Die ‘WORD’ Bybelstudie Metode is ‘n maklike metode wat jou gaan help om te sien wat die Woord regtig sê.

Daar is sommer ‘n hele klomp Bybelstudie metodes wat ‘n mens in jou stiltetyd of studietyd kan gebruik. Sommige van hierdie metodes is makliker as ander. Daar is dié wat meer geskik is vir jou stiltetyd. Dan is daar ander wat dieper en in meer detail na die Woord kyk om te sien wat dit vir jou wil sê.
Verlede week het ons na die Swaard Bybelstudie Metode gekyk. Vandag gaan ons na nog ‘n maklike metodes, naamlik die ‘WORD’ Bybelstudie metode, kyk.
Die naam is ‘n Engelse akroniem wat jou gaan help om die verskillende stappe van die studiemetode te onthou.
Die akroniem staan vir:
W – Write
O – Observe
R – Relevant
D – Declare
Al is hierdie studiemetode ‘n maklike een, gaan dit jou steeds help om te sien wat die Bybel regtig sê.
STAP 1: GEBED.
Die heel eerste stap van elke studiemetode is om te bid en God te vra om jou te help.
Sonder Sy hulp gaan jy nie die waarhede in die Woord raaksien nie.
Jy gaan ook nie verstaan wat jy lees of weet hoe om dit in jou lewe toe te pas nie.
Dus begin ons altyd ons studietyd met gebed.
STAP TWEE: LEES.
Nadat jy gebid het, is dit tyd om die gedeelte wat jy wil studeer ‘n paar keer deur te lees.
Lees dit sommer in ‘n paar verskillende vertalings, as jy kan.
Maak ook ‘n punt daarvan om dit ten minste een keer hardop te lees.
Wanneer jy God se Woord hoor, wek dit geloof in jou hart. Daarom is dit belangrik om die gedeelte ook ‘n slag hardop te lees.
STAP DRIE: SKRYF.
Soos jy seker agtergekom het, is die eerste twee stappe van die ‘WORD’ Bybelstudie metode nie deel van die akroniem nie. Maar al is dit nie deel daarvan nie, moet dié twee stappe sommer altyd deel wees van elke Bybelstudie metode wat jy gebruik.
Nou kom ons uiteindelik by die akroniem uit!
Die eerste letter van die akroniem staan vir ‘Write‘.
Die volgende stap is dus om ‘n gedeelte, of ‘n vers wat vir jou uitstaan, in jou notaboek of joernaal te skryf.
Dit is gewoonlik juis die gedeeltes wat uitstaan, wat God gebruik om met ‘n mens te praat.

STAP VIER: NEEM WAAR.
Die tweede letter van die akroniem staan vir ‘Observe‘ of om waar te neem.
Dit beteken om te kyk presies wat in die gedeelte staan. Net soos in die ‘Inductive’ Bybelstudie metode, gebruik ‘n mens hiér die 5 W’s en ‘n H om jou te help vrae vra oor die gedeelte.
Hierdie vrae kan dinge insluit soos:
- Wie het die gedeelte geskryf? Vir wie is dit geskryf?
- Waaroor het die skrywer geskryf?
- Watter tipe literatuur is die gedeelte wat jy gelees het? Is dit deel van die wet, geskiedenis, evangelie, ensovoorts?
- Wanneer is die boek, waaruit die gedeelte kom wat jy gelees het, geskryf?
- Waar is die boek geskryf?
- Hoekom het die skrywer die boek geskryf?
STAP VYF: TOEPASSING.
Die derde letter van die ‘WORD’ Bybelstudie metode is ‘R’, wat staan vir ‘Relevant‘. In Afrikaans noem ons dit sommer ‘toepassing’.
Alles wat in God se Woord geskryf staan, is tot ons voordeel. In 2 Timotheus 3:16-17 staan daar: “Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”
Soms gaan God ‘n gedeelte gebruik om ons te wys waar ons die verkeerde ding glo. Dan gaan Hy vir ons wys wat ons eintlik veronderstel is om te glo.
Ander kere gaan Hy ‘n gedeelte gebruik om ons te wys waar ons verkeerd optree. En dan gaan Hy ons wys hoe ons veronderstel is om op te tree.
Hy kan ook ‘n gedeelte gebruik om ons te leer hoe om die lewensreis saam met Hom aan te pak en in geloof te lewe.
Om jou te help met die toepassing van ‘n gedeelte in jou lewe, vra die volgende vrae:
- Hoe kan jy die gedeelte persoonlik maak?
- Hoe kan jy dit toepas in jou daaglikse lewe?
- Wat sien jy in die gedeelte? Is daar teregwysing, ‘n instruksie of dalk bemoediging?
- Moedig die gedeelte jou aan om iets in jou lewe te verander?
- Hoe kan jy die gedeelte in jou lewe toepas sodat jy God verheerlik?
STAP 6: SPREEK DIT UIT.
Die laaste stap van die ‘WORD’ Bybelstudie metode is om die gedeelte oor jou lewe te bid en uit te spreek.
Hoe doen jy dit?
Weereens is daar ‘n paar vrae wat jy kan vra:
- Is daar ‘n belofte in die gedeelte? As jy ‘n belofte gekry het, spreek dit dan oor jou dag en lewe uit.
- Is daar teregwysing in die gedeelte? Moet jy op een of ander manier jou lewe verander? As jy so iets in die gedeelte gekry het, verklaar dan hardop dat jy dit gaan doen en ook hoe jy dit gaan doen.
- Was daar ‘n waarheid of bemoediging in die gedeelte? As daar is, spreek dit hardop oor jou lewe uit.
Jy gaan nie in elke gedeelte ‘n belofte of ‘n waarheid of bemoediging kry nie. Jy gaan ook nie altyd ‘n teregwysing kry wat jou aanmoedig om jou lewe te verander nie.
Maar wat jy ookal in die gedeelte wat jy studeer gekry het, spreek dit oor jou lewe uit of verander dit in ‘n gebed.
Jy kan selfs jou gebed ook neerskryf, sodat jy dit later weer kan lees.
BYBELSTUDIE METODE E-BOEK.
Die ‘WORD’ Bybelstudie metode is maar een van vele wat jy in jou studietyd kan gebruik.
As jy meer wil weet oor die verskillende Bybelstudie metodes, vul dan jou inligting hieronder in en laai die Bybelstudie Metode E-boek af. Daarin verduidelik ek tien maklike studiemetodes wat jy een na die ander kan gebruik, tot jy die regte een, wat vir jóú werk, gekry het.
Laai sommer nou die boekie af en begin vandag nog met die eerste metode!