
Het jy nie baie tyd om jou Bybel te bestudeer nie, maar jy wil dit graag doen? Of sukkel jy om lang gedeeltes in die Bybel te studeer? Dan is die BAAT-Bybelstudie metode net vir jou!
Dis ideaal om te gebruik wanneer jy ‘n kort gedeelte in die Bybel, of selfs net ‘n vers, wil studeer. En omdat dit in akroniem-vorm is, is dit lekker maklik om te onthou. Elke letter staan natuurlik vir ‘n ander woord. Die verskillende letters help jou om te onthou watter vrae jy moet vra terwyl jy met jou studie besig is.
Ons gaan vandag kyk na hoe die metode werk. Ons gaan ook ‘n kort gedeelte uit die Bybel saam studeer, sodat jy kan sien presies wat jy moet doen.
Die BAAT-Bybelstudie metode is een van die metodes in die Bybelstudie Metode E-boek. Jy kan dit gratis aflaai deur net jou inligting hieronder in te vul.
DIE BAAT-BYBELSTUDIE METODE.
Hierdie studiemetode gebruik oorspronklik die Engelse akroniem – IDEA. Dis dan ook die naam waaronder dit in die Bybelstudie Metode E-boek verskyn. Maar toe ek hierdie artikel begin skryf, het ek agtergekom ‘n mens kan ook ‘n Afrikaans akroniem met die letters maak. So, om dit vir jou makliker te maak, hier is die IDEA-studiemetode in Afrikaans!
Voor ons die studiemetode gaan gebruik, kom ons kyk net eers waarvoor elkeen van die letters staan.
B – die B staan vir Bepaal. Hier vra jy die vraag: Waaroor gaan die gedeelte?
A – die eerste A staan vir Aandui. By hierdie stap vra jy die vraag: Wat is die waarheid of wysheid wat die gedeelte aandui?
A – die tweede A staan vir Aanmoedig. Nou vra jy die vraag: Wat moedig die gedeelte my aan om te doen?
T – die T staan vir Toepassing. Hier vra jy jouself: Hoe kan ek die waarheid of wysheid in die gedeelte in my lewe toepas?
HOE OM DIE METODE TE GEBRUIK.
Noudat ons weet waarvoor elke letter staan, en ook watter vrae ons moet vra, kom ons doen ‘n vinnige Bybelstudie sodat jy kan sien presies hoe dit werk.
Omdat die metode ideaal is vir kort gedeeltes, gaan ons net ‘n paar verse uit Jakobus 1 studeer.
JAKOBUS 1:2-8.
Kom ons lees eers wat daar in Jakobus 1:2-8 staan:
Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval,
omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.
Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.
As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word.
Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie.
Hy is ‘n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.
Noudat ons die gedeelte gelees het, kom ons begin om die vrae van die BAAT-Bybelstudie metode te beantwoord.

B – BEPAAL.
Die eerste letter van die akroniem is die letter B. Dit staan vir Bepaal. Ons vra die vraag: Waaroor gaan die gedeelte?
Die gedeelte gaan oor versoekings, geloof, volharding en wysheid.
A – AANDUI.
Die tweede letter is die letter A, wat staan vir Aandui. Wat is die waarheid of wysheid wat die gedeelte aandui?
In hierdie gedeelte is ‘n hele paar waarhede.
Waarheid 1: Versoekings gaan kom. Dis ‘n manier waarop ons geloof getoets word.
Waarheid 2: God gee wysheid aan enige iemand. Dit maak nie saak wie jy is of wat jy gedoen het nie.
Waarheid 3: As jy nie in geloof vra nie, gaan jy nie kry wat jy gevra het nie.
Waarheid 4: Iemand wat twyfel is dubbelhartig en onstandvastig.
A – AANMOEDIG.
Die tweede A in die akroniem, BAAT staan vir Aanmoedig. Nou vra ons die vraag: Wat moedig die gedeelte my aan om te doen?
Kom ons gebruik die vier waarhede om te kyk wat ons aangemoedig word om te doen.
Die eerste waarheid is dat versoekings gaan kom om ons geloof te toets. In die gedeelte word ons aangemoedig om bly te wees Wanneer versoekings kom. Hoekom? Want dit gee ons die geleentheid om te volhard in geloof. Ons word dan ook aangemoedig om te volhard. Dit beteken ons bly vashou aan wat ons glo maak nie saak hoe sterk die versoeking is om te begin twyfel of op te hou om God te vertrou nie.
Die tweede waarheid is dat God wysheid gee aan enige iemand wat Hom daarvoor vra. Ons word dus aangemoedig om Hom te vra wanneer ons wysheid nodig het.
Die derde waarheid is dat ‘n mens nie ontvang wat jy van God vra as jy nie in geloof vra nie. Ons word dan ook aangemoedig om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel.
Die vierde waarheid is dat ‘n mens wat twyfel dubbelhartig en onstandvastig is. Weereens word ons aangemoedig om nie te twyfel nie. Dis net wanneer ons nie twyfel nie, wat ons standvastig is en kan bly volhard.
T – TOEPASSING.
Die vierde letter van die BAAT-Bybelstudie metode is die letter T. Dit staan vir toepassing.
Die enigste manier waarop ‘n mens gaan verander, is om dít wat jy uit die Bybel leer, in jou lewe toe te pas. Geen wonder Jakobus sê in die gedeelte net na die een waarna ons nou kyk, dat ons doeners van die Woord moet wees nie!
Na ons nou gekyk het waaroor die gedeelte gaan en wat ons daaruit kan leer, moet ons vra: Hoe kan ek dit wat ek geleer het, in my lewe toepas.
Elkeen van ons gaan ‘n ander antwoord op hierdie vraag hê omdat ons verskillende mense met verskillende omstandighede is.
Maar kom ek sê gou vir jou hoe ek reeds van die waarhede in my lewe toepas.
Ek moet God elke maand vertrou om in ‘n spesifieke finansiële behoefte te voorsien. Soms lyk dit asof dit nie gaan gebeur nie. Dis dán wanneer my geloof getoets word.
As dit lyk of God nie gaan voorsien nie, laat ek nie toe dat my emosies die oorhand kry nie. Ek word nie bang nie en ek bekommer my nie. Nee, ek is bly daaroor, want ek weet my geloof word getoets. Ek bly God vertrou. Ek hou vas aan elke belofte waar Hy sê Hy Hy sal voorsien. En ek vra Hom om my wysheid te gee. Is daar iets wat Hy wil hê ék moet doen wat die finansiële behoefte aan betref? As Hy my wys om iets te doen, dan doen ek dit.
En ek kan getuig dat daar nog nooit ‘n maand was waar God nié voorsien het nie. Dit het nie altyd gou gebeur nie, maar dit het altyd gebeur.
Sien jy hoe ‘n mens byvoorbeeld die waarhede in jou lewe kan toepas?
KORT MAAR KRAGTIG.
Hierdie is nie ‘n lang studiemetode nie, maar jy gaan beslis baie daaruit kry! As jy nie baie tyd het nie, doen dan net een letter op ‘n keer. Op dié manier gaan jy dalk ook meer leer as wat jou sou as jy te vinnig deur die teks werk.
As jy op soek is na nóg Bybelstudie metodes, moet dan nie vergeet om jou inligting hieronder in te vul en jou gratis e-boek af te laai nie.
