
Ons het gister die begin van ‘n nuwe jaar gevier. ‘n Nuwe jaar beteken vir meeste mense nuwe dinge. Dis ‘n nuwe begin, vol potensiaal en geleenthede. In die Bybel lees ons ook van nuwe dinge.
Kom ons kyk na ‘n paar daarvan.
LIEFDE EN ONTFERMING ALTYD NUUT.
Klaagliedere 3:22-24: Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.
As ons in die Bybel die geskiedenis van Israel lees, sal ons sien dat die Here se liefde nooit ophou nie. Selfs wanneer die volk van Hom af wegdraai, bly Hy vir hulle lief. Ja, Hy word kwaad vir hulle, maar Sy hart brand altyd van liefde vir Sy mense.
God se ontferming is ook altyd vars en nuut. Soos daar dag vir dag ‘n nuwe môre kom, so hou God se ontferming ook nie op nie.
Wat waar is van God in die Ou Testament, is ook waar van Hom in die Nuwe Testament. Hy verander nooit en daarom kan ons steeds soos Jeremia sê: God se troue liefde en ontferming, ken geen einde nie!
‘N NUWE LEWE.
1 Petrus 1:3-4a: Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan…
In hierdie gedeelte skryf Petrus oor die wedergeboorte van die mens.
Wanneer jy glo Jesus is die Seun van God en dat Hy vir jou sondes gesterf en weer uit die dood opgestaan het, maak die Heilige Gees jou God se kind.
As dít gebeur, het jy ‘n nuwe lewe.
Hierdie nuwe lewe is ‘n lewe waarin jy vir God as Vader kan ken. Dis ‘n lewe waar jy die tempel van die Heilige Gees is. En dis ook ‘n lewe waar jy die goeie werke wat God vir jou beplan het, met die hulp van die Heilige Gees kan uitleef.
‘N NUWE SKEPPING, ‘N NUWE GEES.
2 Korinthiërs 5:17: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.
In Christus is ek en jy nuwe skeppings. Ons is nie meer dieselfde mense as wat ons was voor ons wedergeboorte nie.
Voorheen was ons dood in ons sonde en oortredings, maar nou het God vir ons lewe gegee.
Hy het vir ons ‘n nuwe gees gegee, soos ons lees in Esegiël.
Esegiël 11:19-20: Ek sal vir hulle ‘n onverdeelde hart gee. ‘n Nuwe gees sal Ek in hulle binneste laat posvat. Ek sal die hart van klip uit hulle liggame verwyder, en Ek sal vir hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle my vaste voorskrifte sal volg en my beslissings sal nakom en uitvoer. Hulle sal vir My ‘n volk wees en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
Esegiël 36:26-27: Ek sal vir julle ‘n nuwe hart gee, ‘n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ‘n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer.
God raak ontslae van ons harde harte en gee vir ons, in die plek daarvan, sagte harte wat ontvanklik is vir Sy liefde en genade. Dis harte wat Hom en ander kan liefhê, net soos Hy ons liefhet.
‘N NUWE HEMEL EN AARDE.
Jesaja 65:17: Ja, Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie.
Openbaring 21:1-2: Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos ‘n bruid wat versier is vir haar man.
Iemand skryf oor hierdie gedeeltes dat ons soms die ou dinge, die vorige dinge, moet laat gaan.
God hou nie vas aan die hemel en aarde wat Hy eens geskep het nie. Nee, daar gaan ‘n dag kom waar Hy hierdie dinge laat gaan en ‘n nuwe hemel en aarde skep.
GOD DOEN NUWE DINGE.
Jesaja 43:18-19: Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek ‘n pad maak, in die wildernis riviere.
Hier in die Ou Testament lees ons dat God besig is om ‘n nuwe ding te doen.
Nuwe dinge beteken ons beweeg vorentoe. Dit beteken ons sit nie net en kyk na dit wat verby is nie, maar sien uit na dit wat kom.
Filippense 3:13-14: Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.
‘N NUWE MENS EN NUWE DENKE.
Efesiërs 4:21-24: Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.
Noudat ons weergebore is, behoort ons op ‘n nuwe manier te leef.
Dis dan ook wat Paulus ons in hierdie verse aanmoedig om te doen.
Ons moet die ou mens aflê en die nuwe mens aantrek. Maar hoe doen ons dit? Deur God toe te laat om ons denke te vernuwe. Ons lees dit ook in Romeine 12.
Romeine 12:2: Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.
‘n Nuwe mens moet anders dink. Wanneer hy anders dink, gaan hy anders optree.
Die manier waarop God ons denke vernuwe, is deur Sy Woord. Daarom moet ons gereeld tyd met Hom in die Bybel spandeer, sodat Hy ons kan leer om te dink soos Hy dink.
‘N NUWE MANIER VAN OPTREE.
Johannes 13:34-35: Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.
Jesus gee vir ons ‘n nuwe gebod, wat ons leer hoe ons as nuwe mense teenoor mekaar moet optree.
Net soos Hy ons liefgehad het, en Sy lewe vir ons afgelê het, moet ons ook ander liefhê en ons lewens vir hulle aflê.
Dit beteken nie ons moet vir hulle sterf, soos Jesus vir ons gedoen het nie. Dit beteken eenvoudig ons moet hulle behandel soos ons behandel wil word. Ons moet omgee vir ander en na hulle belange omsien, nes ons omsien na ons s’n. Ons moet dinge doen wat vir ander wys hoe God se liefde lyk, sodat hulle Hom in ons kan sien.
NOG NUWE DINGE.
Die nuwe dinge waaroor ons gesels het, is nie al nuwe dinge waarvan ons in die Bybel lees nie.
Hier is nog ‘n paar ‘nuwe dinge’ verse. Gebruik dit in jou Bybelstudie-tyd en kyk wat jy alles daaroor kan leer:
Jesaja 40:31: Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.
Jeremia 29:11: “Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle ‘n toekoms en hoop te gee.”
Openbaring 21:4-5: Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan. Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
Kolossense 3:9-10: Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.
Openbaring 5:9: Toe sing hulle ‘n nuwe lied: U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie.