dan gesels oor ‘n boek van die Bybel en van die agtergrond-inligting wat ons help om die boek beter te verstaan. Vandag maak ons weer so. In hierdie artikel gaan ons kyk na agtergrond-inligting oor Ester, die 17de boek in die Ou Testament.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Hierdie is die sesde boek in die Ou Testament wat sy naam gekry het by die hooffiguur in die boek. Dis ook die tweede boek wat na ‘n vrou vernoem is.

Aan die begin van Ester lees ons dat haar Hebreeuse naam Hadassa was. Die naam het meer as een betekenis en kan, onder andere, beteken om iets te verberg.

Haar Persiese naam was Ester, wat ster beteken.

WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.

Die boek speel in die Persies Ryk af, tydens die regeringstyd van koning Ahasveros, wat ook Serkses I genoem is.

Die tydperiode is ongeveer 482-473 vC.

WIE HET ESTER GESKRYF?

Niemand is seker wie die boek Ester geskryf het nie.

Sommige kenners meen dit kon Esra gewees het. Ander dink dit was dalk Mordegai. Maar dit is net spekulasie.

Die skrywer van die boek is dus onbekend.

WAT SE TIPE BOEK IS ESTER?

Ester is, soos soveel van die ander boeke waaroor ons al gesels het, ‘n geskiedenisboek.

In die Hebreeuse Bybel word dit ‘n ‘Megillah’ genoem, wat boekrol beteken.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Net soos met soveel van die ander boeke wat ons al behandel het, het Ester ook twee dinge ten doel.

In die eerste plek sien ons dat die duiwel beplan het om van die Jode ontslae te raak. Maar God is in beheer en Hy beskerm Sy volk en red hulle van ‘n gewisse dood.

In die tweede plek wys dit vir ons dat ons, selfs in ons velste stryd hier op aarde, op God kan vertrou om ons te help. Hy beskerm en red steeds diegene wat aan Hom behoort.

HOOFTREKKE VAN ESTER.

Die boek kan in drie dele verdeel word.

Hoofstuk 1:1-2:18 is ‘n inleiding en vertel vir ons hoe Ester koningin van Persië geword het.

Die hoofgedeelte van die boek kry ons in hoofstuk 2:19-9:19. In dié gedeelte lees ons van die wet wat Haman laat maak het om die Jode op ‘n bepaalde dag uit te wis. Ester oorreed egter vir Ahasveros om nog ‘n wet te maak. Hierdie wet gee die Jode die reg om hulleself op daardie dag te verdedig. So kry hulle dan ook op daardie dag die oorhand oor hulle vyande.

Hoofstuk 9:20-10:3 is die slot van die boek. Dit vertel dat die Jode die oorwinning oor hulle vyande elke jaar vier met die Purimfees.

BELANGRIKE KARAKTERS IN ESTER.

Daar is vier hoofkarakters in hierdie boek: Ester, Mordegai, Ahasveros of Serkses I en Haman.

Dan is daar ook ‘n belangrike plek in die boek. Dit is die Persiese hoofstad, Susan, waar die winterpaleis van die Persiese konings was.

KENMERKENDE EIENSKAPPE VAN DIE BOEK.

Daar is twee dinge wat uitstaan in die boek.

Soos ek reeds gesê het, is Ester die tweede boek in die Ou Testament wat na ‘n vrou vernoem is. Saam met Rut is dit ook die enigste twee boeke in die Bybel wat na vroue vernoem is.

Dan word die Naam van die Here nooit in die oorspronklike teks van die boek gebruik nie. Maar God se Teenwoordigheid kan dwarsdeur die boek gesien word.

Besoek ons winkel vir verskillende Bybelstudie-hulpmiddele.

JESUS IN ESTER.

Alhoewel Ester ‘n vrou was, was sy ook ‘n heenwysing na Jesus.

Net soos Jesus, was sy ‘n middelaar vir haar mense (1 Timotheus 2:5).

Sy was ook bereid om haar lewe op te offer om haar mense te red (Ester 4:16). Sy het egter nie nodig gehad om haar lewe te gee nie.

Jesus, daarenteen, was nie net bereid om Sy lewe te gee nie, Hy het dit gedoen!

SLEUTELVERSE IN ESTER.

Die boek se sleutelvers kry ons in Ester 4:14.

Daar staan: “Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van ‘n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir ‘n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?”

KERNSAKE IN DIE BOEK.

Daar is vier kernsake in Ester, wat ek wil uitlig.

In die eerste plek sien ons dat God nie ‘n opsigtelike rol speel in wat gebeur nie. Maar dis Hy wat die regte mense op die regte tyd stuur, sodat die regte dinge kan gebeur.

Tweedens sien ons dat die mag van konings en leiers mense se lewens kan verwoes. In Ester lees ons egter hoe hierdie mag bestuur kan word om andere se lewens te red.

In die derde plek leer ons dat daar mense is wat, soos Ester, bereid is om hulle lewens op die spel te plaas. Dit kan vir diegene rondom hulle, tot voordeel wees.

En laastens vertel die verhaal van Ester vir ons waar die Purimfees vandaan kom.

ESTER IN JOU LEWE.

Daar is ‘n paar interessante dinge wat ons uit Ester kan leer, wat ons in ons daaglikse lewens moet onthou.

  1. Daar is baie dinge wat in die boek lyk of dit ‘toevallig’ gebeur. Maar soos ons die verhaal lees, sien ons dat God eintlik in beheer is. Ons kan dus bid dat Sy wil geskied. Ons hoef ook nooit te twyfel dat Hy altyd in beheer is en in beheer sal bly nie.
  2. Die koning van Persië het baie mag gehad. Maar teenoor die mag van God, was syne maar net skyn. Dit beteken alle aardse mag, selfs dié wat ons bang maak, is eintlik maar leeg en van verbygaande aard. God kan egter volkome vertrou word, want Sy mag is ware mag.
  3. Iemand het gesê dat God se Koninkryk ‘n onderste-bo Koninkryk is. Alles werk andersom as wat dit in die wêreld werk. Dink byvoorbeeld aan Haman. Hy bou ‘n galg vir Mordegai, maar dit was eintlik vir homself. En die Jode, wat ‘n dag van uitwissing in die gesig staar, oorwin op daardie dag hulle vyande. Ons moet onthou dat slegte dade ‘n oes van veroordeling bring. Maar as ons op die Here vertrou, ontvang ons Sy seën.
  4. Ester was bereid om haar lewe te waag om vir haar volk te pleit. Dit het die krisis waarin die Jode hulle bevind het, begin verander in uiteindelike oorwinning. Ons moet onthou dat God mense gebruik om Sy wil te laat geskied. As ons wil hê Hy moet ons gebruik, dan moet ons bereid wees om Sy leiding te volg en aan Hom gehoorsaam te wees.

VORIGE ARTIKELS.

In van ons vorige artikels het ons reeds oor die eerste 16 boeke van die Bybel gesels. Ek het skakels na daardie artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om te kry.

As jy dus agtergrond-inligting oor enige van daardie boeke nodig het vir jou Bybelstudie, kan jy dit HIER kry.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *