DOEN SELF BYBELSTUDIE – 7 MAKLIKE STAPPE

Bybel, pen, notas - doen self Bybelstudie

Weet jy hoe om Bybelstudie te doen? Baie mense sukkel daarmee, want hulle weet nie regtig hoe nie. As jy nie weet hoe om Bybelstudie te doen nie, dan is hierdie artikel net waarna jy op soek is. Volg hierdie 7 stappe en dit gaan jou help om te begin sodat jy kan leer hoe om self Bybelstudie te doen.

Jy sien, ‘n mens leer die beste hoe om Bybelstudie te doen deur dit self te doen. Iemand anders kan jou leiding gee, maar as jy nooit self jou Bybel vat en studeer nie, gaan jy nooit leer nie.

So, kom ons kyk na die 7 stappe wat jy kan gebruik om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

BESLUIT WAAR JY GAAN BEGIN.

In Bybel En Gebed se Facebook-groep kry ek gereeld die vraag: Waar moet ek met Bybelstudie begin?

Jý is die enigste een wat kan besluit waar jy wil begin. Waaroor wil jy meer weet? Wil jy meer weet oor God se liefde of Sy genade? Dalk wil jy meer weet oor vergifnis of oor geloof. Dít kan jou beginpunt wees.

Of dalk is daar ‘n gedeelte wat jou aangegryp het toe jy jou Bybel gelees het. Dalk was die deel baie interessant of dalk was daar iets wat jou laat wonder het. Kies dan hierdie gedeeltes om ‘n studie oor te doen.

Onthou net om iets te kies waaroor jy regtig meer wil weet, sodat jy Bybelstudie vir jou lekker kan wees.

As jy nog steeds sukkel om te besluit waar om te begin, hier is ‘n paar idees:

Doen ‘n studie oor hoe ‘n gelowige moet leef om God te verheerlik.
Kyk in diepte na dinge waarmee jy sukkel soos selfsug, swak selfbeeld, of om God se genade of liefde te ontvang.
Doen ‘n studie oor die karaktereienskappe wat jy graag in jouself wil sien soos liefde, geduld, vrygewigheid, meegevoel.

SOEK VERSE OOR JOU ONDERWERP.

Die Bybel is ongelukkig nie so saamgestel dat ‘n mens net in die indeks kan kyk waar jy oor ‘n spesifieke onderwerp moet lees, na die bladsy blaai en dan alles oor daardie onderwerp lees nie. Daar is byvoorbeeld oral in die Bybel verse wat ons meer vertel oor God se genade. Soms is die woord genade nie eens in die vers nie, maar ‘n mens kry tog ‘n beter idee van hoe God se genade werk.

Dis waarom ‘n mens soveel as moontlik verse oor ‘n onderwerp moet lees sodat jy dit kan verstaan. Onthou net om die verse in konteks te lees, want anders kan jy dinge dalk heeltemal verkeerd verstaan.

Hier is drie maklike maniere om die verse wat jou meer oor ‘n onderwerp gaan vertel, op te spoor:

GEBRUIK ‘N KONKORDANSIE.

As jy nie ‘n konkordansie het nie (meeste mense het nie een op hulle boekrak nie!), moenie kommer nie. Daar is verskeie konkordansies op die Internet beskikbaar. Meeste is ongelukkig in Engels, maar dit is ook nie ‘n probleem nie. Jy kan steeds die onderwerp waaroor jy meer wil weet in die konkordansie opsoek en die toepaslike verse opspoor.

Sommige Bybels het ‘n mini-konkordansie agter in die Bybel. Dit sal jou ook help, so maak gebruik daarvan.

JOU BYBEL SE KRUISVERWYSINGS.

Daar is sommige Bybels wat kruisverwysings op elke bladsy het. Soms is dit aan die einde van elke bladsy, ander kere tussen die twee kolomme teks. Hierdie is ook ideaal om jou te help om verse te kry wat met mekaar verband hou.

GOOGLE DIT.

As jy nie regkom met een van die vorige metodes nie, kan jy altyd jou onderwerp google. Vra iets soos: Bybelverse oor genade. As dit nie werk nie en jy kry niks, probeer die vraag in Engels. Dit behoort jou sommer ‘n klomp webblaaie te gee waar jy verse oor die onderwerp kan kry.

LEES DIE VERSE ALTYD IN KONTEKS.

Creflo Dollar sê graag: “Take the text out of context and you are left with a con.

Dis maklik om ‘n vers verkeerd te interpreteer as jy dit nie in konteks lees nie. Maak dus altyd ‘n punt daarvan om die verse rondom jou vers ook te lees. Of, nog beter, lees sommer die hele hoofstuk.

GEBRUIK MEER AS EEN VERTALING.

Die Bybel is oorspronklik in Hebreeus en Grieks geskryf en later deur mense in verskillende tale vertaal. Nie al die vertalings is ewe goed nie en soms gebeur dit dat ‘n vertaler die kat heeltemal aan die stert beet kry.

Dis dus ‘n goeie idee om die gedeeltes wat jy studeer in meer as een Bybelvertaling te lees. Dit sal jou help om te sien of die vertaling wat jy altyd gebruik inpas by wat die groot meerderheid Bybelkenners sê die teks beteken.

In Afrikaans het ons nie so baie verskillende vertalings nie, maar jy kan ‘n Engelse een of twee ook gebruik as jy lus is. Maak gerus ‘n draai by die Bybelgenootskap se webblad as jy nie ander Bybelvertalings het nie. Daar is sommer ‘n hele klomp verskillende vertalings waaruit jy kan kies.

VRA VRAE OOR DIE TEKS.

Om vrae te vra oor die teks kan jou help om dinge raak te sien wat jy dalk andersins sou gemis het.

Gebruik vrae soos:

Wie is die skrywer?
Vir wie is die gedeelte geskryf?
Waaroor gaan die gedeelte wat ek gelees het?
Wat leer ek oor God of Jesus uit dié gedeelte?
Is daar ‘n les of lesse wat ek uit die gedeelte kan leer?
Is daar spesifieke instruksies in die gedeelte wat ek moet volg?
Sien ek ‘n positiewe voorbeeld wat ek kan volg of ‘n negatiewe een wat ek liewer moet vermy?
Watter positiewe veranderinge kan ek in my lewe maak as gevolg van wat ek in die gedeelte geleer het?

GEBRUIK BYBELKOMMENTARE OM JOU TE HELP.

Daar is sommer ‘n hele klomp Bybelkommentare beskikbaar wat jou kan help om die teks beter te verstaan. Maar ek stel voor dat jy eers die teks self studeer en laaste kyk na wat die kommentare daaroor sê.

As jy by ‘n kommentaar begin, gaan jy nooit leer om self die Bybel te studeer en die teks te verstaan nie.

Jy kan kommentare koop of sommer aanlyn daarna kyk. Een oulike blad, wat baie kommentare het, is Studylight.org. Die kommentare is in Engels, maar dit sal jou beslis help in jou studies.

LEES ARTIKELS OP DIE INTERNET.

Nog ‘n manier om ‘n onderwerp of skrifgedeelte beter te verstaan, is om te kyk wat ander daaroor te sê het. Hier is Google weereens jou beste vriend! Google die verse of onderwerp waaroor jy meer wil weet, en lees wat ander daaroor geskryf het. Maar wees versigtig! Soms is die artikels op die Internet nié die waarheid nie, maar net mense se opinies.

So lees wat ander skryf, maar vergelyk dit met die Bybel sodat jy weet of dit waar is of nie. In Handelinge 17 lees ons van gelowiges wat nie sommer alles wat Paulus en Silas gesê het, vir soetkoek opgeëet het nie. Hulle het na hulle geluister en dan die Skrifte bestudeer om vas te stel of wat die apostels gesê het, die waarheid was.

Ons moet dieselfde doen. Maak dus seker jy studeer eers die gedeelte self, sodat jy ‘n goeie idee het van wat regtig daar staan. Dit sal dan makliker wees om raak te sien as iemand bietjie van die waarheid afwyk. Los dus altyd hierdie stap tot heel laaste.

OM SELF BYBELSTUDIE TE DOEN.

As jy elkeen van hierdie stappe volg en tyd daaraan spandeer, kan dit nogal ‘n lang proses wees. Maar dit maak nie saak nie. Jy hoef nie jou Bybelstudie oor ‘n spesifieke onderwerp in een dag af te handel nie.

Jy kan byvoorbeeld elke keer wat jy Bybelstudie doen, ‘n ander stap volg. Begin, natuurlik!, by stap een. Doen dan volgende keer stap twee, dan stap drie, ensovoorts. Onthou net om alles wat jy leer neer te skryf. Op dié manier kan jy elke keer weer gaan lees wat jy geskryf het om jou geheue te verfris. En as dit gebeur dat jy vir ‘n paar dae lank by een stap vashaak, dan is dit ook goed.

Moet nooit jou Bybelstudie afjaag nie. Spandeer soveel tyd aan elke stap soos wat jy nodig het. Dis belangrik dat jy weet, regtig weet, waaroor ‘n gedeelte gaan. Dis minder belangrik om dit van jou doen-lysie af te merk sodat jy kan aangaan met die volgende gedeelte of onderwerp.

As jy meer wil weet oor verskillende Bybelstudie-metodes, laai dan die gratis Bybelstudie-metode e-boekie af. Vul net jou inligting hieronder in en ek stuur vir jou die nodige sodat jy die boekie kan aflaai.

Deel hierdie blad

7 comments

  1. Hi Risa

    Ek is so dankbaar vir mense soos jy, baie dankie vir die inligting en advies. Ek is soos ‘n verlore siel wat net nie tot ruste kan kom met watter Bybelstudie om te doen nie. Ek glo mens moet die bybelstudie geniet so dit is belangrik om die regte advies en persoon te kry om mens te help. Ek gaan jou metodes volg en selfs as ek moet aankope doen om jou ook te ondersteun dan gaan ek dit doen. Baie baie dankie vir alles.

  2. Hi Risa baie dankie bybelstudie metodes en ander material ek waardeer dit sal donasie volgende week plaas God seen u ryklike Nicholas

  3. Hi Risa
    Ek wil so graag die bybel beter verstaan en ook versies wat ek kan bid uit die bybel uit..
    Baie dankie
    Gerna

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *