DIE S.O.A.P.-METODE – IDEAAL VIR JOU STILTETYD

Die S.O.A.P.-metode - ideaal vir jou stiltetyd

Hier by Bybel En Gebed gesels ons gereeld oor studiemetodes wat jy kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Maar soms het mens ‘n maklike metode nodig wat jy kan gebruik wanneer jy net ‘n kort stukkie uit die Bybel in jou stiltetyd lees. Die S.O.A.P.-metode is ideaal hiervoor.

Net soos baie ander Bybelstudiemetodes, wat ‘n akroniem gebruik om jou te help om die stappe te onthou, is die S.O.A.P.-metode ook ‘n akroniem wat eintlik uit Engels kom. Dit staan vir:

S – Scripture (Skrifgedeelte)
O – Observation (Waarneming)
A – Application (Toepassing)
P – Prayer (Gebed)

As ons dit in Afrikaans vertaal is dit ongelukkig nie meer ‘n akroniem nie, maar omdat daar nie baie stappe is nie, is dit steeds maklik om te onthou.

HOE DIE S.O.A.P.-METODE WERK.

Die metode is ideaal vir jou stiltetyd. Omdat daar net vier stappe is wat jy moet volg, is dit ‘n goeie metode vir wanneer jy nie baie tyd het nie.

Maar jy kan dit ook gebruik wanneer jy Bybelstudie doen, veral as jy nog leer hoe om Bybelstudie te doen.

SKRIFGEDEELTE.

Begin deur ‘n kort gedeelte uit die Bybel te lees.

Jy kan dit hardop of saggies lees, net soos jy verkies.

Jy kan ook, as jy daarvan hou om ‘n joernaal te hou, die gedeelte in jou joernaal neerskryf.

WAARNEMING.

Die volgende stap is om te kyk wat die gedeelte nou eintlik sê.

Wat let jy op omtrent die verse wat jy gelees het?

Wat is die boodskap wat die skrywer in die stuk wou oordra?

Is daar ‘n vers, ‘n woord of woorde of dalk ‘n idee wat vir jou uitstaan?

Skryf al hierdie dinge ook in jou joernaal neer.

TOEPASSING.

‘n Goeie Bybelstudie-metode vra altyd die vraag: Hoe moet ek, wat ek geleer het, in my lewe toepas?

Dit is net wanneer ons, met die hulp van die Heilige Gees, vir God gehoorsaam en doen wat Sy Woord vir ons sê, dat ons regtig verander. Dis dán wanneer ons verander word sodat ons meer soos Jesus optree.

Die volgende stap is dus ook om te vra hoe jy dit wat jy geleer het, in jou lewe kan toepas.

Soms weet ‘n mens presies hoe jy dit moet toepas. Dink maar aan ‘n vers soos dié een in 1 Thessalonisebse 5:18: “…wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.”

Die vers sê sommer vir jou hoe jy dit moet toepas: wees in alle omstandighede dankbaar. Dit maak nie saak wat om jou aangaan nie, daar is altyd dinge waarvoor jy kan dankbaar wees. En jy moet vir God dankie sê vir daardie dinge.

Ander kere is dit nie so maklik om te sien hoe jy wat jy geleer het moet toepas nie.

Vra dus die Here om jou te wys hoe jy dit moet doen.

GEBED.

Die laaste stap is om te bid.

Bid vir jouself en vir andere. Vra veral die Heilige Gees om jou te help om dit wat jy geleer het, in jou lewe toe te pas.

As jy die stappe van die S.O.A.P.-metode volg, kom gebed laaste. Maar jy kan gebed ook gebruik soos ‘n mens boekstutte gebruik – begin met gebed en eindig met gebed.

DIE S.O.A.P.-METODE IN AKSIE.

Hier is ‘n voorbeeld van die S.O.A.P.-metode in aksie.

S – Jesaja 55:8-9: “Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here. “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne.”

O – As mens weet ek nie alles nie. Ek is nie altyd seker wat ek moet doen of hoe ek dit moet doen nie. Maar God weet alles, sien alles en kan alles doen. Hy weet presies wat ek moet doen, wanneer ek dit moet doen en hoe ek dit moet doen.

A – Omdat God alles weet en Sy manier die beste manier is, sal ek baie meer sukses in die lewe behaal as ek doen wat Hy vir my sê in plaas daarvan om my eie kop te volg.

P – Here, dankie dat U alles weet. Dankie dat U weet wat ek moet doen en hoe ek dit moet doen. Dankie dat U in U Woord vir my sê hoe ek moet leef. Help my asseblief deur U Gees om gehoorsaam te wees aan wat U my leer. Help my ook om te hoor wanneer die Gees my lei om iets te doen en dat ek dan gehoorsaam sal wees. Dankie dat ek sukses in die lewe kan behaal wanneer ek U volg.

‘N BONUS-STAP.

Noudat jy geleer het wat God vir jou deur ‘n gedeelte wil sê, en ook hoe jy dit in jou lewe kan toepas, is daar ‘n bonus-stap wat jy kan neem.

Deel dit wat jy geleer het met iemand anders.

Dit is bewys dat, as jy iets leer en jy vertel dit in jou eie woorde vir iemand anders, dan onthou jy wat jy geleer het beter.

So deel wat jy geleer het met iemand. Dis nie net vir jou voordelig nie, maar die ander persoon kan ook daaruit leer.

Maak dus ‘n punt daarvan om, voor jy klaarmaak met jou stiltetyd, te besluit vir wie jy daardie dag gaan vertel wat jy geleer het.

‘N GRATIS HULPMIDDEL.

Die S.O.A.P.-metode is maar een van metodes wat jy kan gebruik wanneer jy stiltetyd hou of Bybelstudie doen.

As jy op soek is na nog Bybelstudie-metodes, dan is die Bybelstudie-metode e-boekie die regte ding vir jou!

Vul net jou inligting hieronder in sodat jy die boekie gratis kan aflaai.

Druk dit uit en gebruik die metodes om jou te help om jou Bybel op ‘n maklike manier te studeer en meer oor God te leer.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Baie dankie vir die bemoediging, ek wil graag baie leer or die bybel en die regte gebed as dit benodig word. Koninlike groete

    1. Dit is sommer ‘n baie groot plesier. Jy sê dat jy meer wil leer oor die regte gebed as dit benodig word. Wat presies bedoel jy daarmee? Stuur sommer vir my ‘n e-pos na risa@bybel-en-gebed.co.za en vertel my. Dan sal ek beter weet hoe ek jou kan help.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *